
Johann de Lange, De Kat-ete, laat ’80s.
Foto: Kaapse Paragrawe
Johann de Lange en “Ensovoort”
Ná my B.A. (Hons.)-jaar in Afrikaans het die gedagte by my, Renée Marais (gebore Van Zijl) en Johann de Lange ontstaan om ’n nuwe poësietydskrif op die been te bring waarin gedigte en artikels van gehalte voorop gestel sou word. Ek en Johann het by Die Perdeby en Vlieg ervaring opgedoen en Renée was voorgraads as B.A. (Mus.)-student die redakteur van Dolos, die letterkundige tydskrif van die studente van die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (onder streng beheer van verantwoordelike dosente).
Die eerste uitgawe van Ensovoort: ’n Tydskrif vir Poësie het in Junie 1981 verskyn met my (as redakteur) en Renée en Johann (as redaksielede). Die redaksionele medewerkers was Theunis Engelbrecht, Rachelle Greeff, Gerhard van den Heever en Johan van Wyk. Die eerste uitgawe het 16 bladsye beslaan en gedigte van onder andere my, Johann, Hennie Aucamp, Stephan Bouwer, Sheila Cussons, Theunis Engelbrecht, André le Roux du Toit, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Lucas Malan, Wessel Pretorius, Peter Snyders en Johan van Wyk bevat.
Die setwerk, uitleg en druk van Ensovoort is deur Promedia in Mitchellstraat in Pretoria-Wes gedoen, wat ook Die Perdeby gedruk en ek leer ken het toe ek Donderdagmiddae die kunsblad, wat nog met lood geset is, moes gaan proeflees.
Ons het 800 kopieë van Ensovoort laat druk, wat teen R1,30 stuk verkoop is. Een aand het ek en Renée die sanger en liedjieskrywer Koos du Plessis vlugtig in die nagkantoor by Hoofstad in Mitchellstraat ontmoet toe ons die tydskrif kort voordat ek met my diensplig in Julie 1981 sou begin, daar gaan afgee het. Koos het belangstellend deur die tydskrif geblaai en wou weet waar ons geld vir die drukwerk gekry het. Hy het moontlikhede vir steun genoem.
Daarna het ons dié aand van woonstelblok na woonstelblok in Sunnyside gegaan en 19 tydskrifte verkoop. Posbestellings was goed en ’n besoek aan die posbus meermale vol verrassings. Kort voor lank was daar intekeninge van bekendes soos I.D. du Plessis, Etienne Leroux, Charles Malan, D.J. Opperman, J.C. Steyn en Wilma Stockenström (ons lojaalste intekenaar, wat ver vooruit ingeteken het).
Mettertyd het pakke vol gedigte opgedaag van veral Theunis Engelbrecht en Pieter Uys (van wie ses gedigte in Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte [1999] opgeneem is), elkeen met ’n eie talent wat op verskillende maniere sou ontwikkel. Eendag het ek terwyl ek en Renée in Les Marais gewoon het vir Pieter Uys[1] aan Johann probeer voorstel, maar Johann het om een of ander rede geen erg aan hom gehad nie.
Opperman, wat ek in Julie 1980 vlugtig tydens die universiteitsvakansie op Stellenbosch in die poskantoor ontmoet het (en my later verwar het met Daniel Hugo wat onder prof. Grové by die Universiteit van Pretoria aan ’n verhandeling oor hom gewerk het!), en I.D. du Plessis, wat ek enkele maande voor sy dood in Desember 1980 in sy woonstel in Koningin Victoriastraat in Kaapstad ontmoet het, se tjeks was vir my te kosbaar om te wissel. Opperman se intekening is enkele dae voor sy beroerte gepos.
Ook baie kosbaar was die lof wat Charles Malan van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) en J.C. Steyn vir die tydskrif gehad het en ons met selfvertroue laat voortgaan en vir ons verdere betrokkenheid by die letterkunde positiewe vrugte afgewerp het.
Sedert die tweede nommer van Ensovoort het die fokus op ’n bepaalde skrywer geval en tussen 1981 en 2007 is dit onderskeidelik gedeeltelik of in die geheel gewy aan Johan van Wyk, Jeanette Ferreira, André le Roux du Toit (later Koos Kombuis), T.T. Cloete, Johann de Lange, Wilma Stockenström, Sheila Cussons, Bonaventure Hinwood, Patrick J. Petersen, die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands, die rondreis in 1996 van agt Nederlandstalige skrywers ná die einde van die kulturele boikot, George Weideman, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (NALN) en akademiese geletterdheid.
Die laaste klompie nommers van Ensovoort, wat as “little magazine” begin het, is danksy prof. Albert Weideman van die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid van die Universiteit van Pretoria se inisiatief, as geakkrediteerde uitgawes gepubliseer en streng eweknie-evaluering is gevolg. Dwarsdeur Ensovoort se bestaan was die keuring van bydraes deeglik, die redigering en proefleeswerk voortreflik (veral deur Renée), sodat hoë publikasiestandaarde gehandhaaf is.
Johann was aan die begin van die 1980’s betrokke by die keuring en het goeie bydraes gewerf. Figure wie se samewerking verkry is, was onder andere Sheila Cussons, Casper Schmidt (wat Johann later op sy enigste buitelandse reis na die Verenigde State van Amerika en New York laat gaan het) en Wilma Strockenström. Johann het sy band met Schmidt tot en met sy dood behou en met Cussons en Stockenström dit uitgebrei en gekoester. Vir hulle was Johann ’n steunpilaar en vir Sheila en veral Wilma ’n voortreflike vertaler.
