
Resensie: Nogmaals vir die bysiende leser: Gedigte ter ere van Wilma Stockenström. 2025. Joan Hambidge & Marlies Taljard (Reds.) Gansbaai: Naledi.
Resensent: Heilna du Plooy.
’n Bundel vir herlees en geniet, laag op laag
Die samestelling van ’n bundel opgedra aan, ter ere van, met respek aan en in bewondering vir Wilma Stockenström was ’n idee van Johann de Lange. Hy het die saak aangevoor en digters gevra om bydraes te lewer maar is oorlede voordat hy die projek kon deurvoer. Joan Hambidge het as goeie vriendin van De Lange geweet van die projek en watter digters betrokke was. Sy het toe opnuut die digters genader en gedigte begin versamel. Marlies Taljard het haar hierin bygestaan en die resultaat is hierdie bundel pragtige gedigte wat geïnspireer is deur die formidable werk, digterskap en kunstenaarspersoonlikheid van Wilma Stockenström.
Wanneer ’n mens skryf oor ’n bundel soos “Nogmaals vir die bysisende leser” is daar vanselfsprekend twee aksente nodig, die een op Wilma Stockenström “ter ere” van wie die bundel saamgestel is en die ander op gedigte in die bundel self. Stockenström het in die Afrikaanse literêre gesprek geen bekendstelling nodig nie. Van die begin af is haar werk hoog geag en gerespekteer. TT Cloete begin die uitgebreide profiel oor Stockenström in Perspektief en Profiel (Deel 3, onder redaksie van HP van Coller, 2016:726-760) met die kategoriese uitspraak : “Wilma Stockenström is een van die beste digters van haar tyd”, ’n tyd wat tot nou toe duur, want haar statuur staan vas.
Stockenström is dan ook bekend vir haar onverbloemde óóp kyk na mense en dinge en haar vermoë om die spieël ook na die kant van die leser te draai. Sy probeer nie vlei of doekies omdraai nie, tog handhaaf sy ’n subtiliteit wanneer sy hekel, satiriseer en ontmasker wat die poëtiese gehalte van haar werk onbetwis laat staan. In die kort maar deeglike inleiding in die bundel noem Joan Hambidge ’n paar temas wat regdeur Stockenström se oeuvre figureer: “die ekologiese tematiek, die lewe in Afrika, die liefde vir katte, die bysiende leser, die wantroue in woorde én uiteraard die aanspreek van die dood” (Hambidge & Taljard, 2025:9). Dit is algemeen bekend dat die bundeltitel Van vergetelheid en van glans ’n bekende eggo in die Afrikaanse poësie geword het, net soos alle gedigte oor elande haar bekende “Die eland” oproep.Verder is daar haar unieke siening van die natuur, van die son, van water en lig, misterieuse natuurverskynsels waarmee sy praat asof met ou bekendes, vir wie sy nogtans ‘n heilige ontsag het:
Soms strek sy die hand uit
palm na bo, om die son gevoelig
op haar lang, vereelte vingers
soos ’n bol stuifmeel te balanseer
En waar sy aan raak, smeer
dit bleek af sodat sonbome
verblindend opskiet óm haar
en sy wandel in ’n woud van lig.
Of:
om eendag op die son te trap
in ’n dawerende kloof van vreugde
Dit is dan ook inderdaad of daar ’n soort semantiese domein ontstaan by toegewyde lesers rondom die werk en digterspersoonlikheid van ’n digter soos Stockenström, soos wat die geval is met baie groot skrywers. Mens dink hier aan Van Wyk Louw of Opperman, en veral ook aan Breytenbach en Krog, maar ook aan prosaskrywers soos Etienne Leroux en Etienne van Heerden en Ingrid Winterbach. En die bydraers tot hierdie bundel is duidelik sulke lesers van Stockenström se werk. Sonder om aan te haal of direk te verwys, bly hulle binne ’n sekere dampkring van temas en bewoording en toonaard waarmee hulle Stockenström huldig.
