16 Dae
haar huil het bedaar
maar in sy binneste is daar steeds
die stukkende ritme
van haar snikke wat ruk
die stilte
is ‘n weergalmende grot
teen die muur kap die klok die tyd
in fyn stukkies op
sy handpalm brand
soos ‘n wang
by die agtervenster
soek hy na verlore drome
in die sleurgaang van die ure
in die agterplaas hang die wasgoed
aan hulle arms en bene
druppend
soos afgeslagte diere
© Vincent Oliphant, 2025
