liefdesgedig vir wikinge
lank lank gelede toe die sterre nog
sterre was
die suiderkruis nog onbekend
klief ons voorouers se boeë die golwe
geskiedenis sproeireën in letters
op ons
gesigte soos uit oppermaan se nartjie
in hierdie ondermaanse vra ek in noord-germaans
vir my bruinooggade
sal jy vir my ’n seun
baar
met ’n vlymskerp brein
om te kan oorleef in die rooi stof
waar beeste gemartel bulk en bloei
ja sê sy soos water wat klots
’n vlugge glimlag ’n hele verhaal
un libro di storia
hanse
tussen stede vloei bote mense en fonetiek
soos wier dryf haar hare in my gedagtes
in ’n droë land
sy knabbel saggies aan my oorskulp
haar asem roep soos veraf seë
na my
ons
dag is woensdag in stockholm eilandstad
eilande van water
het my onderwyser gesê
eendag in braamfontein in ’n hoë woonstelgang
bloemfontein bapsfontein magersfontein
la fonteyne skryf ’n fabel
faboela en sijoesjet wladimir se
propp
is engels vir verhoogrekwisiet
sijoesjet martel faboela
sê derrida
op ’n wintersdag
is my kind(ers) gebore ligstraaltjies
spreekwoordelik
afrikaans en wes-germaans noordelik
dus ’n transvaalse stad
bloed is dikker as water
© Dan Roodt, 2025
