longyearbyen
al stam ons almal af van
van riebeeck se standbeeld in die heerengracht
koue brons deur eeue bewaar soos
’n voc-argief bevrore
is daar ook nog willem
van die barentszsee
op sy derde noordreis in 1596
met die witte swaen
ontdek hy die nuwe land
niemandsland
spitsbergen
eilande van ysgrond
svalbart
die koue kuste
hier tussen vierduisend jaar oue gletsers woon
deesdae steeds minder mense
as ysbere
die dra van wapens is wetlik verplig
al is die eiland misdaadloos
sterf mag mens nie
ook nie geboorte skenk nie
al word twintig miljoen sade
vir die nageslag
in geenbanke bewaar
graag wil ek my ouma se
spesiale lemmetjie op haar plaas
in die rustenburgdistrik gaan soek
om op spitsbergen te
bank
dalk ook my gunstelingaartappel
die poolnag duur vyf maande
terwyl die noorderlig
die hemel
groen en pers
soos stille weerlig skilder
geen boom groei hier nie
die lug is woestyndroog
op spitsbergen mag enigiemand woon
ongeag vaderland visum of permit
’n koel utopie
wit
soos sneeu
soos die swaan
tussen ysberge langsaam vaar
slagoffers van die 1918-griep
bewaar hul eeu oue kiem
in hul grondysgrafte
soos ingeprente woorde
in die russiese spookdorp
pyramiden
bly ‘n klavier agter
verstar verlate
kompleet met bladmusiek
note geluidloos soos
ysbeerspore in die sneeu
twintig miljoen sade vir tweeduisend
inwoners op die dorp doen
inkopies drink koffie
vroue laat stootwaentjies
met elders gebore
babas
sorgeloos buite winkels of kafees
in minustemperature
’n wikinggewoonte soos orals in skandinawië
slapende kindergesiggies hiberneer
die witte swaan het korrels saad laat val
soos onbeantwoorde liefde
vier keer het sy nee gesê
soos ysgrond verseg om te smelt
die vlerkgeklapper van die wilde swane
maak die digter hartseer
was hy maar meer begeester
met liefde vir sy vaderland
die reis na ’n eie land
is moeisamer as die ystrek
oor groenland
of die boottog na die barentszsee
© Dan Roodt, 2025