Ná die publikasie van die tweede nommer van Ensovoort (met Johan van Wyk op die voorblad) het Johann ’n bespreking van die tydskrif met kritiek op van die bydraes onder die skuilnaam M.L. Bradford in Die Perdeby geplaas,[2] waaroor ek gefrons het omdat hy self by die werwing en keuring van bydraes betrokke was. Johann het egter aanspraak gemaak op sy vryheid om sy mening te mag lug. Die krapperigheid oor die rol van redaksielede is later uitgestryk.
Ensovoort was, ten spyte van die soms sporadiese verskyning, verrykend vir dié wat daarby betrokke was en daarin gepubliseer het en ’n stewige bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Ons was deel van ’n era van bewuswording, ontdekking en groei toe ons moedig verskillende publikasiemoontlikhede ondersoek en benut het. Daar was ook die behoefte om addisionele publikasiekanale vir jonger skrywers te skep. Dit was nietemin steeds ’n eer om in die gevestigde Standpunte of Tydskrif vir Letterkunde te publiseer, maar “little magazines” soos Die “Tagtiger”, Graffier, Spado en Taaldoos was stimulerende forums.
In Ensovoort het ons die klem op die meriete van bydraes geplaas en ook ouer, gevestigde skrywers se werk gepubliseer. In reaksie op die poësie van die vorige dekade het die generasie wat ewe teësinnig as die “Tagtigers” bekend geword het (’n tipering wat nie werklik bly kleef het nie) en digters soos T.T. Cloete, Johann de Lange, Daniel Hugo, Lucas Malan, Johann Lodewyk Marais en Pieter van der Lugt ingesluit het, meer gedissiplineerde gedigte geskryf en met digsoorte geëksperimenteer.
Hoe betekenisvol Ensovoort vir onder andere my en Johann was, blyk uit Kannemeyer se bespreking van ons (enigsins verminderend) onder “die digters van die little magazines” in Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1652–1987, pp. 465–468.
’n Belangrike geleentheid vir Ensovoort was die oorhandiging op 5 Julie 1984 van die spesiale nommer oor T.T. Cloete vir sy 60ste verjaardag op 31 Mei 1984 by die Noord-Transvaalse Kunsvereniging op die 32ste vloer van die Volkskas-hoofgebou (later ABSA) in Pretoria.
Wye medewerking is vir die uitgawe bekom, maar dit was ook die groot en entoesiastiese bywoning van die geleentheid wat my bybly. Daardie aand het van die jonger skrywers soos Johann, Lucas Malan en Joan Hambidge saam gekuier. Dit was ’n voorreg om feestelik saam met Cloete, sy gesin[3] en bekendes soos Martjie Bosman, Elize Botha, Heilna du Plooy, Francis Galloway, Charles Malan, Réna Pretorius, Karel Prinsloo, Koos Prinsloo, Jacques van der Elst en Hein Viljoen te verkeer. Johann se hulp en entoesiasme het tot die sukses bygedra – dié geleentheid wat so ruimhartig by die kunsvereniging deur regter Frikkie Eloff, die voorsitter, die kunstenaar Bettie Cilliers-Barnard en die galerybestuurder, Coba Diedericks, moontlik gemaak is. Ek het ’n rekening vir die aand se verversings en drank verwag, maar ons het nie nodig gehad om enigiets te betaal nie.
Daardie aand het ’n ouer en jonger generasie letterkundiges, skrywers en digters mekaar ontmoet en beter leer ken. Dit was ’n betekenisvolle sameloop.
Wanneer Charl-Pierre Naudé meer as twee dekades later in ’n rubriek die bejaarde digter T.T. Cloete beskuldig van ’n “sg. fascistiese ingesteldheid” tydens ’n huldigingsgeleentheid vir hom op Stellenbosch wat die rubriekskrywer nie self bygewoon het nie, reageer De Lange soos volg:
Om ’n persoon, énige persoon, wie se geboortedatum hom of haar binne ’n bepaalde tydsgewrig plaas, van fascisme te beskuldig, is opportunisties & kwaadwillig. En Naudé se ingooi van ’n ongesubstansieerde literêre uitspraak deur ‘’n jong (vroulike) Afrikaanse skrywer/uitgewer’ oor Cloete se jongste bundel, bewys heel duidelik sy kwaadwillige bedoelings met die rubriek. As mense uitsprake wil maak oor openbare figure – al is dit tweedehands – moet hulle ten minste die balls hê om dit nie anoniem te doen nie. (Johann de Lange, Arende & vlieë. ⟩johanndelange.blogspot.com/search/label/Johann%Lodewyk%20marais%20/⟨
[1] Kyk Johann Lodewyk Marais, “Pieter Uys (1956–2022)”, ⟩https://www.litnet.co.za/pieter-uys-1956-2022/⟨
[2] M.L. Bradford (pseud. Johann de Lange), “Doe zo voort”, Die Perdeby 38(8), 23 April 1982, p. 10.
[3] Cloete se dogter, Thea, het by die geleentheid van sy getoonsette gedigte gesing.

Baie interesssant – ook dat ons deur die groot digter as dubbelgangers beskou is!