seisoene in ‘n rei
herfs —
is onverwags palet
en kwas.
‘n laaste oker vryval.
tappiserie wat op ‘n datum verval.
roes laat ‘n frank smaak
in ‘n voël se bek.
winter —
is wit in die boord.
stilte en grys onder ys.
grasspriet die pit van ‘n stalagtiet.
is doofstom deel van sitrus
se siklus.
alles is skraal en ‘n vaal kleed
daaroor.
lente —
is escape.
sny rooi en geel blom
en tamatie.
is ‘n kraak in klam grond.
veelkleurige mosaïek
rank in ‘n kringdans.
somer —
swel.
die son brand ‘n vergrootglas
en wis die vorige somtotaal uit.
lig in die reën se ruis op die dak
maak strepe.
spat op die tong appelsoet.
ruimte vir asem
is groen blare
in ‘n sirkelgang
enjambement terug na die herfs.
© ND Cronjé, 2026

Vernuftig sikleer die digter seisoene in gestroopte taal,met alle sintuie fyn ingestel – atmosferies. Puik.