Desembergedig
Oukersaand, Wellington
Vanaand sal die sangers voor die deur staan
daar waar ons in die gewone gang van dinge
dag na dag na buite gaan.
Die windspeelding se klingelinge
lei ons met geskenkie na die stoep
waar heelaand al die ooswind woed
uit die wyk van reisigers wys en lande ver.
Skinkborddoek gemaak met katoen en skêr,
daarop word die lafenis gebring
vir die jongmense wat die tyding sing.
Ons wat luister sal ook Coke-en-tert,
‘n koevertjie aangee vir die goeie werk.
Pastoor sal vra of ons ‘n vers versoek
en voorlees uit die Bethlehem-boek.
© Jaco Fouché, 2025
