Desembergedig
ER
noodgevalle op ‘n saterdagaand
twee dae na kersfees
die gewone gevalle
beseerdes beskonkenes gevallenes
my geval hartkloppings en borsbeklemming
die nurse doen die nodige
ekg
bloed getrek en gedruk
die wag vir die dokter
is ‘n verkleurman wat jag
ek wonder of ek reg is om te gaan?
geweeg geweeg te lig bevind?
is ‘n ongehoorsame kind nog altyd ‘n kind?
op die bed
pens groot ontbloot en wit
‘n seekat gryp my van voor
die nurse met die fris voorarms
verwys na my as die gentleman
ek skep moed
die dokter is nie te bekommerd
een merker is wel hoog
‘n verdere bloedtoets
word aangevra
as ek hier uitstap sal baie moet verander
maar ek word herinner aan die gesegde
van die jakkals en sy hare
© Stephan du Toit, 2025
