Die poësie laat hom geld
met delikate geweld.
(“Zeus vandag”, 14)
I
T.T. Cloete se bundel Driepas verskyn in 1989. ‘n Lywige bundel van 191 bladsye. Temas oor die natuur, musiek, seksualiteit, ars poeticas, siekte, ‘n gedig vir Johan Myburg (“By Haga-Haga”, 42), sport en spel …
En le gros rire. En alles saamgesnoer in ‘n bestaan en soeke na God.
Hier is ‘n essensiële vers:
die gedig is ‘n refleks
die gedig is ’n refleks
in ’n enkele woord
en in dié woord hoor
die oor ineen ineens die hele teks
van die versamelde gedig
snel soos die byt van die lip
hom laat insuig of die knip
van die oog teen ’n naald lig
só soos die spiere by flink spel
die hand elektrochemies vinniger prik
as wat lig trek soos angs of skrik
hoendervleis maak op die vel
dit het selfs iets weg van die vier
van ’n vinnige grap wat banaal
die bomkrag van die taal
laat vuur in le gros rire
die gedig van vreugde of pyn ontplof
uit donsklein geringhede en word
tot ’n wye stelsel uitgestort
van gloeiende asteroïede stof.
(34)
‘n Samesnoering van Cloete op sy beste. Soos in hierdie oktet:
God die digter
Chili is deur ‘n digter gemaak. Pablo Neruda
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak
(49)
XVII Venuskarnivoorblom
Die dionaea muscipula
lyk en geur begeerlik soos ‘n vulva
maar sy is wreed;
om te blom moet sy vlees en bloed vreet.
(106)
II
In hierdie bundel staan hierdie klassieke vers oor Vermeer opgeteken:
Vroue van Vermeer
Dit is meestal ’n mooi jong vrou.
Meestal is sy alleen binnenshuis,
dalk met ’n wit veraf brief wat sy vashou,
naby, in ’n gloeiende klein hand
voor ’n kleiner of groter oop
venster. Daar kom ’n ligte geruis
van ’n wêreld aan uit ’n land-
of groter wêreldkaart
wat teen die muurvlak oorkant
hang, daar waar seestrome en wind loop
met haar land se ganse skeepvaart.
Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,
sy droom of sluimer
in lig wat in vlokkies of korrels brand
of dof kaats in die ruimer
ruimte van ’n skildery of spieël of in ’n wynhouer
ivoor maak, of sy speel klavesimbaal
of sy loer oor haar skouer
en dra ’n sonnende pêrel teen haar nek
se skadu. En altyd is daar lig wat áfstraal
ín in die liefs klein afgemete vertrek,
oorvloedig, uit die oop grote
universum en wat die klein aardse geslote
stilte in die onmeetlike laat asemhaal.
(38)

Oor Cloete se Vermeer-gedigte het Adèle Nel, ‘n kunskenner en -versamelaar, boeiend geskryf in ‘Afgekyk van en nagepraat na …’: Nederlandse tekste in ‘Vroue van Vermeer’ van T.T. Cloete wat verskyn het in Augustus 2002 in Literator 23(1) April 2002:37-51.
Die Nederlandse skilder Vermeer (1632-1675) word tereg beskou as ‘n meester van lig.
Dit is ‘n ekfrastiese gedig soos Cloete se beroemde “Marilyn Monroe foto in blou” waarop vele digters al gereageer het:
https://johanndelange.blogspot.com/2010/03/marilyn-monroe-met-n-omweg-kan-bysake.html 21 Maart 2026
In Ewebeeld (Perskor, 1997) antwoord Joan Hambidge soos volg op Cloete se vers:
Brieflesende vrou
(Vermeer)
Wat in daardie vergeelde brief staan
– ‘n minnaar se afwysing;
‘n afspraak om klandestien te ontmoet;
haar mevrou se private besigheid;
haar man se brief aan ‘n jong minnares;
die jong minnares se versugting om ‘n kind by hom te hê;
‘n alledaagse inkopielys –
sal niemand ooit kan agterhaal nie.
Behalwe dat ek nou wens dat ek soos dié vrou
‘n brief van jou sal ontvang – vol …
(96)
Cloete fokus op verskillende skilderye in ekfrasis, bekend oor al die vroue. By Hambidge is die fokus net op die brieflesende vrou. ‘n Fantasie en begeerte geprojekteer op die een skildery. Tom Gouws se Ligloop verskyn in 2010 by Human & Rousseau.
