Desembergedig
Somerliefde
Daar was ’n ontluikende somer
op die hakke van een van Namakwaland
se mooiste lentes.
En ons het pieknieks gehou
onder die sterre —
sterre
wat ons liefde sou naboots;
en drome in klein ligballonne geloods
op die vooraand van ’n kersgeboortefees.
Onthou jy?
O, hoe jou oë
altyd myne kon lees.
Ek onthou jou skaduwee,
so beskermend
teen die son se steek;
en ’n gelag,
in die koelte van vriendskap
en jonkwees geweek.
Jou lag
het my met vreugde deurdrenk —
ek wens ek kon dit toedraai
en hou as geskenk.
Want Namakwaland se lentes
bly altyd mooi,
en die hemelruim
vir ewig met sterre
uitgetooi.
Maar dié handjie vol herinneringe
vou ek toe
in ’n Desemberbrief —
’n glimlag vir die argief.
Vir jou
het ek meer as al die blomme
en sterre lief.
© Jasmine Johanneson, 2025
