I
In 1825 het Mendelsohn sy beroemde oktet vir strykers gekomponeer.
https://www.youtube.com/watch?v=9JTH4ZdJcjk Besoek 22 Februarie 2026
Jou IP-adres bestaan uit 32 bisse wat in vier oktette verdeel is en wetenskaplikes meen nie-metale kry elektrone by en metale verloor dit weer weens atome se neiging om ‘n oktet te vorm.
Die slotvers in die reeks oor die maan in Hierdie mens is ‘n oktet.
Maankind
Maan, moeder aarde se enigste kind,
verlang to so na ‘n ou maatjie,
maar hoe sy ook skyn en kwyn,
hoe sy ook versilwer of verduister
alleen wentel sy met haar al
wentelende ma en soms van woede
gloei sy onaards, ‘n doforanje lampion,
‘n liefie appelliefie, aarde, ma se kind.
Lampion (van die Frans en Italiaans lampione) is ‘n klein draagbare lamp.
‘n Outydse woord. Boonop sluit hierdie gedig aan by ander Stockenström-verse wat die moeder-kind-verhouding verbeeld.
Ons weet ook van die kunstenaar Henk Serfontein se kreatiewe reaksie op die gedig “Almoeder”:
https://www.instagram.com/p/DHTN3Z8CwLO/ Besoek 22 Februarie 2026
Almoeder
Om te weet dat waar ek trap
onderaardse riviere vlermuisstil
vloei, laat my bedeesder stap.
Knielend lê ek my oor
op die ryp- en klipbeskotte grond
en span my in om te hoor
waar die hart van die aarde
klop. ‘n Sterk gestel
het sy, die saggeaarde.
Die somergras, weer uitgestoot
deur die swartgebrandheid, staan
prilgroen in oorwinning oor die dood.
https://ink.org.za/biblioteek/gedigte/wilma-stockenstrom/ Besoek 22 Februarie 2026
Magda Lombard en Hein Viljoen lewer eweneens insigryke kommentaar op haar digkuns.
By Stockenström is die ironie opvallend. En die gedig “Maankind” aktiveer ook hierdie vers:
Gesertifiseer
Ek kan genoeg gloeilampies koop om al
my vertrekke lewenslank te belig,
maar ek verkies die skemer en skemermense
wat voor die droom van dromend lewe swig.
Ek kan ‘n absoluut betroubare fisiologiese hartklep
aanskaf, gemaak van polipropileen,
maar liefs lewe ek hortend en hinkepink,
afwykend stug, totdat die harde reën
Die huise van die laaste eeu smelt,
totdat taal in al sy uitinge verval.
As mens, tot pyn in staat, wil ek leef,
die uiterste mens, gesertifiseer mal.
Hier wil sy die lig afskakel en in die ruimte van die skemer leef.
II
Om hierdie spel te begryp, besoek ons die belangrike huldigingswerk oor Stockenström Met my wysvingertop (saamgestel deur Ronel Foster in 2024).
Die selfgesprek en sirkelgang in haar verse word kundig beskou deur Alettie van den Heever in haar artikel “Wilma Stockenström as donker ekodigter”.
Sy verwys na die agrilogistiek van T. Morton.
Lusvormige denke wat herinner aan die ewigheidsteken of die Keltiese knoop wat nie ‘n begin of einde het nie.
Wanneer ‘n mens die kritiese reaksie op haar digkuns lees wat opgeneem is in Foster se studie, is dit opvallend hoe die selfgesprek telkemale uitgewys word.
Wyle Wilhelm Grütter, die uitgewer wat haar ontdek het, wys in sy resensie van Aan die Kaap geskryf (1994), wat in Die Burger verskyn het op 28 Desember 1994, op tekste wat saampraat en verwysings wat resoneer. Ander tekste ja, maar veral ‘n ewige selfgesprek.
So huldig Johann de Lange haar:
Oer
vir Wilma Stockenström
Van die eerste rib,
die tyd van klip en akkedis,
uit die vuursmid-pens, die kloot,
stippel spoortjies van die ibis,
‘n oog soos jaspis en kwik-
vinnig, blits sender deernis,
pik na wat sondig dik aards is
sien daagliks niks tussen oniks
en grint
mens, die stommerik,
laer as die lewerik, as die getjirp
en as die tortelende modder-
oog wat terugslib, ken net grens.
(Wat sag is vergaan, 1995)
III
‘n Groot digter se werk staan waar dit staan.
Maar palinodes en teensange bewys eweneens ‘n digterlike krag. Hoe heerlik het Wilma nie gelag toe Koekie Ziervogel gepraat het Van vermetelheid en van mans nie!
En dit is hierdie paradoks (vergetelheid dog glans, aarde teenoor maan, satire versus erns) wat haar uitsonderlik maak.
Soos Heilna du Plooy skryf:
TT Cloete begin die uitgebreide profiel oor Stockenström in Perspektief en Profiel (Deel 3, onder redaksie van HP van Coller, 2016:726-760) met die kategoriese uitspraak : “Wilma Stockenström is een van die beste digters van haar tyd”, ’n tyd wat tot nou toe duur, want haar statuur staan vas.
https://versindaba.co.za/2025/11/21/resensie-nogmaals-vir-die-bysiende-leser-joan-hambidge-marlies-taljard-reds/ Besoek 23 Februarie 2026
Joan Hambidge
Kaapstad
24 Februarie 2026
Bron:
Foster, Ronel. 2024. Met my wysvingertop. Pretoria: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en Protea Boekhuis.
