I
In 1983 verskyn Klankmanwoordboom deur Meyer van Rensburg (Human & Rousseau) wat die impak van klank in ‘n gedig ondersoek en ontgin. In Heenkoms wat by Imprimatvr verskyn in 2021 staan hierdie vers:
Beeldkontroleur
voeg visie by die woorde
laat klank substansie kry
beligte klankakkoorde
crescendo vol verby
tot lampelegkaart vierkant pas
’n prentjiemooi geheel
en niks word dan weer bygelas
dis woordwys fyn gereël
profeties klaar
gekontroleer
deur woordbeeldregisseur
(41)
In hierdie gedig is daar ‘n spel tussen die abstrakte en die klankmatige aspek van ‘n gedig. Die digter as woordbeeldregisseur wat die klanke as’t ware kontroleer. In sy jongste bundel Amplitudes en Koloriete (Imprimatvr) is daar ‘n verdere ontginning tussen kleur en klank. Ek is besig met ‘n uitgebreide resensie oor hierdie bundel.
Só dig G.A. Watermeyer in “Ballade van die bloeddorstige jagter” opgeneem in Sekel en Simbaal (1957):
Wilde-Kanarie:
Ek kelk die sonlig in my keel
en rym die rondebessie ryp;
met kinderhand het hy, het hy
die fluite uit ons bors gegryp.
Klank behels herhaling, rym, ritme, metriese patrone, alliterasie, assonansie, onomatopee, e.d.m. is van die bekendste tegnieke wat ingespan word. Daarom is dit altyd openbarend om ‘n digter te hoor voorlees.
II
In Afrikaans het Ina Gräbe-Wolfaardt van die mees beduidende bydraes oor klank geskryf. In Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 55 No. 2: Junie 2015 verskyn “Die huid huil luid in stilhuil” – op ’n (klank)spoor in T. T. Cloete se poësie. Sy skryf:
Hierdie spesifisering hang ten nouste saam met taalgebruik wat op een of ander manier opsigtelik gemaak word om die leser se aandag te vestig op ’n bepaalde woord of sinsnede en/of die verbande daartussen. Twee maniere van vooropstelling word gewoonlik onderskei: (“ongrammatikale”) taalgebruik en ekstra regulering of patroonvorming. Eersgenoemde is ter sake by die bestudering van seleksionele afwyking in metaforiese uitdrukkings, en ook by verskuiwing, delesie en seleksionele afwyking in sintaktiese konstruksies; ekstra patroonvorming is waarneembaar in die parallelle konstruksies van sintaktiese patrone, die eksploitasie van klankpatrone en die metriese ordening binne die gedig. Vooropstelling impliseer nie net die benadrukking van kleiner of groter taaleenhede nie, maar behels veral ook die ontdek van verrassende (dus vooropgestelde) relasies tussen lettergrepe, woorde, sinsnedes, sinne, versreëls en strofes in ’n gedig. Die intratekstuele relasies van die vooropgestelde taalgebruik binne ’n poësieteks lei tot semantiese verryking.
Haar analise van Cloete se gedig “stilhuil” is ‘n belewenis:
stilhuil
stilhuil knyp die gapermosseloë tóé, knyp
vuur by die stram spleet van die ooglede uit. stilhuil ruk
’n droë wurg af deur die kramp van jou sluk
af in jou strot. die huid huil luid in stilhuil. dit gryp
jou onder die gesakte ken aan die keel.
dit swel die lippe tot ’n bloederige dik
roes. dit kyk die bome, die telegraafpale skeel.
stilhuil suig ’n brandende droë snik
binnetoe, dit laat die ooghare
soos die nat rooigras van die bulte swaar
grond toe hang, voel die toevou van ’n donker hand
se palm en vingers om die son se swart brand.
in stilhuil huil die hele liggaam
bloederig saamgetrek in die neuspunt
stilhuil laat in die boom van jou are
deur jou lyf ragfyn strak
staande ’n gloeiende gestolde weerlig vertak.
