Woordterminaal
Het beste woord dat ik kan geven is
een luisterapparaat voor een geweldige stilte.
Hans Andreus
Iedere woord open op ’n agterkamer van begrip
of verlies. Ek staan voor die ingang, en die deur
skuif oop met my taal as terminaal van toetrede.
Of vertrek. Ek tree oor die drumpel, na ontvangs
se hartlike glimlag, en herken in die stram kodes
my totale gewaarwording van segging en spraak.
Hierdie is die argief van kognisie, besef ek, hier
is die gegewe wat ek moet beteken, die paspoort
wat benodig word vir toegang tot die vertrek
onderliggend
aan lettergreep en klank.
Toegegee, die woord vertrek is dubbelduidend
soos in die diagnose van ruimte of heenreis,
enersyds aankoms, andersyds afskeid.
Maar hier is waar trollies kom, en trollies
gaan, asof terminaal, tot met
die allerlaaste, want
die uiteinde is immers net ’n pouse,
synde ’n afsluiting sonder deurgang
of betekenis –
bloot ’n skrifteken
met die stilte
as ’n laaste luisterpunt.
© Louis Esterhuizen / 2026