Rondom die natuur en ekologie, die bewaring en die verwondering aan die misterie van die natuur, is daar verskeie gedigte. Eunice Basson lui die bundel in met “Jaarringe” (p.17) waarin die gang van tyd en die verandering in die lewens van natuurmense beskryf word deur aan te dui hoe hulle verdwyn het en hoe slegs die “kleinwild se nageslagte” nog in die bome skarrel snags. Die jaarringe van die titel dui op die gang van tyd en daarby kom droogte en aardverwarming asook kulturele prosesse en magswerkinge wat alles die werklikheid verander. In Hendrik J. Botha se vers (p.20) gaan dit oor die verskroeide landskap wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan as dit reën, “na die Nossob in vloed”. Die gedig improviseer op Van vergetelheid en van glans deur die gedig te noem “Van vergetelheid tot glans” en dan liries te raak omdat “dankbaarheid in pastelkleure gespel” word ná die reën. Johann Lodewyk Marais se “Eland” (p. 40) beskryf ’n veiling waarop die heilige eland, wat in die lewe van die eerste bewoners van Suid-Afrika mities onaantasbaar was, finaal ontluister en ontheilig word tot ’n trofee, ’n handelsartikel, ’n spogding sonder intrinsieke waarde: “Lot 35/ onder die hamer” .
Baie van die gedigte roep meer as een tema of werkwyse van Stockenström op. Tom Dreyer (p.24) skryf oor ’n mossie met ’n klein koppie gevul met beweging wat sy dinkmodus is. Mense dink aan “vergetelheid en glansverskuiwing” maar die mossie oorleef deur beweging waarmee hy kos soek en vind. Die menslike soeke na einddeurlewing staan in direkte kontras teenoor die mossie se effektiewe oorlewingstrategie – en vertoon swakker? Net so ontluister Daniel Hugo in aansluiting by Stockenström die mens se eiebelang en skynbelangrikheid in sy gedig “Reinheitsgebot” oor Noag se “kakelbont sirkus van wat rein en onrein is”. Die menslike eiewaan word so gerelativeer, net soos wat Stockenström self graag gedoen het.
Louis Esterhuizen gebruik die beeld van die waterwyser (water speel ’n belangrike rol in Stockenström se oeuvre en ook in haar soeke na wat werklik waardevol is) in sy gedig om aan te dui hoe Stockenström die “glansende” waterkuil van betekenis kon vind deur déúr die vergetelheid te speur.
Stockenström se vermoë om dieper te kyk en iets verborge raak te sien, kom meermale indirek aan die orde, byvoorbeeld in Juanita Louw se “Die singende saad” waarin sy op die struktuur van Wallace Stevens se “The snowman”, skryf oor wat nodig is om erge droogte en woestynlewe te oorleef en nogtans te kan sien (waaroor dit gaan). Dit gaan ook nie net oor sien in die sin van kyk nie, maar om siener te wees. Martina Klopper (p. 32) voeg by die vermoë om die verborgenhede in die natuur te sien, die vermoë om dit in taal vas te vang, meer nog, om dit ten spyte van die wantroue in woorde te bly doen. André le Roux se gedig (p. 38) herinner daaraan dat die digter haar woorde wou terughê uit die hande en monde van lesers en kritici, maar hierdie digter stel dat “woorde nodig” is om bestand te wees teen honger en dors en roes.
’n Mens kan kwalik elke enkele gedig in die bundel uitvoerig bespreek, vandaar die kort begrip om lesers nuuskierig te maak. Want die gedigte is almal goed en die moeite werd. Ronel Foster se lang gedig oor die mark in Accra, die Kantamanto, is merkwaardig. Deur die mark te beskryf in sy omvattende bedrywigheid as ’n tipiese Afrika-instelling gee sy ’n beeld van die kontinent. Kantamanto beteken “hy wat sweer, gaan nie teen sy woord nie” en so word daar handel gedryf, maar die regering en leiers van Afrika gee nie genoeg om nie en as gevolg van die hope rommel en afval, brand die mark (na ’n hele paar vorige brande) op 2 Januarie 2025 heeltemal af. Die dilemma van Afrika word so aangeroer, soos ook deur die feit dat die smousgoed genoem word “die dooie wit mens se klere”. Die mense van Afrika staan dus uitgelewer as ’n stortingsterrein vir “wit” mense wat hulle oorskot in Afrika kom stort en ook aan hulle eie “trogvretende” politici. Dit is ’n gedig met ’n groot boodskap, wat indirek en subtiel, en daarom met groot trefkrag, oorgedra word.