‘n Voorlesing deur die digter kan hier beluister word:
https://at.pinterest.com/pin/543880092472352625/ 21 Maart 2026
Bernard Odendaal het dit insigryk geresenseer en hier is ‘n Vermeer-Vers van Gouws:
die dag is blou soos delft
n.a.v. vermeer se studie in blou: “Vrou met ‘n waterbeker”
“blue is not a colour; it is depth”
ek probeer my verbeelding uitpak in ‘n kleurpalet,
maar als reik uit na dimensies in skakerings blou:
baftablou akwamarynblou dempblou persblou
rooiblou staalblou opaalblou saksiesblou swartblou
fletsblou bontblou groenblou skimmelblou bergblou
marineblou berlynsblou bleekblou saffierblou
turkooisblou pruisiesblou blouselblou kobaltblou
poublou hiasintblou asuurblou waterblou delftblou.
hemelsblou is die letters van my ganse kleurlose alfabet.
https://versindaba.co.za/2011/02/14/ligloop/ Besoek 21 Maart 2026
Die impak van blou (die kleur van melancholie) word ‘n soort selfkonfrontasie.
Oor Vermeer kan ‘n mens eindeloos skryf. Soos die film Girl with pearl earring gebaseer op die roman van Tracy Chevalier.
https://en.wikipedia.org/wiki/Girl_with_a_Pearl_Earring_(film) Besoek 21 Maart 2026
Met Colin Firth en Scarlett Johansson.
III
‘n Digter se invloed op ander digters bepaal ook sy of haar statuur. Soos Van Wyk Louw, Opperman, Eybers, Breytenbach wat vele palinodes en parodieë ontlok het.
Met die digter praat is ‘n bundel opstelle en gedigte ter huldiging van Cloete, saamgestel uit uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 49 (4): Desember 2009 en Jaargang 55 (2): Junie 2015, onder die kundige redaksie van Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe bevat ook gedigte van digters vir en oor Cloete.
“Reitzstraat, Potchefstoom” vir TTC is ‘n vers deur Johan Myburg. Die jong skolier moet die digter se tuin oppas en die plante watergee. Maar die jong kind (wat oorkant die digter bly) begin patrone raaksien en begin die taal van die tuin lees. Wat dan oorgaan in sy eie ontdekking van die digkuns. So sluit hierdie vers:
Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van ‘n rymende eindkoeplet.
Soos Adèle Nel uitwys in haar Literator artikel:
Die heraktivering van die vertroude gegewens van die brontekste vergroot inderdaad die semantiese universum van sowel die brontekste as die eindteks. Die gedig word voorts ook gemodelleer op die teoretiese poëtikale konsepsies, sowel as die versinterne poëtikale nosies van Nijhoff, maar is terselfdertyd ’n idiolektiese, versinterne uitspraak aangaande Cloete se ars poëtika.
Inderdaad is alles afgekyk én nagepraat. Gedigte word saamgesnoer in ‘n semantiese universum, sou ‘n mens kan aanvoer.
Ons sal vervolg via Nel (opgeneem in die huldigingsbundel) oor die spelelement in T.T. Cloete se digkuns.
Joan Hambidge
Kaapstad
18 – 20 Maart 2026
Endnote:
Abstract van Nel se artikel
‘Afgekyk van en nagepraat na…’: Dutch texts in ‘Vroue van Vermeer’ by T.T. Cloete This article focuses on T.T. Cloete’s poem “Vroue van Vermeer” (Driepas) as the product of idiolectic transformation. The first and most obvious original text or frame is the work of the Dutch painter Johannes Vermeer, with the poems and poetical writings of Martinus Nijhoff as a second frame. The third frame consists of texts from the work of J.H. Leopold. Special attention is given to what happens to the text adapted as a transformation, and in what way the source texts are dealt with in the final text. The visual focus of the poem corresponds with that of the paintings, i.e. the figure of the woman, space as constituent of the figure, and the dominating play with light. Cloete depicts his “Umwertung” of the perceived reality in his poem and at the same time models his own poetical concept that corresponds with the poetical views of Nijhoff. The poetical concept includes views regarding the texts, some views of reality and the so-called objectification theory.
