Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
12 December 202512 December 2025

Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk

 

Die Evangelies-Lutherse Christuskirche in Windhoek het ek van Suidwes-Afrika se seëls leer ken. Die kerk is op ’n helling in Sentraal-Windhoek in die nieu-romantiese styl met sandsteen uit die omgewing gebou. In die gewelfde sygewels en boogvensters is elemente van die “Jugendstil”-styl. Bouwerk aan die kerk het in 1907 begin en die kerk is op 16 Oktober 1910 ingewy.

Ons het tydens ’n besoek saam met my oom Les Leite vinnig na die beeldhouer Adolf Kürle se groot ruiterbeeld gaan kyk, wat nou met Duits-Suidwes-Afrika se bloedige en omstrede verlede verbind word. Die inisiatief vir die Herero War Memorial of “Rider of South West Africa” het van kolonel Ludwig von Estorff gekom ter nagedagtenis aan die Duitse soldate wat tydens die Herero- en Nama-opstand van 1903 tot 1907 en die Kalahari-ekspedisie van 1908 hulle lewens verloor het.

Volgens die kunshistorikus Alexander Duffey is opdrag vir die beeld aan die Duitse beeldhouer Adolf Kürle (1865–1912) gegee. Hy het in Berlyn ’n twee maal lewensgrootte beeld gemaak. Dit is per skip na Swakopmund gestuur en op 27 Januarie 1912, keiser Wilhelm II se verjaardag, tussen die Evangelies-Lutherse Christuskirche en die Alte Feste, wat deur die Schutztruppe as militêre vesting opgerig is, onthul. Kürle het van Duitsland af gekom vir die plasing van die beeld op ’n voetstuk van graniet wat in Suidwes-Afrika verkry is. Duffey beskryf die beeld soos volg:

This equestrian statue is an idealized representation of a typical German colonial cavalryman of the beginning of the century. The alert rider sits erect in his saddle astride a standing horse and holds the reins firmly in his left hand, while his rifle is held ready in his right hand. The butt of the rifle rests on his right thigh. The rider has a large hat, the brim of which has been turned up on the right side, on his head, and jack-boots on his feet. He looks to his left while the horse, with ears cocked and nostrils dilated, looks to the right.

Windhoek se argitektuur weerspieël ’n sterk Duitse invloed. Die stad is vol geboue wat Duitse koloniale en Wilhelmina-style vertoon. Ander noemenswaardige strukture sluit in die Alte Feste-fort en die ou treinstasie, met steil dakke, versierde detail en soliede klipwerk. Hierdie geboue dra by tot Windhoek se mengsel van Afrika- en Europese argitektoniese erfenis.

Die aand ná my en my neef Norman se uitstappie in die stad, het ons om die etenstafel gesit. Oom Les het vir hom en tannie Bes Mellow-wood-brandewyn met water geskink.

 

Die groot, ronde cheddarkaas met ’n rooi skil wat hy uit die yskas gehaal het, het hy stewig op ’n houtbord laat rus. Hy het die kaas met styl begin sny – ’n elegante en byna onnavolgbare ritueel. Die kaasmes het gate in die lem gehad om te verhoed dat dit vassit. Hy het egalige, selfversekerde snye van die breë buitekant na die binnekant gemaak en elke sny het soos die vorige een gelyk. Die eerste skyfies met romerige goue binnekant en dun skil het hy in my bord gesit – seker omdat ek hom met soveel verwondering dopgehou het.

Ek het die kaas op my brood met botter, uie en tamatie geëet (tannie Bes het dit “tip-tip-eet” genoem as sy die sny van die messe op die borde hoor), asook wildevarkfrikadelle van my niggie Yvonne en haar man, Lukas Maree, se plaas Mareeville naby Okahandja.

Oom Les het oor die standbeeld begin praat waarna ek en Norman gaan kyk het:

“Daar word vertel toe die beeldhouer, Adolf Kürle, die ruiterbeeld voltooi het, was hy baie ingenome met sy werk. Hy het sy seun om sý mening gevra en gesê: ‘As jy ’n fout aan hierdie beeld kan kry, sal ek myself doodskiet.’ Die seun het lank na die beeld gekyk, na sy pa toe gedraai en gesê: ‘Die beeld se ruiter en die perd kyk in twee verskillende rigtings. ’n Goeie ruiter en perd werk in harmonie en kyk in dieselfde rigting.’ Die beeldhouer was verslae en het daardie aand selfmoord gepleeg.”

Kürle ís in 1912 dood. Hy was 47 jaar oud. Jare later sou hierdie moontlik apokriewe verhaal my bybly ten opsigte van kunstenaars wat na volmaaktheid strewe, maar maklik ontnugter word deur die eindproduk wat óf nie aan hul eie óf die publiek se verwagtinge voldoen nie. Iewers is daar dalk iets wat nie reg is nie of ’n gebrek of vergissing waarvan die kunstenaar nie bewus was nie. Dit het my laat besef dat ’n kunswerk nie noodwendig volmaak is of volmaak hoef te wees nie.

© Johann Lodewyk Marais, 2025

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Johann de Lange, iets oor SENSAL en die gay-tema

4e gedagtes oor “Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk”

  1. Daniel Hugo says:
    16 December 2025 at 15:29

    Nog iets oor die ruiter en perd. Hulle kyk in verskillende rigtings – ook ‘n storie uit my jeug – omdat die perd die gevaar sien of hoor, anders as die koloniale Duitse soldaat wat in die verkeerde rigting tuur.. Nie een van die twee het die ware gevaar voorsien nie: die onafwendbare verloop van die geskiedenis.

    Reply
    1. Johann Lodewyk Maris says:
      16 December 2025 at 22:27

      Baie dankie, Daniel en Jakes. Ek werk dié inligting met erkenning in my reisteks oor Namibië by.

      Reply
  2. Daniel Hugo says:
    15 December 2025 at 10:24

    Die verhaal wat ek in my Windhoekse jeugjare gehoort het, is dat die perd geen tepels het nie – wat blykbaar ook by hingste voorkom – en dat die beeldhouer selfmoord gepleeg het toe iemand hom daarop wys. Die beeld is lank reeds verwyder van sy trotse staanplek. Ek het dit ‘n paar jaar gelede gesien in die binnehof van die verwaarloosde Alte Feste – sonder voetstuk en sonder aansien.

    Reply
  3. Jakes Moller says:
    14 December 2025 at 08:16

    Beste Johann

    Dankie vir die interessante artikel. Ek herinner myself ‘n soortgelyke anekdote oor die Ruiterstandbeeld uit my tienerjare in Windhoek (1980’s). Volgens daardie weergawe was die beeld volmaak behalwe die bloedvate op die perd se buik, wat anatomies verkeerd geplaas was. Miskien moes ek ‘n veearts gevra het of dit wel die geval is. Groete, Jakes Möller

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d