Skoonmaakdag
Dit is Vrydag.
Asblikwiele knars knopperig
oor ongelyke plaveisel
met die uitsit.
Daarna die bondel wasgoed –
sommige wat hy apart
in ’n skottel trap
en was, trap
en was.
Vloere word geskrop,
kaste en rakke afgestof,
die bed opgemaak.
Laastens: die opgehoopte
skottelgoed in seepwater, louwarm.
’n Glas gly
en breek – ’n skerf sny
sy ringvinger. Bloed
vloei en val
op ’n gekraakte teël.
Iewers in Piet-my-vroulaan
huil ’n hond,
droewig.
© Jacques Boshoff, 2026
