Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
8 June 2026

Joan Hambidge. Digterlike taal in die prosa

 

I

The only book that is worth writing is the one we don’t have the courage or strength to write. The book that hurts us (we who are writing), that makes us tremble, redden, bleed.

― Hélène Cixous

 

Soms verskyn daar ‘n roman wat ‘n leser daaraan herinner hoe arbitrêr die grense tussen prosa en poësie is. In die werk van Hélène Cixous word ons bewus hoe die twee genres bymekaar aansluit. So ‘n teks is Annemarié van Niekerk se Die oorkant, wat sopas by Tafelberg uitgewers verskyn het.

So word die boek bemark:

Twintig jaar gelede moes Ada noodgedwonge haar grootwordplaas in die Goukou-vallei verlaat. Aan die oewer van die silwerwit getyrivier keer sy nou terug na die geheime van haar kinderjare. Terwyl Ada bly by haar vriendin Mel, ’n omgewingsnavorser, probeer sy deur haar skryfwerk die skimme van haar verlede tem.

Maar hoe meer sy soek na die kind met die swaaiende rooi emmer wat agter haar pa aanloop om garnale te gaan pomp, hoe meer ontglip dié kind haar. Want die kind weet hoe om wegkruipertjie te speel sonder ’n den, die kind weet dat alles in die skemer ’n ander lewe kry, dat alle reëls verdwyn. Die kind weet hoe dit voel om verlangend na jou ma se reuk te soek en hoe dit klink as jou broer se gehuil in die skuur deur die jare ’n ander klank kry. Die kind weet hoe groot die klein woordjie “Pa” kan word, daardie woord wat jou nie wil loslaat nie.

’n Onthutsende en ontroerende roman oor gesinsgeweld en die vrae of die natuur verligting en die tyd genesing kan bring.

https://www.jonathanball.co.za/product/die-oorkant_final-cover-jpg/ Besoek 6 Junie 2026

 

II

‘n Verhaal onstuimig vertel oor die grensoorlog én die oorgang na ‘n nuwe bestel, met Esias wat die gedroogde naelstring van die Ovambo-vrou se baba om sy nek dra. ‘n Riempie met ‘n koeël om sy nek. Ada se verhaal teenoor die vader s’n. Met die broer en Mel as teenspelers. Daar is verwysings na Freud en drome geplaas teenoor etnobotaniese navorsing en die Hessequa, een van Khoekhoen-stamme waar die roman afspeel. Boesman-danse en rituele. !gi en !nau.

Dassiepis en die dassiemoeder wat haar kleintjies ken aan die reuk wat sy op hulle gelaat het.

‘n Geheim wat ander geheime losmaak. Die ewige sirkelgang van geweld geplaas teenoor die groter gewelddadigheid van die politieke bestel. Die leser moet self hierdie ongelooflike reis meemaak wat o.a. Puccini se Madama Butterfly aktiveer.

En Joni Mitchell se Big Yellow Taxi is ook hier:

https://www.youtube.com/watch?v=2595abcvh2M Besoek 6 Junie 2026

Natuurlik … ons kyk nou na die lewe (aldus Joni) van beide kante .. of van die oorkant.

Leuens binne-in-leuens om die mens te beskerm.

Jean Lombard se studie oor die Waterslang in die Suider-Afrikaanse kultuurgeskiedenis en letterkunde is relevant. Die Waterslang as ‘n sentrale figuur in Boesmanmitologie en streekverhale word vir hierdie leser tersaaklik. Hier is ‘n onderhoud:

https://www.litnet.co.za/tien-vrae-jean-lombard-oor-die-ding-in-die-riete/ Besoek 6 Junie 2026

 

Slange is volop in mites en verhale. Wat was vir jou die belangrikste aspekte om in hierdie boek te beklemtoon en waarom?

Wat vir my die verrassendste was om vas te stel, was die feit dat daar soveel waterslangverhale – oor dieselfde wonderslang as waarvan die Khoekhoen en die Boesmans vertel – in Afrikááns bestaan, mondeling en skriftelik. Ek kon dus die afleiding maak dat die waterslangargetipe deel uitmaak van Afrikaanssprekendes se onbewuste, dalk selfs van ’n bewuste geloof – hoewel baie mense dit as bygeloof sal dui.

Maar ek het ook gevind dat die grense tussen geloof en bygeloof nie altyd so fyn te onderskei is nie. Wat vir die een geloof is, is vir die ander by- of ongeloof. Linda Rode het in ons bekendstellingsgesprek ’n vriend aangehaal wat haar daaraan herinner het dat wat tans vir baie mense mite is, vroeër as waarheid gegeld het.

Verder is die geloof aan die waterslang – en ander soortgelyke verskynsels – nie net tot Suider-Afrika beperk nie. Oral in Afrika – en op ander kontinente – waar daar riviere, mere, poele of kuile voorkom, word daar verhale vertel oor een of ander soort watergod. As gevolg hiervan ontstaan vergelykingsmoontlikhede tussen verskillende letterkundes die wêreld oor.

