Bokkeveld toe
As my einde kom, o Here
vra ek nog ʼn laaste genade,
onverdiend, ʼn interlude.
Laat ek en sy langs mekaar
op garingstingels uit die veld opstoot
onder die boog van Septemberson,
kyrie eleison, laat ons blom;
twee klein ou vroue met breë geel hoede
en as die skemer val oor die Oorlogskloof,
o Here, stuur die klipspringer oor my pad
maar nie oor hare, sodat ek ʼn laaste oomblik,
vertrap, nog in die skadu van haar skoonheid
kan wees.
© Natasha Harmse, 2026
