Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
18 May 2026

Joan Hambidge. Bul teen bul

 

I

Digters tree immer in gesprek met mekaar. Ons dink hier aan T.S. Eliot en Wallace Stevens. Opperman en Van Wyk Louw. Vir elke digter is dit ‘n voorreg om gemeet te kan word aan tydgenote. In my loopbaan as digter is daar Antjie Krog, Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Daniel Hugo, H.J. Pieterse, Johan Myburg, Lucas Malan, o.a. Later dan ook Gilbert Gibson en digters wat onder my gewerk het. In my besit briewe van Eybers, Cloete, J.C. Steyn, I.L. de Villiers, Dolf van Niekerk, onder meer. Vele telefoniese gesprekke met Dolf en Pater Sakkie oor hul manuskripte. Dolf se uitsonderlike humor moet vermeld word. Petra Müller. En ‘n vriendskap met Wilma Stockenström.

In die studie In memoriam Johann de Lange karteer Johann Lodewyk Marais die belangrikheid van vriendskappe. Dit verskyn later vanjaar by Naledi. Johann Lodewyk Marais se besinning wys op die reaksie tussen ons drie. Johann Lodewyk skryf soos volg oor JdL:

Terwyl Johann in die Kaap gewoon het en later vir agtien jaar in ’n woonstel in Testerstraat in Vierlanden, Durbanville, gebly het, was dit vir my moeiliker om hom gereeld te besoek. Tog het ons kontak voortgegaan. Hy het telkens waardevolle insette en kommentaar oor verskeie van my bundels gelewer en was altyd bereid om te help – sonder enige vergoeding, al het ek hom graag wou betaal. Veral met my bundel Nomade (2014) het hy nuttige voorstelle vir die afronding gemaak. Uit dankbaarheid en erkenning vir sy hulp, en as ’n teken van vriendskap, het ek die bundel aan hom opgedra. By geleentheid het hy ook my mening oor van sý gedigte ingewin (25).

Ook my werk het De Lange gelees, soos ek sy tekste, en ons het bundels aan mekaar opgedra. ‘n Enorme verlies aan ‘n mentor én raadgewer. Gedigte oor Johann loop reg deur my digkuns. ‘n Vriendskap-in-woorde stel ander eise as een in die werklikheid.

Ek het Johann wel besoek in Vierlanden. Ons drie digters het mekaar wedersyds erken én gerespekteer. Sonder jaloesie en met waardering vir elkeen se eiesoortige blikhoek. Gesonde kompetisie bepaald.

 

II

Een van die grootste digterlike gesprekke in Afrikaans, is tussen N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman. In Die dokumente van dertig staan die briewe tussen hierdie twee digters opgeteken.

Hoe hulle mekaar troef in ‘n woord en wederwoord. Komas uit ‘n bamboesstok is die finale antwoord op Tristia.

In hierdie briewe sien ‘n mens twee verskillende digterlike persoonlikhede. Opperman wat briewe dadelik beantwoord en Louw wat dikwels ‘n bietjie draal. Die aardse mens teenoor die verhewe, afstandelike intellektueel.

Die uiteindelike breuk tussen die twee digters het te make met verskillende sieninge van literatuurkritiek. Louw wat gevoel het die mens agter die boek moet met rus gelaat word, terwyl Opperman in Digters van dertig alle inligting gebruik om ‘n digter se werk beter te verstaan. ‘n Studie wat sy tyd ver vooruit was in die betrekking van die buite-teks.

Behalwe vir die literatuurverskille was Opperman ook gekwets oor Louw se stilte oor geskenke soos ‘n kraalversierde danskierie; hy promoveer en ontvang geen gelukwensing nie; hy lees die strook- en bladsyproewe van Dias, maar ontvang geen eksemplaar as dank nie; hy het verskeie onderhoude met Nasionale Pers gehad om te reël vir die herdruk van Lojale verset, maar ontvang geen dank nie  …

(310).

Ons verneem ook hoe Opperman in gesprekke (dikwels in ‘n kroeg) notas geneem het.

Opperman het gevoel dat Louw hom beledig het in sy briewe en eers in 1957 sien hulle mekaar weer wanneer Opperman na Europa reis. Hulle ontmoet in Amsterdam en beide verdedig weer hul standpunte.

Helaas was die spontaniteit van die verhouding vir altyd daarmee heen, aldus Kannemeyer:

“In hulle verhouding was daar ‘n element van gewapende vrede ontwikkel” (310).

Onderliggend aan die spanning was daar by Opperman ook die gevoel dat Louw sy broer W.E.G. Louw oorskat het ten koste van C.M. van den Heever as digter. (Dalk ook oor Cussons?)

Ten spyte hiervan het Opperman altyd die grootste waardering vir Louw se werk gehad. Tristia was een van ons voorgeskrewe werke in my derdejaar in 1977 aan Stellenbosch in die kursus wat Opperman aangebied het. Hier by die bekendstelling van Komas:

 

Die kunstenaar Philip Terblanche, Opperman en die uwe.

 

III

Pynlik hoe Opperman ná die dood van Van Wyk Louw op 18 Junie 1970  in ‘n kreatiewe stilte ingaan.

Sy intense siekte verlos hom uit hierdie impasse wanneer hy Komas uit ‘n bamboesstok in 1979 publiseer.

 

Vir my is daar nooit ‘n keuse tussen hierdie twee digters nie. Uitsonderlik elk in eie reg. Net soos dit onmoontlik is om te kies tussen Wallace Stevens en T.S. Eliot.

 

 

Joan Hambidge

Kaapstad

17 Mei 2026

 

Bronne:

Kannemeyer, J.C. 1990. Die dokumente van Dertig. Kenwyn: Jutalit.

Opperman, D.J.   1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.

– 1964. Kuns-mis. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

 

Vir wie skryf jy dan jou gedigte?

JdL en die hele santekraam

 

  the love and legal verbiage of another will,   

  boxes of pictures of people I do not know.

  I touch their cardboard faces. They must go.

– Anne Sexton

 

Hitchcock het glo warm sjokolade

in plaas van bloed in Psycho gebruik

en Virginia Woolf het elke dag Proust gelees.

 

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

 

Eybers kon haar daagliks oorgee aan woorde

en met ironiese afstand tussen twee lande

(en twee tale) uitroep: “Dis kruis of munt.”

 

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

 

Jonger digters dans ’n pirouette, lig die lem

vir ’n nadoodse ondersoek, ontwikkel foto’s

met byskrifte en onderskrifte in ’n donkerkamer.

 

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

 

Die lewe tussen pikkewyne en adders,

in die tyd van uile of toevallige tekens

hoor die gegrom van slapende honde.

 

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

 

Digters, soos modes, kom en gaan, kom en gaan.

Die een loop doekvoet, doekvoet met die dood,

die ander een smag na vlerke vir ’n houteend.

 

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

 

’n Ander een sing ’n bitterbessie in haar keel,

’n ander dans in die Tsitsikamma op ’n wilde maat,

Toe dit nog vroeg was, vroeg was met ’n tempermes.

 

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

 

Die gedig is ’n reis na vreemde beserings,

na ongekaarte streke, word ’n diorama

vir die speurende leser se oogensiklopedie.

 

© Joan Hambidge

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “Vryval” (Pieter Hugo)
Onderhoud met Johan Myburg oor sy nuwe bundel “Steierwerk” →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d