infinitessimale teorie van bewussyn
in ’n laai
1.
elke dag se lig is nie déél van die kamer nie, maar
is daar in die manier waarop dit
sy eie donker onthou
& uitvee
2.
die tafel dra gewig van alle
bo-blad dinge
wat daar en nie meer daar is nie:
glas, hand, woord,
die klein teerheid en
geweld van aanraking wat lank al verdwyn het
2.1
alles is oorgang, selfs stilte
wat maak asof dit
vir ewig is
3.
my hand in oë is nie myne nie, dis
net ’n tydelike saamvloei van been en sel
& vel met ‘n brein wat dink
dis sy besluit
4.
selfs die muur is nie muur nie
maar ’n idee wat lank genoeg
geduur het
& toe baksteen en beton word
5.
iewers, in ‘n laai
skryf die wêreld homself totaal uit-
asem, hom totaal
uitgesaai
© ND Cronjé, 2026
