Blesbok
Damaliscus pygargus phillipsi
Die naakte waarheid van die lewe se begin
bly stil en sag in gras wat wyd uitsprei.
Op die eskarp kyk ek oor die aarde
en onverwags merk ek die plasenta
van die ooi wat oor die klipplate wei
met ’n kalfie steierend aan haar sy.
© Johann Lodewyk Marais, 2026

Dankie, Joan. As kind het ek dikwels gesien hoe van die boere om ons met blesbokke boer. Nou en dan het ons in die veld ’n vaalribbok raakgeloop of ’n skaam steenbokkie sien wegspring. Tog was dit veral die bokhorings op die stoepe van die plaashuise wat my eindeloos gefassineer het, saam met die vae herinneringe wat in stories oor die Riemland vertel is – daardie jare toe jag byna onbeheersd plaasgevind het.
Die horings van bokke het my nog altyd geboei. Toe die illustreerder saam met wie ek werk begin het om bokke en hulle horings te teken, het ek ook begin om oor bokke te skryf – juis sodat hulle geteken kan word. Bokhorings kan ’n mens inspireer: dink maar aan die indrukwekkende horings van bokke/antilope in die kroeg van die Lord Milner Hotel op Matjiesfontein, wat N.P. van Wyk Louw se verbeelding geprikkel het om Raka te skryf.
Pragvers Johann. Maak ‘n bundel hiervan.