Emosionele horlosies / kalenders affektief
In ‘n brief aan Martin Amis
op 13 Maart 1996, gepos uit
Brookline, skryf Saul Bellow
die dood van jou ouers is
soos om deur ‘n spieëlglas-
venster te ry: jy het nie geweet
dit is dáár nie; tot die breekslag.
Jare daarna tel jy nog skerwe
op: stukkies glas versprei
oor ‘n mat of vloer met bloed
in die badkamer, snye op jou voet,
letsels dalk ook op die hand
met pleisters en ontsmetting
in jou klein sal volatile-huisapteek.
Vensters en spieëls, want
met elke stilte was ek vensters
op my bo-balkon en staar na
die patrone deur wind en reën
gekerf: wolke, ‘n fleur-de-lis
(dalk boodskappe uit die natuur)
voor ‘n vensterbank vol klippe
opgetel in Macchu Picchu, Istanboel,
Kappadokia, Nakasaki, want elders
ja elders is dit dalk mooi weer en warm
vóór jul uitvaart, ons agtergelaat, verlaat
is, net met splinters van iets soos ‘n atoom-
ontploffing in die gemoed: met ‘n begin,
maar sonder ‘n raam voor hierdie vensterbank.
© Joan Hambidge, 2026
