I
Goedskiks dertig jaar gelede het George Steiner ‘n lesing by Unisa gegee en wyle Elize Botha het my vertel dat ná die lesing was daar volledige stilte in die ouditorium. Om met so ‘n denker te ontmoet, nooi geen polemiek of vrae uit nie. ‘n Mens is dan bewus dat hier is ‘n werklike intellektueel. Op een van my reise na die VSA vra Elize my om vir haar sy roman Portage to San Cristobal saam te bring. Hierdie roman het in 1981 verskyn en ondersoek die gegewe dat Adolf Hitler lewe in die Amasone dertig jaar ná WO II. Nazi-jagters vind hom hierdie A.H. en die roman behandel anti-Semitisme.
Professor Botha was my studieleier en mentor. ‘n Hele vrag New Yorkers het sy aan my gegee toe sy haar huis in Colbyn wou opruim met ‘n wavrag TLS’e daarby.
‘n Ware intellektueel was Elize B. Kenner van die prosa met insigryke essays oor Etienne Leroux en die prosakuns. Inderdaad ‘n lewe-in-woorde.
II
In hierdie dae met lesersbriewe oor die ontoeganklikheid van die Afrikaanse digkuns waarop verskeie literatore en digters al reageer het, is dit tersaaklik om weer na Steiner se On difficulty and other essays (Oxford University Press, 1972) te kyk.
Veral Daniel Hugo, Klara du Plessis en Alwyn Roux het belangrike teenspraak gebied.
III
Wie was George Steiner? Gebore in 1929, oorlede in 2020 het hierdie intellektueel as sogenaamde poliglot geskryf oor die verhouding tussen taal en letterkunde en hoe ‘n gemeenskap dit alles bepaal. Veral oor die holocaust het hy besondere werk gelewer.
A.S. Byatt het hom besing as ‘n “late, late, late Renaissance man …”.
Professor in Vergelykende Letterkunde aan die Universiteit van Geneva (1974 – 1994), verbonde aan Oxford (1994 – 1995), professor aan Harvard (2001 – 2002) en later Fellow aan Cambridge. Gebore in Neuilly-sur-Seine die seun van Weense ouers van Joodse afkoms, vestig die gesin hulle in Frankryk om die vloedgolf van anti-Semitisme te probeer ontsnap. Steiner was vlot in Frans, Duits en Engels. Op sesjarige ouderdom lees hy die Iliad in Grieks. Hy dra dan ook sy The death of tragedy aan sy vader op.
Gebore met ‘n verswakte regterarm, help sy moeder hom om hierdie probleem te oorkom in ‘n tyd toe Ableisme, die diskriminasie teen gestremde mense aan die orde van die dag was. Ook tersaaklik dat J. Hillis Miller, die ander groot teoretikus eweneens ‘n soortgelyke gestremdheid had.
Weens die Duitse inval van Frankryk vlug die gesin en vestig hulle in die VSA.
Hy studeer aan die Universiteit van Chicago en behaal ‘n MA aan Harvard. Hierna na Oxford met ‘n Rhodes-beurs. Ná die voltooiing van sy PhD is The death of tragedy afgekeur, maar wel later deur Faber and Faber gepubliseer in 1961. Dit is wat hierdie leser betref een van die grootste studies oor die redes waarom ons nie kan verwys na hierdie konsep in moderne dramas nie. As Honneursstudent aan die Universiteit van Stellenbosch is hierdie studie vir die eerste keer gelees.
Die dood van die metafisika en die dood van die teokratiese God met die mens wat homself as skepper van alles verhef het.
Woody Allen in Matchpoint laat die hoofkarakter, Chris die vermoordes ontmoet in ‘n droomtoestand. Hy haal aan uit Sofokles en dat dit beter is dat ‘n mens eerder nooit gebore moes wees nie. Allen, in vele van sy films, gee ‘n besondere blik op die mens se weerloosheid en dat jy gewoon uitgelewer is aan geluk. Allen gebruik tennis as die sentrale troop om fata of geluk voor te stel. Soms is die bal in die net; ander kere oor die net.
https://en.wikipedia.org/wiki/Match_Point Besoek 16 Januarie 2026
IV
In die essay “On Difficulty” (wat reeds voorheen verskyn het) wys hy op die problematiek wat die digkuns aanbied.
Dalk, vra Steiner, het die misverstande oor digkuns te make met die opvatting “a poem should not mean but be”.
In die volgende weke sal ons uitgebreid Steiner se sieninge ondersoek. Vir sy lewensloop is daar etlike bronne besoek, o.a. die wikipedia en verskillende gesprekke met ander het deur die jare gehelp.
Hierdie rubriek is uiteraard ingegee deur die belangrike Duitse vertalings op Versindaba.
https://versindaba.co.za/2026/01/15/100-duitse-bestes-durs-grunbein-1962/ Besoek 16 Januarie 2026
Bernard Odendaal en Robert Schall se werk vra om bekroning.
Joan Hambidge
Kaapstad
16 Januarie 2025
Ars Poetica
Archibald MacLeish
A poem should be palpable and mute
As a globed fruit,
Dumb
As old medallions to the thumb,
Silent as the sleeve-worn stone
Of casement ledges where the moss has grown—
A poem should be wordless
As the flight of birds.
*
A poem should be motionless in time
As the moon climbs,
Leaving, as the moon releases
Twig by twig the night-entangled trees,
Leaving, as the moon behind the winter leaves,
Memory by memory the mind—
A poem should be motionless in time
As the moon climbs.
*
A poem should be equal to:
Not true.
For all the history of grief
An empty doorway and a maple leaf.
For love
The leaning grasses and two lights above the sea—
A poem should not mean
But be.
Copyright Credit: Archibald MacLeish, “Ars Poetica” from Collected Poems 1917-1982. Copyright © 1985 by The Estate of Archibald MacLeish. Reprinted with the permission of Houghton Mifflin Company. All rights reserved.
Source: Poetry (June 1926)
https://www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poems/17168/ars-poetica Besoek 16 Januarie 2026
