
Trienke Laurie (10 Mei 1947 – 2 Oktober 2023) is in Kaapstad gebore – die oudste dogter van die bekende digter en letterkundige DJ Opperman en Marié Opperman. Sy behaal ’n B.A.-graad en Onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch. In hierdie tyd vorm sy ook deel van haar pa se bekende Letterkundige Laboratorium.
Laurie skryf haar eerste gedigte as vyfjarige dogtertjie. Haar eerste gedig waaroor haar pa opgewonde geraak het, was “Wurm, wurm, spin vir my”, wat sy geskryf het toe sy ongeveer sewe jaar oud was.
Sy debuteer in 1997 met Skietspoel waarmee sy die Ingrid Jonker-prys wen. Daarna volg die dramatiese alleenspraak oor die Anglo-Boereoorlog, Ek sien ’n rooi bul storm (1999), en Uitroep (2001). Haar jongste bundel is Sonskyf (2007). Haar gedigte word ook in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte, Nuwe verset, Kleuterverseboek en Nuwe Kleuterverseboek. In 2020 word haar gedig ‘Ongevraagd kind van ongehude ouers’ in Vers en vrou opgeneem.
Trienke het vir ’n jaar op Vredendal onderwys gegee en na haar troue word sy ’n tuisteskepper. Haar liefhebbery sluit die skilderkuns in: Drie van haar bundels het omslae gebaseer op haar eie skilderye.
Lees meer oor Trienke Laurie en haar werk op LitNet.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
