Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
25 May 2026

Joan Hambidge. Opperman as kanoniseerder teenoor Karen de Wet as herkanoniseerder

I

Hoe het dit gekom dat Opperman Groot verseboek (en al sy kleinboeties) saamgestel het? Is ‘n digter werklik in staat om gedistansieerd en “objektief” te kan kies? In die reeds genoemde briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman blyk dit dat W.E.G. Louw aanvanklik mede-keurder was saam met Opperman. In ‘n brief aan Ouboet word dit duidelik dat Opperman later maar self die werk gedoen het, omdat W.E.G. Louw gesloer het.

Wanneer die ouer Louw-broer vrae vra oor die keuses, maak Opperman hom attent op die siening van W.E.G. Louw wat wel ‘n implisiete rol gespeel het.

Die vraag natuurlik is: wie sal nou kans sien om Groot verseboek na A.P. Brink se blikboek op te dateer? Wie ken die Afrikaanse digkuns in al sy vertakkinge om hierdie taak te kan voltooi? Kan dit net een persoon wees of sal verskillende keurders moet meedoen? Iemand met ‘n kennis van die Afrikaanse digkuns soos Daniel Hugo en die diplomatieke aanslag van Bernard Odendaal. Of ‘n direkte allure soos H.J. Pieterse of ‘n historiese aanslag soos Johann Lodewyk Marais.

Met die samestelling van Groot verseboek 2000 doen ek navorsing aan Harvard Universiteit in 1999. Ek was een van die buitelesers (aangestel deur Charles Fryer) en die toenmalige uitgewer laat weet my ‘n digter sal sý verse en Ernst van Heerden s’n onttrek as ek op die keurpaneel bly. O die slang in die tuin van Eden.

Daar vanuit die verte laat weet ek die uitgewer: hier is my keuse. Ek onttrek gerus. Laat weet die knorpot (nou saliger) ek is nie meer aan boord nie. Vanuit ‘n verre afstand dink ‘n mens anders oor wát so ‘n samestelling moet behels. Veral as dit ‘n voormalige vriend is wat sy chagrin oor ander kwessies op jou uithaal. My seleksie is wel gebruik, moet ek byvoeg.

Moet die historiese aspek verdiskonteer word? Of moet gehalte (Opperman se “die barometer van gehalte”) seëvier? In ‘n postmodernistiese, eintlik metamodernistiese era, is die kwessie van gehalte alreeds ‘n gelade konsep.

En Opperman wat ‘n spits leser was, het o.a. oor Peter Blum nie in sy tyd korrek geoordeel nie.

 

II

Oor kanonisering en vertaling is daar al meer studies geskryf as wat daar klippe in die Karoo is. Tog is ‘n ernstige kanoniseerder immer bewus van die tydsgees, die reeds gekanoniseerde digters, die belangrikheid van ‘n nuwe stem met die besef dat die kanon kan verander. Dit is nie ‘n monument nie; eerder ‘n huis met vele kamers wat aangebou of geverf kan word. En dus voortdurend onder restourasie is.

In Harold Bloom se beroemde The Western Canon skroom hy nie om standpunt in te neem oor wat hy dink goed of sleg is.

Dieselfde geld Camille Paglia met haar eiesinnige keuse in Break.Blow.Burn.

In sy studie oor Wallace Stevens praat Bloom van “the poems of our climate”.

 

III

Karen de Wet se Vers & vrou (Human & Rousseau, 2020) is ‘n belangrike bydrae tot bloemlesings oor vrouwees. Wanneer ‘n digbundel verskyn, lees ‘n mens die gedigte in samehang. De Wet in haar versameling ontwrig hierdie orde sodat ‘n mens nuut kyk na ‘n bepaalde vers. Sy dekanoniseer die digter en herkanoniseer haar terselfdertyd. Sy plaas verskillende gedigte tematies saam. So staan bekend en onbekend langs mekaar en word die minder bekende een geamplifiseer. Elisabeth Eybers staan langs Antjie Krog. Ons twee heldinne van die digkuns: die classy een en die reguit, onverskrokke Antjie.

Patricia Witz staan neffens Olga Kirsch. Corné Coetzee langs Ronelda Kamfer wat vroue uit die Bybel eiesoortig beskou.

258 gedigte.

Omdat ons almal ‘n bietjie so is, en ook nié is nie, staan op die agterblad. De Wet verwys ook na ander bekende bloemlesings oor vroue: Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en in die prosa is daar Riana Scheepers se Dogters van Afrika, Corlia Fourie se Vrou: mens en Annemarié van Niekerk se bekende Vrouevertellers.

Vroue is lankal nie meer net ‘n aanvulling nie. Inteendeel, in hierdie bloemlesing word die leser bewus gemaak van die krag van die sogenaamde “vroulike aanvulling”.

‘n Besonderse bloemlesing juis omdat onbekende, vergete gedigte opgeneem word. So is die bundel indertyd geresenseer:

https://joanhambidge.blogspot.com/search?q=karen+de+wet Besoek 24 Mei 2026

Karen de Wet het onlangs Marlise Joubert versamel in die bloemlesing Atrium wat by Protea verskyn het verlede jaar.

Vir ‘n uitstekende besinning oor hierdie bloemlesing lees gerus Dewald Koen se resensie op Litnet. Tereg merk hy op:

Karen de Wet se inleiding tot Atrium beklemtoon die ryk geskakeerde leitmotiewe wat sedert 1970 in elk van Joubert se bundels voorkom. Hierdie gedetailleerde uiteensetting stel die leser in staat om oorkoepelende temas en tendense tot met die verskyning van laatnageilande in 2023 raak te lees. Die speurende leser sal veral deur middel van stiplees genot put daaruit om die onderskeie raakpunte met mekaar te verbind.      

Inderdaad wys sy op die verskillende leitmotiewe in hierdie digter se werk en die deeglikheid waarmee sy ‘n oeuvre benader, is opvallend.

https://www.litnet.co.za/atrium-gedigte-1970-2025-deur-marlise-joubert-samesteller-karen-de-wet-n-litnet-akademies-resensie-essay/ Besoek 24 Mei 2026

 

IV

In hierdie dae van smaakmakers, Facebook cowboys en rioolpyp-brekers is dit tog tersaaklik om opnuut Emily Dickinson se woorde in gedagte te hou:

If I read a book and it makes my whole body so cold no fire can warm me I know that is poetry.

En glo my vry: ‘n hele paar keer word die leser bewus van al die relevante vrouestemme in Afrikaans en dink ‘n mens opnuut aan Emily D.

Camille Paglia, ‘n student van Harold Bloom, se lesing van háár as ‘n sadomasochistiese digter sal verder ondersoek word. Sy tipeer haar “Amherst’s Madame de Sade” teen die Victoriaanse idee van haar as ‘n slagoffer.

 

Joan Hambidge

23 Mei 2026

Bronne:

Bloom, Harold. 1977. Wallace Stevens: The Poems of our Climate. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

– 1994. The Western Canon. New York: Harcourt Brace.

Kannemeyer, J.C. 1990. Die dokumente van Dertig. Kenwyn: Jutalit.

Paglia, Camille. 2005. Break. Blow. Burn Paglia. New York: Pantheon Books.

– 1990. Sexual Personae: Art and Decadence from Nefertiti to Emily Dickinson. New Haven: Yale University Press.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Uitenetreure
Joan Hambidge. C.M. van den Heever →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d