
Toe ek Johann de Lange leer ken het, het hy saam met sy ouma in ’n tweeslaapkamerwoonstel op die tweede verdieping van die Los Angeles-woonstelgebou in Troyestraat in Sunnyside gewoon en later na ’n woonstel op die sesde verdieping in die besige Paul Krugerstraat in die middestad van Pretoria verhuis waar foto’s en plakkate van C. Louis Leipoldt, James Dean en Marilyn Monroe die mure vol gehang het.
Ná Johann se bouerpa Leonardus C. de Lange (1936–1975) se selfmoord en sy ma, Grace Helen Griffin (1941–2019), se gereelde afwesigheid, het sy ouma Christina Johanna Martha (1907–1998) haar oor hom ontferm en saam met hom van familie na familie rondgetrek tot hulle in die woonstel in Pretoria kom woon en sy vir hom gesorg het. Oor sy ma het Johann min gepraat en ek het net sy suster, Antoinette, eenkeer vlugtig by hom gesien.
Wanneer ek geskakel het, het sy ouma, wat swaar beweeg het, altyd ná ’n kort, vriendelike gesprek “die kind” geroep, en hom soms Kas genoem. In die netjiese woonstel met parketvloere was ’n groeiende versameling boeke en videos wat sy kosbare besitting was (’n deel daarvan is later aan die Universiteit van Venda se biblioteek verkoop), ’n groot, swaar lessenaar en ’n elektriese tikmasjien waarop hy baie vinnig kon werk.
In Johann se tikmasjien was daar byna altyd ’n gedig waarmee hy besig was – deel van ’n groeiende versameling van honderde en later selfs duisende gedigte (wat hy destyds genommer het soos hulle ontstaan het).
Vir my aardig in die woonstel was die kopbeen wat op een van die boekrakke gestaan het (en een aand glo misterieus daar afgeval het). Die kopbeen was ’n geskenk van ’n mediese student. Danksy ’n kennis het hy ook nadoodse ondersoeke en een of twee operasies bygewoon en na lyke in die Mediese Fakulteit van die universiteit gaan kyk. ’n Uitstappie waartydens Johann en onder meer sy neef Daniël een aand verspotte en redelik makabere foto’s tussen grafte geneem en by Kodak vir ontwikkeling ingegee het, is met ’n waarskuwing om dit nie weer te doen nie teruggehou.
Reeds in daardie stadium het Johann ’n bedrywige nagtelike sosiale lewe gehad en klaarblyklik sy gay fantasieë uitgeleef. Ek het hom een of twee keer na ’n kroeg in die middestad vergesel en van sy vriende ontmoet. Dit het my opgeval dat Johann nooit alkohol gebruik het nie (moontlik na aanleiding van sy pa se gebruik van dwelms en alkohol). Hy het my ook tydens een van hierdie uitstappies vertel watter rol die “spel van oë” in die kroeg speel.
© Johann Lodewyk Marais, 2025

Ek geniet die artikelreeks oor Johann verskriklik baie. Baie interessant. Dankie daarvoor.