Hoekom is dit vir my belangrik om deur middel van verhale in Afrikaans (sommige in vertaling) hierdie aspekte by ander lesers tuis te bring? Dit was vir my verrassend en insiggewend dat daar tussen die verskillende bevolkingsgroepe in Suider-Afrika ten opsigte van wonderslangverhale soveel verwantskap bestaan. Hierdie verwantskap kan ook verder uitgebrei word, na die slangverhale van Indonesië.

 

III

‘n Kaleidoskopiese boek wat handel oor primordialiteit én transformasie, soms geskryf in poëtiese taal.

So sluit hierdie roman:

 

Toe alles stil word, toe daar geen beweging, geen geluid meer is nie, voel ek hoe ‘n vangnet, fyn soos spinnedrade, my veerlig omhoog trek, meeneem op die aanddamp, hoër en hoër. Toe die laaste kraletjie aan die snoer van mense en plante verbykom, steek ek my hande uit, gryp dit vas en voel hoe ek in die kielsog van alles en almal meegevoer word, soos op die stert van ‘n helder komeet. Maar dis nie meer nodig om vas te hou nie, ek is aan die snoer geryg. Ek kyk af ondertoe, oor die vallei waar die missluier intussen verdamp het, waar die rivier, van bo in die berg tot onder by die see, uitgestrek lê soos ‘n glinsterende silwer lint. ‘n Ster verskiet. (249)

Die hambre del alma (sielhongerte) word ten slotte opgelos.

Hélène Cixous se artikel “Castration or Decapitation?” opgeneem in Robert Con Davis se Contemporary literary criticism aktiveer eweneens ‘n belangrike leesopposisie tussen manlik/vroulik. Oor die wyse waarop vroue tot stilte gereguleer word, skryf sy: “Women have no choice other than to be decapitated, and in any case the moral is that if they don’t actually lose their heads by the sword, they only keep them on condition that they lose them – lose them, that is, to complete silence, turned into automatons (1989: 481). Mans vrees in die Oedipale-struktuur kastrasie; vroue vrees onthoofding, stilte, die ontkenning of negering van die intellek.

En in hierdie roman word die vroue uit stilte gered. Deur vertellings waardeur die verlede gekonfronteer word.

In die roman lees ons:

 

“Uit die hoek van haar oog sien sy die see skitter, soos stukkies perlemoen, soos die blinkende skulpgruis onder haar voete … dit priem deur alles, deur haar blik, haar gehoor, haar herinnering –“ (159).

 

Dit beweeg terug na Lies wat uit die huis gesmyt word:

 

“Deur die kombuisvenster hou sy Lies dop: hoe sy verby die wasgoedlyn loop, oor die werf, verby die koelkamer onder die bloekombome, tot by die paadjie wat na die huisies agter die heuwel gaan, hoe sy skop-skop loop en die sand in ‘n stofstreep agter haar aan dwarrel, die twee sterre dansend bo haar kop.” (114)

 

En:

 

“Dis donker in die tonnel, verstikkend, die stilte suis in haar kop. Stiksuisdonkerstil.” (65)

 

Die roman dwing jou as leser om telkemale stil te staan by die wyse waarop vertel word en die krag van die digterlike aanslag.

Hierdie leser het dan ook die vertelling eers chronologies gelees en toe weer van agter na voor om by die taal stil te staan.

Cixous se oneindige sirkelgang van begeerte is eweneens tersaaklik. Begeerte hier om closure of sluiting te vind.

 

IV

So is daar indertyd oor Djuna Barnes geskryf in die Vrye Weekblad  van 10 Julie 2024:

Djuna Barnes

“None of us suffers as much as we should, or loves as much as we say. Love is the first lie; wisdom the last.”

 

Djuna Barnes: Nightwood.

 

I

Die digter en prosaskrywer Wilma Stockenström het Djuna Barnes se Nightwood (1936) jare gelede by my aanbeveel. Dit vat nie veel van ‘n raaiskoot om te weet dat die skrywer van Die kremetartekspedisie sou dink Barnes se prosa is briljant nie.

Kompak. Gelaai met implikasie. ‘n Novelle wat jy weer en weer kan lees. Komplekse, ondeurdringbare prosa.

Gebore in New York hierdie omstrede figuur. Ook joernalis wat ‘n onderhoud gevoer het James Joyce, maar ons weet nie vandag hoeveel is gefiksionaliseer nie. (Oppas vir skrywers as joernaliste, meen die uwe, hulle kén van die waarheid gelieg.)

Gebore 1892 en oorlede 1982 op ouderdom van 90. Ook digter, kunstenaar en dramaturg.

In die dertigerjare gereis na Europa en Noord-Afrika.

 

II

“The perfume that her body exhaled was of the quality of that earth-flesh, fungi, which smells of captured dampness and yet is so dry, overcast with the odour of oil of amber, which is an inner malady of the sea, making her seem as if she had invaded a sleep incautious and entire. Her flesh was the texture of plant life, and beneath it one sensed a frame, broad, porous and sleep-worn, as if sleep were a decay fishing her beneath the visible surface. About her head there was an effulgence as of phosphorous glowing about the circumference of a body of water – as if her life lay through her in ungainly luminous deteriorations – the troubling structure of the born somnambule.”

