Memento mori: Kelly-Gene
Ek dink gereeld hoe jy in louter kindverlede
knus toegewikkel in jou ”blanky-blue”
– ‘n alikreukel-blou kombersie –
attent luister na elke rympie-versie
terwyl ek lees van Eeyore en Winnie the Pooh.
Later, toe jy hand-in-hand met ons staan
het jou jong amberliefde ons in daardie hede
hartlik besiel en wou ons saam jou toekoms goed beplan:
uit daardie goue herfs se oker kleurdigtinte
en festoennuanses – ‘n somerkatedraal
met die helder Hoëveld se s(k)erp skakerings dagliglinte –
wou ons vir jou net die mooiste kleurekstraksies haal.
Die jare-sirkels om ons word toe al kleiner
tot julle met jul eie Jodi-kind
in Kiwiland ’n nuwe tuiste vind
maar daar, in Tamaki Makau Rau
– ironiese betekenis: die plek wat baie begeer –
moes die hele familie skielik leer
hoe om finaal van jou afskeid te neem
en nou’s daar net herinnerings wat bind.
Heugenis van jou
stroom steeds uit nimmer-leeggetapte woorde
want reminissensies vloei nou
uit jou dagboek-geskrifte en gedigte
en evokatiewe vreugdevolle kiekie-gesigte:
bleek celeste-blou bindende kettingkoorde
wat my altyd alles klinkklaar laat onthou.
Maar (so sê ’n populêre liedjiesnit),
dit was ‘n nobel tyd en, ag, was dit watse tyd!
’n seisoen van onskuld en vrymoedigheid
vol sagte skadu’s van onthou, jare tr’ug
en nou’s daar geen ontsnap-na-gister-brug
nie: net lewelose foto’s hier
en jou insigryke woorde op papier
wat ons bewaar as memorieë want ons wis:
dis al wat vir ons almal oor is.
En as ek nou jou beeldgelykenis sou wou skilder
sal ek eers oogwaterspatsels wat verbleik
en al die onvergenoegde wilder
kleurmengelmoese moet verander, af moet skraap,
want die couleurpalette waarna ek vantevore strewe
se gradasies is getemper – droewig milder, uit misnoeë opgeraap –
tot koue donkergryse wat ontsettend swaar deur winters lewe.
Ek wens vergeefs dat jy terug sou kom – ek weet dit bots teen alle wette! –
want dan sal briljante skitterings weer chromaties
in sprankelende stillewes en kleurborduurde familiekring-portrette
oor die dorre seildoek van die lewe, outomaties
glinster; dan sonlig ál ons krismisrose weer
lumineus voor die voorhuisvenster
en botterblom geel môres glansend voor ons deur.
© Meyer van Rensburg, 2026
