In ‘n dag
Die middag hang ‘n kombuisvenster
skeef teen drie uur
Die waaier klap-klap stadig,
klap aan die een kant
elke keer, blaas die aftog oor ‘n bleskop
terug
deur hitte en die reuk van sy koerant
Op die tafel, druiwe
klein organe van die prieel,
en ‘n pyp wat ure laas gerook is
Daar, uit ’n vergeelde foto skyn
’n laatmiddag:
‘n ligstreep deur ‘n skreef in die gordyn
wat soos gister, presies
dieselfde halfpad toegetrek is
Iemand buite sweis aan ’n hek, en
vonke spat kortstondige sterrestelsels
na benede
’n Hond lê met sy rug teen die muur
sy asem lomerig in en uit:
Dit vloei deur die wêreld van Boetrand af
tot in ‘n hawe in Macau
waar neon oor natgekapte vis
teëls vol bloei
Dit spoed oor die wind se internet tot
waar dit daal,
hommel
eindelik neerstryk
Mens ken die tyd van die dag toe-oë
aan die gin en tonic van ‘n renbaan,
perde wat nes gebede
uit die hek bars
Mens sou seker die liggaam
en die siel, alles
daarín en daaróm kon oopskryf
tot op die senings van begeerte
en dood,
mens sou seker in ’n vlieg se vlerk
’n hele kosmologie kon ontdek,
maar
Teen vyfuur smiddae begin die skaduwees
hul kort & lang grammatika oor lig en
materie trek, oral waar mens is,
en die wete dat die dag net
tydelik was
en nou verbrand tot as
© ND Cronjé, 2026
