Taal van die stilte
“Meaning is the face of the Other, and all recourse to words takes place already within the primordial face to face of language” – Emmanuel Levinas
die mond ʼn onbeduidende afstand weg van my
altyd reg om woorde van lank-
vergete lettergrepe, sinsnedes, weg te gee
hulle te vertroetel,
te verkoop aan die vensters van tyd –
om êrens in die vroeë oggend-vlytigheid
te dink jy is in die hemel
as sy haar tong
oor die swart
some say love
it is ʼn woordnessie
wat getuig
van die skoonheidsmoeisie
wat à la Marilyn aan die bolip pronk
en die kontoere van die botydelike
word geverf met lang kwashale
van ʼn oneindigheid
want in die spieël se raaisel
kom jy agter jou hunkering was
tóé al
(die) tyd –
engele wat vetgevoer word
aan die ander kant
en om die afstand te oorkom
is om jouself – oorbluffend –
by die stilte te skaar,
aan te hou klou aan die buffer van
God
gesien in haar gelaat:
gister, vandag, môre
dieselfde
© Bester Meyer, 2026
