Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
12 May 2026

Wat lees jy? “Elly Holm: Van Berlyn tot Hartbeespoort” (Dieter Holm)

 

Elly Holm: Van Berlyn tot Hartbeespoort deur Dieter Holm, Imprimatur, 2025

Reeds as klein kinders is ons, wanneer ons op ʼn Sondagagtermiddag uitry Hartbeespoortdam toe, daarop attent gemaak dat die huis bo-op Saartjiesnek die Holm-huis is (met prof. Jacques Malan se huis aan die oorkant van die pad bo-op die berg). Baie van ons vriende en kennisse het Elly-Holm kunswerke besit, maar waar ek die eerste keer meer intiem en byna daagliks na haar indrukwekkende kuns kon kyk, was toe ons lidmate was van die Duitse Lutherse Kerk op Kroondal naby Rustenburg. Daar het haar reuse graffiti-kunswerke die mure van die kerk en die kerksaal versier – inderdaad besielend!

Pas verskyn nou Dieter Holm, Elly se oudste seun, se indrukwekkende biografie van sy moeder. In hierdie boek van byna 400 bladsye volg Dieter die hele lewensloop van Elly Holm (11 April 1911 – 9 Desember 2000), vanaf haar geboorte in Koblenz, “die plek waar die vroulik minlike Moselrivier en die manlik forse Rynrivier verenig” (p. 14) tot aan die einde van haar dae “in haar ou Holmhuis” (p. 397) op Saartjiesnek met sy uitsig oor die Hartbeespoortdam. Die verhaal word gerig deur tersaaklike briewe, dokumente en onderhoude, asook herinneringe van mense wat haar geken het.

ʼn Maklike lewe het Elly, die dogter van ʼn Duitse offisier, nie gehad nie. In 1914 word haar vader opgeroep om militêre diens te doen. Hy keer as ʼn siek, depressiewe en aggressiewe mens terug – “verslaan en verslae” (p. 33). Niks sal ooit weer wees soos voor die verskriklikste oorlog in menseheugenis nie. Tydens haar studies aan die Kunsakademie in Leipzig ontmoet Elly die Suid-Afrikaner dr. Erik Holm, ʼn Klassieke Argeoloog en trotse Afrikaner (vader van die bekende entomoloog, prof. Erik Holm). Hulle vestig hulle na hulle troue op Harburg, ʼn Duitse nedersetting in (Kwa Zulu-) Natal, maar moet kort voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog terugkeer Duitsland toe waar Erik ʼn radiopos kry by Zeesen wat pro-Duitse programme in Afrikaans uitsaai. Dit lei daartoe dat hy in SA gevonnis word tot 10 jaar gevangenisstraf vir hoogverraad. Nadat Elly die onmenslike omstandighede van die tweede Oorlog en die na-oorlogse beproewings in Duitsland deurgemaak het, kom sy terug na SA en moet sy vrou- alleen in ʼn vreemde land met ʼn vreemde taal haar weg vind.

Elly, wie se naam “soogmoeder van reuse” beteken, bly nietemin staande. Deur suiwer wilskrag en innerlike oortuiging staan sy haar man. Haar kuns word haar inspirasie. Wanneer Erik weer tuis is, woeker hy saam met haar. Hulle bou saam die huis op Saartjiesnek, Elly word beroemd, haar kuns gesog. Sy word die pionier van sgraffitokuns in Suid-Afrika. In 1950 maak sy die heel eerste sgraffito in Afrika aan die voorkant van hulle huis.

Saam maak Elly en Erik hulle kinders groot in ʼn ruimte wat van kuns en musiek deurstraal word. Die kinders se kunsonderrig behels besielende gesprekke. Haar kunsfilosofie is op die “kan” gerig: “Mens moet oefen om enige handvaardigheid te verwerf … Mens moet die wetmatighede en reëls ken … Dan het jy die nodige werktuie om uit te beeld wat jy gesien het. Dis ʼn soort vertaling waarvoor jy geoefend en fiks moet wees” (pp. 240-1). Daar word in die boek besondere aandag bestee aan enkel kunswerke, aan die styl en uiteenlopende tegnieke wat deur die kunstenaar beoefen is én aan uitstallings en indrukke van kunskenners. Swart-wit foto’s van kunswerke kom dwarsdeur die boek voor, terwyl heelwat kleurplate van kunswerke in ‘n middelseksie verskyn.

Om hierdie fassinerende boek in ʼn kort bespreking saam te vat, is onmoontlik. Die afbeeldings van kunswerke gee die leser insig in die kuns van Elly Holm, terwyl Dieter Holm se idiosinkratiese skryfstyl iéts weergee van die gees van die tyd waarin Elly Holm en haar kinders geleef het, maar ook veral iets van die merkwaardige kunstenaar van Hartbeespoort.

Hierdie is ʼn boek wat die leser innerlik verryk en ʼn kykie bied op die eenvoudige maar sinvolle lewe van ʼn gesin van kunstenaars met Elly as moeder-inspireerder. Die skrywer verreken die ruimte van Duitsland voor en na die Oorloë teenoor die Suid-Afrikaanse ruimte soos ek dit nog nie voorheen bewustelik ervaar het nie.

Hierdie is ʼn boek der boeke. Dit hoort in elke boekliefhebber se boekrak!

– Marlies Taljard

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Wat lees jy? “Maanschijnbaai I: Jo en Sue” (Chanette Paul)
Resensie: “Spienekelientjies” (Antjie Krog, Samest.) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d