In 1920 al skryf die redakteur van Die Banier na aanleiding van die getwis oor Toon van den Heever se bundel Gedigte (1919) tussen Eugene Marais, J.F.W. Grosskopf, Gerhard Dekker, A.H. Jonker, E.C. Pienaar, en ander: “Literêre kritiek is uiteraard so ’n subjektiewe en subtiele ding dat mens tot in die oneindige daaroor kan bly redekawel in woord en wederwoord.” (Nienaber 1965:16) In 1937 met die polemiek oor die gesamentlike toeken van die Hertzogprys vir digkuns aan N.P. van Wyk Louw en I.D. du Plessis sien ons ook hoe heftig die kundiges oor die digkuns van mekaar kan verskil. Louw wys die prys van die hand en verklaar dat die “Akademie hom weer magteloos getoon het om te besluit oor sake waaroor hy hom juis die reg van ’n beslissing toeëien” Prof. E.C. Pienaar sien in Louw se Die halwe kring matelose oorskatting van die belangrikheid van eie minuskule stemmingsoorgange wat dr. J. du P. Scholtz laat skryf dat Pienaar deur sy resensie bewys dat hy geheel onbevoeg is om saam te praat oor die moderne Afrikaanse digkuns. (Nienaber 1965:136)
As die groot geeste mekaar so toetakel wonder ’n mens of jy dan maar net moet aanvaar die ou spreuk is reg dat dit nie help om oor smaak te stry nie. Onlangse wyd uiteenlopende sienings in resensies van byvoorbeeld Seine (De Wet 2026) of verskillende menings soos oor Feesmaalgang. (Van der Berg 2025) bring ons ook weer terug by die ou probleem dat daar nie ’n algemeen aanvaarde definisie is van wat ’n gedig is of behoort te wees nie. Nie net is daar ’n wye verskeidenheid soorte gedigte nie, maar selfs al laat ons eksperimentele soorte soos die abstrakte gedigte buite rekening is net die liriese gedig ’n kombinasie van ’n verskeidenheid elemente soos klank, ritme, woordbetekenis, sintaksis en komposisie. Meningsverskille kan dus maklik ontstaan afhangend van waarop die klem vir die beoordeling van die gedig geplaas word, dikwels met die oordeel dat dit niks oorspronkliks bring nie.
Aangesien digkuns ’n vorm van kommunikasie deur middel van taal is, met ’n sender, boodskap en ontvanger binne die kulturele groep, sou mens verwag dat daar in Afrikaans by die reëls van die sintaksis gehou behoort te word. “Die sintaktiese strukturering is bepalend vir ‘n dekodering van die semantiese inligting in enige gesproke of geskrewe teks.”(Gräbe) Kuns wil egter ’n ander perspektief of nuwe invalshoek op die bekende, alledaagse werklikheid bring en die taal word verwring om iets nuut voort te bring. Die woord poësie kom dan ook van die ou Griekse werkwoord poieo (Ek maak of skep) met die naamwoord: poiesis (die skeppingsdaad). Dit plaas dus die klem op die sender en die digterlike vryheid om anders te maak. As Van Wyk Louw (1954:36) dan ’n gedig skryf met “dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek” ervaar die leser iets poëties as gevolg van die progressie in die ooreenstemmende struktuur van “val” tot “breek” al is dit sintakties anomaal.
Oorspronklike taalgebruik in gedigte kom egter dikwels tot stand deur metafore. In haar uitstaande werk oor metafoorvorming illustreer Gräbe (1984) dit met die voorbeeld van “Man is a wolf” wat ’n semanties anomale sin is omdat daar ʼn oorskryding van seleksiebeperkinge voorkom. ʼn “Letterlike vertaling” daarvan sou bv. kon lei tot ’n parafrases soos: Die mens is so vals, wreedaardig en venynig soos ‘n roofdier. Sy bespreek in fyn besonderhede hoe veel ingewikkelder metafore tot stand kom ook dat die betekenaar (tenor) globaal deur klankherhalingspatrone van draers (vehicles) die betekenaar metafories spesifiseer. In I.D. du Plessis (1980:14) se “Duiwe” is dit egter die klankeggo van die draer “duiwe” wat vir die leser duidelik maak dat die draer “druiwe” hier metafories deur die klankeggo van “duiwe” gesien moet word as duiwe wat soos ’n tros teen die lug hang.
Bali se singende duiwe
Omsingel die maan in hul vlug
En hang ’n tros donkerblou druiwe
Aan die hoë prieel van die lug.
Hierdie klankaspek van metafore in oorspronklike taalgebruik in gedigte behoort meer aandag te geniet. “Die klank is een van die belangrikste struktuurelemente van die gedig, bloot al omdat die klank, soos Van Wyk Louw … gesê het, dié komposisiemiddel is wat die digter lei “om ’n geheel te kry” – blykbaar meer as enige ander enkele struktuureenheid (Cloete 1985:6).” Kyk hoe oorspronklik speel Breyten Breytenbach (1977.58) byvoorbeeld met klank en skep eggometafore in “Die swart stad”:
weer jou veral teen die bitterheid, swart kind,
dit, en dat jy nie mag droom nie;
sorg dat jy nie verstik in rooi oë – gevis in slopemmer,
dat jou liggaam nie dik en galsterig word van die gal
wat pal deur jou fosfor-are gaan stoot
(tussen lyf en lyk dryf maar net twee letters sonder o);
knip en kam liewer gereeld jou papajaboom
en onthou die wolke tree op ook vir jou
en rotte eet vullis
ek wil onthou van ‘n swart stad, swart kind
waar jy ook aan die somber lig swel;
seemeeue dans soos rooi ballonne bo die strand,
jy kan ook lag en ook uitbundig,
ook die water streel en dorpe sand bou
ook op en af hardloop langs honderde grappe
Dit is opvallend hoe dikwels daar hier gebruik gemaak word van die basiese digkunsbeginsel van herhaling met afwisseling juis met klankelemente soos gal/pal, lyf/lyk, knip/kam, alliterasie en assonansie. Kyk terloops net hoe subtiel laat Breytenbach sy liggaamlike siening van die lewe deurslaan. Hy gebruik die rymwoorde lyf / lyk om metafories te sê die enigste verskil tussen dood en lewe is seksuele omgang, want voeg mens die letter o by die twee letters f en k wat nie vas is of ooreenstem nie, maar “dryf” tussen “lyk” wat “lyf” eggo, vorm dit “fok”.
