Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
13 January 2026

Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

 

I

Desenlace (Ontknoping). Dit is die teoretiese begrip vir ontknoping of losmaak. Die bundel Lostorring van Jadrick Pedro (Turksvy Publikasies) aktiveer sowel die woord torring (moenie met my sukkel nie) as om iets los te torring. Dit is ‘n vroulike begrip wat herinner aan ‘n vrou wat haar stuk weefwerk of ‘n rok wat sy gemaak het, lostorring. Om van voor te begin.

Dit is ‘n bundel wat hierdie leser intens laat nadink het oor ongeregtighede: ‘n gay-spreker, ‘n verloopte mens wat gered word, gesprekke met die grootouers en in die slotvers “Hunkering na spraakvryheid” (59) word die hele kwessie van standaardafrikaans versus Kaaps en dialekte na vore gebring. Wat gebeur met ‘n bruin digter wanneer daar in standaardafrikaans geskryf word. Hy word uitgeskel as ‘n draadsitter of gatkruiper. Hierom hink hy tussen twee wêrelde.

 

II

Die homoseksuele gesprek word ook hier aangetref. En daar is ‘n versweë gesprek met Johann de Lange en Hennie Aucamp. En al die gay-manlike stemme …

 

Geheimhouding

 

van agter het jy

jou hande gevou

om my

my mond toegedruk

my kop in die grond gedruk

’n kloppende

ereksie

in my opgedruk

 

ek het gesê: “nee!”

ek wou skree

maar sag fluister jy:

“dit is ons geheim”

(31)

 

Hier dan die kwessie van molestering.

 

Ek

 

my lewe loop twee rye spore

die een in die ander verlore

 

manlik nie bevoeg nie

man, nie mans genoeg nie

 

die vervloekte kind

aan die moffiestigma gebind

 

trotseer die waarheid wat kom

met ’n treurige glimlag stom

 

maar voor ek sterk kon staan

gryp skadu’s my aan

 

met homofobiese haat

wat talle letsels laat

 

al is ek so gebore

in seksualiteit verlore

 

met stywe-pinkie-sindroom

flambojant en vroom

 

amper manlik, amper vroulik

 

is ek steeds sonder geluk

al hoe dieper in die kas gedruk

(12)

 

In hierdie distigon vind ons die hele kwessie van “playing the game” en hoe die gay-man alte dikwels in twee wêrelde leef, ten einde te kan oorleef.

Die lot van die gay-man wat verminder of bespot word, kom hier na vore. Die bundel onderstreep hoe identiteit gekoppel is aan gender en ras. En klas. Die ellendes van so ‘n bestaan beskryf in “Ontnugtering” (18) vol ironie verpak.

Haatspraak is steeds met ons.

 

III

In ‘n essay (“Les Fleurs du mal armé: Some Reflections on Intertextuality”) oor Mallarmé argumenteer wyle Barbara Johnson vir spesifieke gender-konstruksies in skryfwerk. Sy lees intertekstualiteit as interseksualiteit.

Hierdie professor in Frans aan Harvard Universiteit was ook ‘n vertaler van Jacques Derrida.

Haar insigryke studies oor die Ander bly steeds bakens.

En Aucamp se Hittegolf – wulpse sonnette met ‘n nawoord (Homeros, 2002) kom eweneens weer na vore.

“How many books are born out of sexual craving?” (Julian Green: Restless youth) is tersaaklik.

In Lostorring is daar soveel aangrypende gedigte wat ‘n mens tref soos “Lied van die sodomiet” (15) met sy Bybelse verwysings:

…

die mans wat die wet onderhoud

maar dan in stille nag

seuns gebukkend hou

met naasteliefde wat verkrag

 

Of “Die ek wat niemand ken nie” (15) met die ellende van pleegsorg en die letsels wat dit laat.

Liefde teenoor haat. Ambivalensie dus.