 

Djuna Barnes: Nightwood.

 

Nightwood word as ‘n lesbiese kultusroman beskou en sy is uiteraard die voorganger van Jeanette Winterson. Daar is vele mites oor die lewe van Barnes. Openlik in verhoudings met vroue; dog in haar latere lewe ontkennend hieroor.

(Dalk eerder biseksueel.) Daar was gerugte dat sy dalk as jong meisie verkrag is deur ‘n familievriend. Haar diep afwysing van haar familie kom helder in die drama Antiphon na vore. Elsa von Freytag-Loringhoven, die beroemde Dada-kunstenaar, was ‘n vriendin, met ‘n duidelik lesbiese verbintenis in die briewe tussen hulle. ‘n Erotiese huwelik met ‘n boek as die liefdeskind. Verplaasde hartstog.

Carson McCullers en Anais Nin was groot bewonderaars van Barnes wat sy met minagting geïgnoreer het. Djuna Barnes was wel positief oor die digter Marianne Moore, dalk weens haar eie digterlike aspirasies?

In 1936 verskyn Nightwood met T.S. Eliot, wat ‘n begeleidende inleiding geskryf het oor poëtiese prosa. (Eliot, die groot digter, was ook ‘n enorme belangrike uitgewer by Faber and Faber, wat o.a. Anita Loos se Gentlemen prefer Blondes gepubliseer het in 1925 en vertel het hoe hy gelag het by die lees van die manuskrip. Eliot het die taal van albei romans “versag” weens die sensuur van die tyd.)  Loos se roman is verfilm met Marilyn Monroe en Jane Russell, ‘n film wat ‘n mens by herhaling kan kyk vir die humor en gekheid. Howard Hawks se 1953-film is ikonies.

https://www.imdb.com/title/tt0045810/ Besoek 6 Junie 2026

 

Nightwood speel af in die twintigerjare in Parys en is geskryf met die geldelike hulp van Peggy Guggenheim. (In een van Woody Allen se mindere films Midnight in Paris in 2011 maak Barnes ‘n klein kamee-vertolking. In stilte.)  Die aangrypende roman bly ‘n baken binne feministiese literatuur en handel oor die einde van ‘n liefdesverhouding tussen twee vroue. Werklike verhoudings, maar gefiksionaleer in digterlike taal.

 

III

William Burroughs het gemeen dis een van die grootse letterkundige werke van die twintigste eeu.  Die digter Dylan Thomas was eweneens gaande oor hierdie roman en dit word elke jaar op die treffersparade van gay-romans geplaas.

Dit is nie relevant of Thelma Wood die model vir die roman was nie en of e.e. cummings haar buurman was nie. En of sy gestalk is deur baba-lesbianiete in die omgewing nie. En of sy dalk te veel gedrink het nie en of haar hart ten slotte gebreek is nie.

Eliot verwys na die teks as ‘n soort Elizebethaanse tragedie.

Die roman staan op die ereplek tussen ander klassieke tekste in my skryfruimte: Karel Schoeman, Nabokov, Perec, Saul Bellow, Philip Roth. Sy staan neffens Op ‘n eiland.

Háár reputasie is verewig in hierdie monument van ‘n boek: Nightwood.

“I have been loved,” she said, “by something strange, and it has forgotten me.”

Djuna Barnes: Nightwood.

In 1980 het ek as jong reisiger die boek gekoop in San Francisco. Krabbelaantekninge langs belangrike passasies soos dat ‘n mens nou jou aard kan ontglip nie. Hierdie verhaal wat handel oor die negejaar lange verhouding met die kunstenaar Thelma Wood op die linkeroewer in Parys. Met dr. Matthew Mighty-grain-o-sand met monoloë.

‘n Klassiek in Saffiese Modernisme, meen Sarah Churchwell in Defining Moments in Books.

Die barok flambojansie moet beklemtoon word, skryf Churchwell.

Beter kan niemand dit beskryf nie.

 

 

Joan Hambidge

Kaapstad

6 – 7 Mei 2026

 

Bronne:

Cixous, Hélène. 1977. Die Unendliche Zirkulation des Begehrens. Berlyn: Merve Verlag.

Con Davis, Robert (red.)  1986. Contemporary literary criticism. New York: Longman.

Barnes, Djuna. 1936. Nightwood. Londen: Faber & Faber.

Lombard, Jean. 2014. Die ding in die riete. Kaapstad: Tafelberg.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Brief aan die tinktinkievrou
Joan Hambidge. Nommer 150:  Die dubbelsinnige huldeblyk →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Gedigkompetisie: Praat ’n slag (weer) met N.P. van Wyk Louw en/of sy grootwordwêreld!
  • Meyer van Rensburg. Werkwese
  • Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)
  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel

Nuutste kommentaar

  1. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

  2. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  3. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  4. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  5. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d