Spoorloos
Hy het brood gaan koop
nooit weer teruggekom nie:
beloftes maak skuld, sê hulle.
Hy het brood gaan koop
met ʼn gedig in sy hart:
lankal vir haar geskryf
– gebottel –
met ʼn sonsondergang uit die ooste.
Die sterre was vuurvliegies
planete wat die ritme aanwys
en langsaam het motors verdwyn
soos liefde in ʼn Donald Trump-wêreld.
Die straatligte se koppe het laag vooroor gehang
en die maan se glimlag was tyd se belydenis –
ver agter haar mond, het die nag musiek gemaak
– ʼn regstellende mymering, ʼn nuwe seisoen van lewe.
By die stasie staan die treine van die nag ingewurm
die reisigers ingeryg met hul donker gesigte oraloor
om agter maskers vreemde dinge te probeer verdoesel
sodat die mensdom nuwe pittig-hede daar uit kan braak
geboorte kan gee aan dié seisoen se padkos
– ʼn môre lank al reeds afgeleë en verby.
Is dit dan waarlik die stasiemeester?
Is hy dan nie die skurk van ouds nie?
Die ou gatgabba, die moerskont,
wat die leeus soos ʼn wafferse sirkusmeester
deur brandende hoepels laat spring
tot laat in die nag,
terwyl die kinders van elke gebrek
groot-oog, bakhand, staan en toekyk
– wens – die oorlog was reeds verby.
Die kondukteur knip sy kaartjie
waarsku hom dat die brood droog en gemuf is
én dat die stasie eers weer môre nuwe voorraad sal inkry.
Hy hoor homself sug
wens hy was in ʼn landskap, iewers, wat uitkyk oor die see
miskien op ʼn plek waar broodkoop vir swerwers, lewe beteken
waar drome, vir dromers, liefde vergestalt
en waar reise, vir reisigers, nooit sal ophou
om uit te loop op hawens van transmutasie nie.
Daar waar die woord verdraai kan word
om in die verdraaiing
bloot soos vantevore te sê:
die siel is reisiger van die stilte
die siel is sout vir die wonde
die siel is brood vir die honger
Hy het brood gaan koop
nooit weer teruggekeer nie:
soms sê hulle
moenie beloftes maak
wat nie gehou kan word nie –
moenie klippe in brood probeer verander
as gemufde brood óók kos vir die siel is nie.
© Bester Meyer, 2026