(Die ander een is ek, 100-101)
https://scielo.org.za/pdf/tvg/v55n2/05.pdf Besoek 11 Augustus 2025
Die metaforiek in hierdie gedig is eweneens tersaaklik. Cloete se eksploitasie van die klankpatrone en die metriese ordening analiseer sy sorgvuldig. As digter is haar skerp analises altyd van waarde vir my; al is dit net om die implikasie van kakofonie of eufonie beter te verstaan.
III
D.H. Lawrence se gedigte is klank-fenomene. Kyk hoe praat H.J. Pieterse met hom én Wilma Stockenström in Nogmaals vir die bysiende leser:
Nagboodskap
Met erkenning aan “Snake” van D.H. Lawrence
’n Vlieënde skarabee het by my aandblomme kom drink.
Terwyl ons tussen skadu’s en geure op die stoep sit,
praat oor die dag en glase klink,
het die wesentjie uit die skemer aangefladder gekom.
Is dit ’n blomtor? ’n Kolibrie-mot? het ek gewonder,
my glas neergesit op die blad, baie sag.
Die diertjie het oor die tafel gedans,
sy kleim afgesteek uit die brandende binneste van die nag.
Slaan dood die ding, het my instink gesê,
maar ek het my hand opgehou: wag, kyk,
want ek het van die onbekende mot gehou,
die stil gas wat ons leegtes vir ’n oomblik laat wyk.
Hy het versigtig gesweef, ’n tuitsnoetjie uitgerol
en nektar van ’n aandblom ingedrink.
Die ligte wirrrr van sy vlerkies het die stilte verder laat stol,
hierdie klein besoeker uit die aankomende nag.
Wat is jy, mens, het ek gedink,
jy wat meen omdat jy kiertsregop kan staan
jy groter is as ander wesens, koning Dis,
wat in die donkerte in jou tuin kom drink?
Die liggroen mot het uit my bleek aandblom kom drink,
om die ligkring gevlieg, weer sy sprietjie uitgerol
en diep gedrink aan ons gedagtes,
toe, klein-klein teken, in groot stilte weggetol.
Ek het gewonder oor sy onderwêreld,
met voor hom kore krieke wat die nag oopmaak,
sy kronkeldans na die lig en terug,
om tussen mense van sy dors ontslae te raak.
Wat wou jy kom vertel, klein boodskapper,
nuus van my ma en vrou uit donker Anderland?
Ek het nie narsings gehad om jou aan te bied nie,
net my aandblom, lig wuiwend, oop soos ’n hand.
Ek het deeglik geweet hoe klein ek was,
hoe kleinlik tussen stof en ster, die uiterste wyk,
hoe nietig ek was teen ’n nagdansertjie se boodskap,
gestuur deur Persefone uit die geheime nag, haar ryk.
Wanneer ‘n mens hierdie gedig hardop voorlees, is die klankpatrone opvallend.
Die o- en s-klanke …
En Lawrence se Snake begin so :
A snake came to my water-trough
On a hot, hot day, and I in pyjamas for the heat,
To drink there.
En eindig :
And so, I missed my chance with one of the lords
Of life.
And I have something to expiate:
A pettiness.
En die bundel vir Wilma Stockenström maak ‘n mens opnuut bewus van haar meesterlike dramatiese aanslag. En hoe verskillende digters se manier van dig klankpatrone ontgin.
Joan Hambidge
Kaapstad
11 Augustus 2025
Bronne:
Cloete, T.T. 2013. Die ander een is ek. Plettenbergbaai: Pooka.
Hambidge, Joan en Taljard, Marlies. 2025. Nogmaals vir die bysiende leser. Gedigte ter ere van Wilma Stockenström. Naledi: Gansbaai.
Watermeyer, G.A. 1957. Sekel en simbaal. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, Bpk.

Joan, Ek sal baie graag jou resensie van my nuutste bundel wil sien