Joan Hambidge se drie gedigte oor besoeke aan Stockenström in ’n versorgingsoord spreek boekdele oor ’n lang vriendskap rondom boeke en letterkunde. Wat opval is die behoefte van een digter om die ander perfek te kan opsom maar nie kan nie, asook die agterliggende gesprek in terme van die letterkunde self: Stockenström se eie bysiende leser, Schoeman se afskeid en vertrek en Louw se pronk en sieraad. Mense wat die woorde van ’n taal se poësie ken, praat op verrykte maniere met mekaar.
Die plek wat Stockenström in mense se gedagtes inneem blyk uit die verse, selfs wanneer dit oor die dood gaan soos in Johan Myburg se “’n Glans van menslikheid” (p.42) en in Fanie Olivier se meelewende mooi vers (p.43). En ook in die gedig van Henning Pieterse oor die klein skarabee as boodskapper uit die donker Anderland (p.45).
’n Lieflike vers is die gedig van Marlene van Niekerk “Ten minste” (p.51). Eintlik is dit die soort gedig waaroor ’n mens nie moet skryf nie, jy moet dit net baiekeer oor en oor lees. Die gedig begin deur te sê dat “vele mense” niks van riviere weet nie, maar dat die spreker in die gedig “ten minste” kan sê “ek het ’n rivier geken”. Daarna volg een lang aaneenlopende vloeiende sin (net soos ’n kronkelende rivier) waarin al die eienskappe van die rivier wat ontbeer word deur die onkundiges, opgenoem word. Daardie “vele mense” ontbreek aan baie wat noodsaaklik is enersyds om ’n rivier te ken, maar andersyds ook noodsaaklik is om sinvol en begripvol te kan lewe.
Marlene van Niekerk
Ten minste
Ten minste kan ek sê, ek het ’n rivier geken
en geweet hy is sonder einde, vele mense
weet niks van riviere nie, en stel ook nie belang in hoe
hulle ruik nie, sal selfs op tien meter afstand
in die donker nie kan hoor hulle is nou by ’n rivier nie,
haal liewer hul poësie reël vir reël uit die koerante
as hulle probeer dig, want hul beleef nooit
’n moment van uiterste onsegbaarheid langs
’n rivier nie, herken die palingbewoonde amber
in die oog van ’n waterbok nie as die kleur
van die rivier nie, nog die blou naaldekokers
as sierade van die rivier, vrees nie haar kuile
of palmiet nie, vermoed nooit ’n droogte
of vloed alvorens hul daardeur oorval word nie,
is barbare sonder oewers, sonder stroombed,
sonder kennis van enige opvang of varing
of keurtjieboom wiegend in die sog, het nog nooit
hul jare getel in die ringe van ystervarkriet nie,
is moederloos onbeswem deur geelvis,
blyk oorgevoelig vir einders, ontbeer elke vorm
van wederkeer, vergifnis, goedertierenheid
of ander soorte waterblom wit en geel
in die uiterwaard.
Hierdie digter bemoei haar met ’n gevoel vir die “onsegbare” soos Stockenström se werk self ook met die misterieë van die onsegbare besig is. Die aanvoeling vir die kosbare poëtiese ingesteldhede van Stockenström het hierdie digters en hierdie gedigte bymekaargebring en daardeur vreugde vir poësieliefhebbers. Hiermee dus ook baie dankie aan die samestellers vir ’n goeie seleksie van gedigte en ook die keuse van ’n baie mooi buiteblad.
Heilna du Plooy
3 November 2025
Paarl
