I
Desenlace (Ontknoping). Dit is die teoretiese begrip vir ontknoping of losmaak. Die bundel Lostorring van Jadrick Pedro (Turksvy Publikasies) aktiveer sowel die woord torring (moenie met my sukkel nie) as om iets los te torring. Dit is ‘n vroulike begrip wat herinner aan ‘n vrou wat haar stuk weefwerk of ‘n rok wat sy gemaak het, lostorring. Om van voor te begin.
Dit is ‘n bundel wat hierdie leser intens laat nadink het oor ongeregtighede: ‘n gay-spreker, ‘n verloopte mens wat gered word, gesprekke met die grootouers en in die slotvers “Hunkering na spraakvryheid” (59) word die hele kwessie van standaardafrikaans versus Kaaps en dialekte na vore gebring. Wat gebeur met ‘n bruin digter wanneer daar in standaardafrikaans geskryf word. Hy word uitgeskel as ‘n draadsitter of gatkruiper. Hierom hink hy tussen twee wêrelde.
II
Die homoseksuele gesprek word ook hier aangetref. En daar is ‘n versweë gesprek met Johann de Lange en Hennie Aucamp. En al die gay-manlike stemme …
Geheimhouding
van agter het jy
jou hande gevou
om my
my mond toegedruk
my kop in die grond gedruk
’n kloppende
ereksie
in my opgedruk
ek het gesê: “nee!”
ek wou skree
maar sag fluister jy:
“dit is ons geheim”
(31)
Hier dan die kwessie van molestering.
Ek
my lewe loop twee rye spore
die een in die ander verlore
manlik nie bevoeg nie
man, nie mans genoeg nie
die vervloekte kind
aan die moffiestigma gebind
trotseer die waarheid wat kom
met ’n treurige glimlag stom
maar voor ek sterk kon staan
gryp skadu’s my aan
met homofobiese haat
wat talle letsels laat
al is ek so gebore
in seksualiteit verlore
met stywe-pinkie-sindroom
flambojant en vroom
amper manlik, amper vroulik
is ek steeds sonder geluk
al hoe dieper in die kas gedruk
(12)
In hierdie distigon vind ons die hele kwessie van “playing the game” en hoe die gay-man alte dikwels in twee wêrelde leef, ten einde te kan oorleef.
Die lot van die gay-man wat verminder of bespot word, kom hier na vore. Die bundel onderstreep hoe identiteit gekoppel is aan gender en ras. En klas. Die ellendes van so ‘n bestaan beskryf in “Ontnugtering” (18) vol ironie verpak.
Haatspraak is steeds met ons.
III
In ‘n essay (“Les Fleurs du mal armé: Some Reflections on Intertextuality”) oor Mallarmé argumenteer wyle Barbara Johnson vir spesifieke gender-konstruksies in skryfwerk. Sy lees intertekstualiteit as interseksualiteit.
Hierdie professor in Frans aan Harvard Universiteit was ook ‘n vertaler van Jacques Derrida.
Haar insigryke studies oor die Ander bly steeds bakens.
En Aucamp se Hittegolf – wulpse sonnette met ‘n nawoord (Homeros, 2002) kom eweneens weer na vore.
“How many books are born out of sexual craving?” (Julian Green: Restless youth) is tersaaklik.
In Lostorring is daar soveel aangrypende gedigte wat ‘n mens tref soos “Lied van die sodomiet” (15) met sy Bybelse verwysings:
…
die mans wat die wet onderhoud
maar dan in stille nag
seuns gebukkend hou
met naasteliefde wat verkrag
Of “Die ek wat niemand ken nie” (15) met die ellende van pleegsorg en die letsels wat dit laat.
Liefde teenoor haat. Ambivalensie dus.
Die gesprekke met ander digters soos Antjie Krog se vers oor haar moeder word “Mamma, ons onthou” (26):
jou handsak ‘n skatkis vol onthou
Nini Bennett takseer die bundel tereg as volg:
Van die gedigte is eksplisiet en grafies, en Pedro draai geen doekies om nie – dit is juis die direkte en helder, ongefiltreerde skryfstyl wat die aandag vestig op die viktimisasie van seuns en mans. Dít is die uiteindelike spil waarom die bundel draai: ’n jongman, afkomstig uit ’n gemarginaliseerde gemeenskap en in ’n land waar daar soveel geweld teenoor kinders voorkom, “praat uit” oor die pyn van mishandeling wat hy as seun ervaar het. Onderliggend aan al hierdie trauma lê die ontgogeling van volwassewording. Die gedigte is geskryf as praatpoësie, met weinig digterlike tegniek afgesien van woordspel, metafore en soms terloopse rym.
https://versindaba.co.za/2025/10/24/resensie-lostorring-jadrick-pedro/ Besoek 13 Januarie 2025
Dit is ‘n bundel wat depressie aanspreek soos in “Swarthond” (42). Die digter sien homself as ‘n spreekbuis vir ander wat stemloos is. ‘n Plek waar daar meer drome as lyke begrawe lê (51).
Die bundel is sowel vir die teoretikus as die gewone leser. En dit is wat hierdie bundel so besonders maak. ‘n Bundel oor abandonment (verlating) én oorlewing.
IV
Die digter Jadrick Pedro se biografie lees as volg:
Jadrick Pedro (1994) is ’n digter van Ceres in die Wes-Kaap. Hy het reeds twee digbundels deur middel van selfpublikasie die lig laat sien. Gesamentlike bundels waarin sy werk opgeneem is, sluit in: Digterstemme 2020 (Minimal Press) en In woorde gebaar (Die Mengelmoesdigters). In 2021 is hy as die wenner van die Hugh Hodge Poetry in McGregor Award aangewys by die oop-mikrofoon-geleentheid vir sy gedig “Pa”. In 2022 behaal hy tweede plek in die Afrikaanse afdeling van Poetry in McGregor se digkompetisie. Hy deel graag sy werk by feeste soos die Tuin van Digters in Wellington en die Adam Small Fees in Pniel.
Lostorring
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250 (BTW ingesluit)
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025
ISBN: 978-1-997460-07-7
Joan Hambidge
Kaapstad
13 Januarie 2025
Bronne:
Aucamp, Hennie. 2002. Hittegolf – wulpse sonnette met ‘n nawoord. Kaapstad: Homeros.
Aucamp, Hennie. 1990. Wisselstroom. Homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns -‘n Bloemlesing. Kaapstad: Human & Rousseau.
Austen, Roger. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.
Barthes, Roland. 1970/ 1974. S/Z. An essay. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Miller.
Bullough, V. en B.. 1993. Cross dressing, sex and gender. Philadelphia: University of Pensylvania Press.
Johnson, Barbara. 1987. “Les Fleurs du mal armé: Some Reflections” in Harold Bloom (red.) Stéphane Mallarmé – Modern critical views. New York: Chelsea House Publishers.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.

Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek.
Want die digter het. En as standaardafrikaans ‘n wansmaak in die mond laat, laat dit so wees.
In Amerika berig dosente dat daar nou heelwat eerstejaars op die banke sit wat nog nooit ‘n boek deurgelees het nie. Studente vind dit ook kognitief moeilik om volsinne te “hanteer”.
“Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.