Wat egter veral oorspronklik is, is dat aan die einde van die tweede strofe “grappe” in plaas van die semanties verwagte “trappe”, wat verswyg word, staan. Die verwagte woord eggo dus saam en skep ’n metafoor wat die leser die gedeelte laat interpreteer as grappe of humor as ‘n middel wat die kind in die gedig na ‘n hoër vlak ophef, terwyl “op en af hardloop” ook net horisontale rigting kan aandui soos in “Hy hardloop op en af langs die strand”. Die onderliggende verwagte woord en die tekswoord wat met mekaar rym, “trappe/grappe”, werk dus so sterk op mekaar in dat die perlokusie van die boodskap in werklikheid is dat humor ‘n bevrydende mag is wat dit moontlik maak om trapsgewys na ‘n hoër vlak te beweeg.
Fonologiese elemente tree in eggometafore dus wel betekenis genererend op hoewel, volgens die Generatiewe linguistiese benadering, slegs sintaksis en leksikon genererende komponente is en fonologie en semantiek interpreterende komponente. Kyk maar ook net in hierdie tyd van brandstoftekorte na iets soos “Fast is fuelish”. Hier is dit duidelik dat die perlokusie van die metafoor is dat om vinnig te ry dom “foolish” is, want dit gebruik meer brandstof “fuel”. Die skrywer skep dus klankmatig ’n metafoor om sy bedoeling kort en bondig oor te dra. Dit is ook wat oorspronklike digters probeer bereik.
Ons sou die geredekawel van 1920 af nou weer kan voortsit oor wat ’n goeie of oorpronklike gedig is, want ‘n gedig word gevorm deur ‘n groot aantal elemente wat met mekaar vervleg is en werklik soos Van Wyk Louw dit gestel het ‘n “fyn, fyn net van die woord” vorm. Ons kan ons so vaskyk teen een tegniese aspek waarvolgens ons van ander se vertolkings verskil dat ons vergeet daar is vele verskillende invalshoeke. Selfs die treffende teks op papier bly vir my egter soos in musikale terme ’n Händel partituur, maar eers as ek dit kan hoor verander dit in ’n Hallelujakoor.
Bronne
Breytenbach, B 1977. Blomskryf. Taurus, Johannesburg.
De Wet, K. Seine. 2026. Naledi: Gansbaai.
Hambidge, J. 2026. Versindaba https://versindaba.co.za/2026/03/11/resensie-seine-koos-de-wet/
Bennett-Moll, N. 2026. LitNet. https://www.litnet.co.za/heil-die-leser-oor-die-poetika-van-seine-tekens-en-simbole/
Du Plessis, I.D. 1980. Mens en ster. Tafelberg: Kaapstad.
Gräbe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik: teoretiese verkenning en toepassing. Potchefstroom: Dept. Sentrale Publikasies, Potchefstroomse Universiteit vir CHO.
Gräbe, I. “Metafoor” in Literêre terme en teorieë. https://www.litterm.co.za/2010/09/28/metafoor/
Louw, N.P. Van Wyk.1954. Nuwe verse. Nasionale Boekhandel: Kaapstad.
Nienaber, P.J. 1965. Rapier en knuppel. Nasionale Boekhandel: Kaapstad.
Van der Berg, D.Z. 2025. Feesmaalgang. Naledi: Gansbaai.
Hambidge, J. 2025. Versindaba. https://versindaba.co.za/2025/05/14/resensie-feesmaalgang-dietloff-van-der-berg/
McGrath, M. 2025. LitNet. https://www.litnet.co.za/lesersindruk-feesmaalgang-deur-dietloff-van-der-berg/
Olivier, F. 2025. Rapport. https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/fanie-olivier-die-digter-en-die-alfabet-van-god-20251017
Van Taak, S. 2026. RSG, Vers en klank. https://omny.fm/shows/vers-en-klank/vers-en-klank-17-februarie-2026

Dankie Dietloff vir ʼn veelseggende en insiggewende skrywe!
Dankie Margaret, ek glo mens moet ‘n gedig hoor anders bly dit ‘n intellektuele spel op paier.
Kyk maar ook net in hierdie tyd van brandstoftekorte na ‘n eggometafoor in Engels soos “Fast is fuelish”. Hier is dit duidelik dat die perlokusie van die metafoor is dat om vinnig te ry dom “foolish” is, want dit gebruik meer brandstof “fuel”. Die skrywer skep dus klankmatig ’n metafoor om sy bedoeling kort en bondig oor te dra. Dit is ook wat oorspronklike digters probeer bereik.