Save Our Souls, 1981
In die kansel óp rys hy na bo
op ‘n heilige reis.
Drie trappe, geboë hoof,
Bybel vasgeklem, ‘n oomblik van stilte
en ‘n tree na regs
die egoïs statig agter die preekstoel in —
knus in die gewyde ritueel van lam word en
krag uit die liturgie ontvang.
Dan slaan hy sy Bybel soos ’n enjinkap oop.
Hy start sag en luier versigtig eers,
dan kom die lorrie se brul.
Alles en almal is doodstil
as hy die Woord voer
en die koppelaar trap.
’n V8 van verbete geloof dreun uit sy bors.
Sy woorde diep, onwrikbaar:
petrol op die vuur van profetiese hoop.
Genade strek uit sy hande en
hy laat die gemeente drink
en les die weeklikse dors.
Hy preek met wringkrag, ‘n span perde,
vonk en vlam, ‘n epifanie van die ghost rider
die gesalfde —
’n gladde ratkas dryf hom regdeur
die sondemuur totdat hy anderkant
effens oordrewe afval, sag met ‘n sakdoek
die oë afdroog, en haastig weer terugklouter.
Sy Bybel is die dashboard van gebod,
die sleutels styf in sy vuis.
Die pad raak nou krom en verg konsentrasie,
maar hy lê die Woord uit,
helder en duidelik,
met ‘n glas water in ‘n ystergreep
rathefboomskuif.
As hy twyfel, gee hy weer vet,
sy siel ’n kragtoer, sy woord wet.
Passasiers ry saam sonder wil of keuse
vasgegordel vir eie veiligheid
om die Bestemming oorkant te haal.
Hy is die Kudde se Herder,
onversetlik, besitlik, in beheer,
Agressie en Gesag, sy woorde die wapenrusting
sy wysheid die ware rigting.
Maar hy saai nie die saad in vrugbare grond nie,
hy hamer oortuiging in. Paternalisme op steroïde —
hy gryp die gemeente aan die nekvel:
bely julle sondes, bekeer julle, kyk jul redding is hier!
Die enjin se krag word geloofsmag
die drywer-prediker ry vír jou, óór jou,
déúr jou, soms sonder jou.
Sy gedrewe momentum onstuitbaar,
sy waarheid almagtig,
weerstand word in die kiem gesmoor
of doodgetrap, soos road kill
in die cannon ball run
van new york tot kalifornië.
Dis nie meer geloof nie, dis bid of bloei:
die kopskuif maak om die gemeenskap
van skynheiliges te bely, reformeer,
neer te daal, konserwatief hoofstroom
‘n ng np slet
— Dominee is immers hier om siele te red
vir die koninkryk, die hiernamaals —
gedweë met bombasme
religieus te fornikeer,
of jy is uit.
Veertig jaar later onthou ‘n gemeentelid nog
die dawerende stem,
op ‘n sondagoggend kerkklok,
sweetvlekke onder die toga,
die preek ’n harde bevel
op parade, die sammajoor,
alewige skermutselings: hardloop, val,
hande voor die bors, selfbeskermend,
‘n brigade blinde tenks
op ‘n slagveld.
En van die boodskap het niks heilig gebly nie,
net die vrees vir ’n god wat nooit
‘n antwoord het op enige gebed.
Nogtans is hy daar, in die agterse bank, teen wil en dank.
© ND Cronjé, 2026
