I
Kanonisering van skrywers wat sowel digters as romanskrywers is, blyk immer kompleks te wees. C.M. van den Heever ontvang die Hertzogprys in 1928 vir Die nuwe boord en in 1942 vir Laat vrugte. Somer is ‘n besonderse boek waarin ons die wandelaar ontmoet met sy donker geheim. Plaaslewe, die natuur, uitmergelende werk en konflik tussen mense en die natuur waaraan almal uitgelewer is. Die roman ondersoek rasspanninge en liefdesleed.
Dit verskyn in 1935 en beleef talle herdrukke. ‘n Mens kan die roman ook ontsluit deur die tarot daarop van toepassing te maak. Dit is eweneens verfilm met ‘n draaiboek deur André P. Brink. Met ‘n jong Anneline Kriel in die hoofrol. ‘n Film in 1975 deur Sias Odendaal as die regisseur. Die film is volledig op you tube te siene.
En hier is die roman:
https://www.dbnl.org/tekst/heev001some01_01/heev001some01_01_0001.php Besoek 31 Mei 2025
Vir die lewensloop:
https://www.litnet.co.za/cm-van-den-heever-19021957/ Besoek 31 Mei 2026
En ‘n raadgewer vir Eybers in Johannesburg.
II
C.M. van den Heever (1902 – 1957) word in Opperman se Groot verseboek (1951) soos volg gebloemlees:
Die konsertina in die nag, O koele water van die spruit, Voëls in die skemering, O verre wydtes, Die gevalle Zoeloe-Indoena, Eenmaal, Die vertrekkende wildeganse, Afrika, Die ewige kind, Die gepensioeneerde en uit In Memoriam Patris.
In ‘n vorige bespreking is daar gewys oor die verskillende standpunte tussen Louw en Opperman oor sy digkuns. Louw wat voel dat Opperman Van den Heever bó W.E.G. Louw plaas.
J.C. Kannemeyer is skerper en minder vleiend: ”As gevolg van die newelagtige voorstellings, gebrek aan beelding en slordige tegniek moes Van den Heever betreklik vroeg sy posisie as digter prysgee” (1978: 313). Dalk is die Romantiese aanslag nie reg ingeskat nie?
‘n Skrywer bly egter voortbestaan wanneer daar parodieë of reaksies op tekste geskryf word. Koos Kombuis se Somer II (1985) en Cloete se hommage vir Van den Heever, o.a.
Lees gerus L.S. Venter se artikel “Vondste uit de oude doos: Hommage á T.T. Cloete” wat in 1993 in Literator verskyn het:
https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/712/882 Besoek 31 Mei 2026
En Heilna du Plooy aangehaal op Litnet:
Heilna du Plooy skryf in haar bydrae in die nuutste uitgawe van Perspektief en profiel (redakteur, HP van Coller) dat C.M. van den Heever ’n belangrike figuur in die Afrikaanse letterkunde van die eerste helfte van die 20ste eeu is. “Sy oeuvre bevat sterk hoogtepunte en vanselfsprekend ook werk van mindere gehalte, maar in vele opsigte het hierdie werk ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die literatuur wat daarop gevolg het. In sy werk het temas soos kosmiese bewussyn en literêre vorme soos die plaasroman beslag gekry, en waar dit eers as norm gesien is, het dit later as teëpool gedien vir vele gedigte en romans wat juis téén die stereotiepe vorm in geskryf is. Saam met ander skrywers uit die dertigerjare vul C.M. van den Heever dus ’n belangrike plek in die historiese ontwikkeling van die Afrikaanse literatuur. Ten spyte van Van den Heever se donker siening van verganklikheid en die vervlietende aard van skoonheid, bly daar inderdaad ‘spore in die woestynsand’ oor.”
https://www.litnet.co.za/cm-van-den-heever-19021957/ Besoek 31 Mei 2026
Die digter het aangrypende verse geskryf oor ‘n waterhoof en ‘n meesmuilende pensionaris.
En oor die Zoeloe-indoena:
Hier waar jy was, sal skape wei.
‘n Mens dink immer aan Harold Bloom se siening van belatedness. The anxiety of influence en die skrywer wat worstel met figure wat sig voorafgaan. Hierom dan misprision en ‘n poging om ‘n nuwe ruimte te vind.
Kanonisering is ‘n proses: iets wat binne ‘n bepaalde tyd plaasvind, maar met lesers wat later anders en nuut kan lees.
III

Talmende onsekerheid
‘n Ballade
Ene Toetoe Jordaan (IX A)
se inskrywings met potlood
in C.M. van den Heever se Somer
neem my terug na tye van nood.
Toetoe (sic!) laat my terugdink
hoe my vader aanhaal uit die begin:
“Soe!” roep die wandelaar uit
en laat sy bondeltjie goed sak.
Dan trots gewys na die Maggie L
op die voorblad, terwyl ons luister
wat die roman als behels vir hóm:
“Agter lê die blou reekse berge …”
Onbekoor was ek toe aan’t lese:
Die halwe kring én boeke vele.
Nou soos die Dalai Lama herstel
ek horlosies in vele tydsones.
Toetoe Jordaan onderstreep die nietigheid
van die mens teenoor die groter natuur.
Oom Tom op Driefontein groothartig
(‘n karakter) met sy edelmoedigheid.
Sien die kaf soos in wolkies wegwaai,
toordery, die gooi van dolosse se draai
met donderwolke se reise geheimsinnig
vervlugtende boodskappers van onheil.
L’envoi
Met dit alles moet ek my ou vader gelyk gee:
oor nood, die maan as heerser ongenaakbaar
skuiwend oor die hemelruim, simbole tasbaar …
Maar veral, veral oor tyd, die dood én die teodisee.
© Joan Hambidge
Joan Hambidge
Kaapstad
30 – 31 Mei 2026
Bronne:
Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.
Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (Band I). Kaapstad: Academica.
