Ervaarder Artemis
Vir Joan Hambidge
Jy bly knibbel
waarom herstel ek nie –
want jy het my die maan,
sterre en uitspansel beloof.
Jy stuur my na die maan
en à la Christina Koch beweeg
ek in die lugdrukvrye atmosfeer
karteer die kraters aan die donker kant,
406 771 kilometer ver, die stil verwoesting wat jy saai,
waai van die ongekende afstand ‘n vlaggie van rekapitulasie
(dis verby, dis verby, tussen jou en my) op die klein silw’rige planeet.
Danksy die verbinding tussen my en die lugskip van glas
genaamd poësie, soos vir Christina van Swede as prins
opgevoed, keer ek weer terug na die aarde,
wys my foto’s vir diegene wat wil sien,
bring stukkies ongeëete kaas saam
en weet ná maande
die maan is hiér.
Jy bly knibbel
waarom vergeet ek nie –
omdat ek weet die maan
is beslis nie van kaas.
© Dietloff van der Berg, 2026

Dis met groot waardering
Dank vir hierdie geskenk.