riem telegram
ons het ‘n sprokie geskryf,
my lief
een waar jy die prins
en ek jou aspoestertjie was:
”ons het op die internet ontmoet
waar ek agter sinkografie kon skuil,
en gemaklik, onder ‘n pseudo,
my lot, eerlik en eksplisiet
treurig my jou sou bekla
oor my pa se tweede vrou
en jy kon jou blou bloed
vir eers suksesvol verdoesel
in alledaagse blikbrein taal
op die aand van Halloween
het ek teensinnige
my stiewe vergesel
my ge-eelte vingers
in satyn gehul
en besef, my Prins,
dat jy in Bishop’s Court
agter tralies woon
in die tweede scène
het ons gesakkie-sakkie
terwyl Hip Hop blêr
en Marguaritas gedrink
tot die pampoen oopbars
in my vlug na realiteit
het my een spykerhak
uit die uber geval
en op die teer beland
so kon jy met Google Maps
my selfoon pin
en vandag woon ons saam
in ‘n eenheid of die Waterfront
vanwaar ek sushi
van die Raddison bestel,
die toeriste skepe
en die kabelkar kan sien.”
ons verhaal was en is,
helaas,
bloot, ‘n riemtelegram
© Anne-Marie Bartie, 2026