Die gesprekke met ander digters soos Antjie Krog se vers oor haar moeder word “Mamma, ons onthou” (26):

 

jou handsak ‘n skatkis vol onthou

 

Nini Bennett takseer die bundel tereg as volg:

Van die gedigte is eksplisiet en grafies, en Pedro draai geen doekies om nie – dit is juis die direkte en helder, ongefiltreerde skryfstyl wat die aandag vestig op die viktimisasie van seuns en mans. Dít is die uiteindelike spil waarom die bundel draai: ’n jongman, afkomstig uit ’n gemarginaliseerde gemeenskap en in ’n land waar daar soveel geweld teenoor kinders voorkom, “praat uit” oor die pyn van mishandeling wat hy as seun ervaar het. Onderliggend aan al hierdie trauma lê die ontgogeling van volwassewording. Die gedigte is geskryf as praatpoësie, met weinig digterlike tegniek afgesien van woordspel, metafore en soms terloopse rym.

https://versindaba.co.za/2025/10/24/resensie-lostorring-jadrick-pedro/  Besoek 13 Januarie 2025

Dit is ‘n bundel wat depressie aanspreek soos in “Swarthond” (42). Die digter sien homself as ‘n spreekbuis vir ander wat stemloos is. ‘n Plek waar daar meer drome as lyke begrawe lê (51).

Die bundel is sowel vir die teoretikus as die gewone leser. En dit is wat hierdie bundel so besonders maak. ‘n Bundel oor abandonment (verlating) én oorlewing.

IV

Die digter  Jadrick Pedro se biografie lees as volg:

 

Jadrick Pedro (1994) is ’n digter van Ceres in die Wes-Kaap. Hy het reeds twee digbundels deur middel van selfpublikasie die lig laat sien. Gesamentlike bundels waarin sy werk opgeneem is, sluit in: Digterstemme 2020 (Minimal Press) en In woorde gebaar (Die Mengelmoesdigters). In 2021 is hy as die wenner van die Hugh Hodge Poetry in McGregor Award aangewys by die oop-mikrofoon-geleentheid vir sy gedig “Pa”. In 2022 behaal hy tweede plek in die Afrikaanse afdeling van Poetry in McGregor se digkompetisie. Hy deel graag sy werk by feeste soos die Tuin van Digters in Wellington en die Adam Small Fees in Pniel.

 

Lostorring

Uitgewer: Turksvy Publikasies
Prys: R250 (BTW ingesluit)
Eerste uitgawe, eerste druk, 2025
ISBN: 978-1-997460-07-7

 

Joan Hambidge

Kaapstad

13 Januarie 2025

 

Bronne:

Aucamp, Hennie. 2002. Hittegolf – wulpse sonnette met ‘n nawoord. Kaapstad: Homeros.

Aucamp, Hennie. 1990. Wisselstroom. Homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns -‘n Bloemlesing. Kaapstad: Human & Rousseau.

Austen, Roger. 1977.  Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

Barthes, Roland. 1970/ 1974. S/Z. An essay. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Miller.

Bullough, V. en B.. 1993. Cross dressing, sex and gender. Philadelphia: University of Pensylvania Press.

Johnson, Barbara. 1987. “Les Fleurs du mal armé: Some Reflections” in  Harold Bloom (red.) Stéphane Mallarmé – Modern critical views. New York: Chelsea House Publishers.

Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Oor en weer
Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty” →

2e gedagtes oor “Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk”

  1. Jacobus Swart says:
    14 January 2026 at 05:29

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek.
    Want die digter het. En as standaardafrikaans ‘n wansmaak in die mond laat, laat dit so wees.

    In Amerika berig dosente dat daar nou heelwat eerstejaars op die banke sit wat nog nooit ‘n boek deurgelees het nie. Studente vind dit ook kognitief moeilik om volsinne te “hanteer”.

    Reply
  2. Bernard Odendaal says:
    13 January 2026 at 20:40

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d