I
Die digter Ernst van Heerden (1916 – 1997) het altyd spottend na homself verwys as ‘n major minor poet. Tog is hy telkemale bekroon én vereer met eregrade. Hy ontvang die Hertzogprys tweekeer: in 1962 en in 1975. Eers vir sy bundel Die klop (1961) en dan vir Teenstrydige liedere (1972). In 1991 ontvang hy die Gustav Prellerprys vir Literêre Kritiek.
In 2016 het Bernard Odendaal ‘n uitstekende huldiging vir hom geskryf op die Versindaba.
https://versindaba.co.za/2016/12/04/bernard-odendaal-huldiging-ernst-van-heerden/ Besoek 14 Junie 2026
Daar is vele studies oor sy werk soos Lucas Malan se Paradoks en parabool: ’n Studie oor Ernst van Heerden se latere poësie wat in 1992 verskyn het by HAUM-Literêr.
II
Hy is ook deur mededigters vereer en puik vertaal deur Jean Branford.
Drie gedigte van Johann de Lange oor Van Heerden gee ‘n nuwe blik op die konsep huldiging.
In Snel grys fantoom 1986:
Ernst Van Heerden (1916 – )
Akrobaat, atleet, arties,
kan hy nog net in verse wees,
die pronkertjie van Pearston
kordate pluimpie in die hoed
en die ooglopendheid van die jeug
in sy houding en helder oë:
Running he knew the most he ever knew,
The egotism of a healthy body.
Tot fantoombelewings ingeperk,
maneuvers tussen boekrak
en bed, televisie en telefoon,
ken hy nou die anatomie van verlies,
die klok wat met elke tik-tok weg-
gekloof het aan sy snel jonkmanslyf en -jare,
die paddaslagter, die swart abramdikpense:
Lift the stone and you shall find me;
cleave the wood and there am I.
Die boom van Pearston is stadigaan
kishout aan ‘t worde. Die dikkedensie
het Pearston toe ook getref
en sy mooi seun is steeds
been-af op die poësie.
De Lange gebruik die werklike amputasie van die digter én sy egoïsme.
Opperman gee ook ‘n blik hierop in Komas uit ‘n bamboesstok:
Antieke klok
- J. Opperman
Vir Ernst van Heerden – wat vir TV se gebruik
’n lykrede oor my gelewer het
Uit die aamborstige getik
van die antieke
meubelstuk
van bal en klou,
het jy op Pearston ooit kon dink
jy is vir nagraadse lesse
anatomies voorbeskik
vir slyp en klik
van goddelike messe?
Die stetoskoop
proe eers jou bors,
jou rug, jou hart,
jou pees en vlees
verklaar
jou fris uit die Karoo
geskik
vir die operasie: gees.
Jou een voet
geamputeer. Jy word
weer op die skaal gegooi –
nog ’n fraksie afgeflens…
die wyster wys
jy is twaalf kilo
nog te veel flirtasie mens.
Weer op die blok:
die een been afgesaag –
die wyster sak,
kwart voor twaalf –
uit die Karoo: skilpad en akkedis –
die prys en bloeddruk laag,
die kopers kyk
en vergelyk
maar koop nie graag.
Nou kom daardie uur
van ons menslike natuur
waar ’n simpatiese gestel
deur die skepping heen
jou na die afwesige –
’n mens/’n ander been –
verteer met kouevuur.
Jy word vir keurders opgeveil:
’n sonvis –
tussen waaiervinne
die spleet van ’n mosselmond
met die lippe effens oop
en die tong as mossel binne.
Van vorm tot vorm
gekerf en weer gekerf
tot bekoorlike barok
vir daardie blik
van die antieke klok
wat sonder mededoë
stop of tik
waar jy en ek
soldaat en akkedis
tot kille kuns verstrak
voor opwengate
van diep medusa-oë.
En so klink De Lange:
Sprinkaan
vir Ernst
Ken u ’n groen sprinkaan?
Oor Kerkplein kom hy
teen bitsige werwelwinde
in gebeur een wintersoggend
kompleet met vliegbril
soos ’n transatlantiese
pionier-vlieënier,
’n vreemde groen gedoente,
kom hy in met sagte
pienk binnevlerke
u i t g e s p r e i
om op my skouer te land.
Ek draai my kop
’n tydlose aks
om my besoeker te takseer:
die lyf van skutmetaal,
die groen bril
waardeur hy my betrag,
onverwonderd, strak.
Maar my skouer blyk
’n onstabiele landingstrook.
Sy enjin snor weer aan,
hy sirkel ’n slag
skepties om my molog-kop
& sit dan swalkend noord
sy antieke vlugplan voort.
https://johanndelange.blogspot.com/2012/12/verse-vir-ernst.html Besoek 15 Junie 2026
‘n Paddaslagter is ‘n stomp mes en abramdikpens ‘n koringkriek. Die kordate digter is verinneweer deur die amputasie. Die eens beroemde sportheld is ingeperk en ‘n invalide.
Daar is egter twee aspekte van De Lange se vers wat my opval, te wete die intertekste ingebed in die teks. In kursief om dit te beklemtoon.
Die eerste is uit die gedig “Innocence” van die ikoniese gay-digter Thom Gunn:
He ran the course and as he ran he grew,
And smelt his fragrance in the field. Already,
Running he knew the most he ever knew,
The egotism of a healthy body.
Hoekom Gunn? Gebore in 1929 en oorlede in 2004 verhuis van Engeland San Francisco.
Op sy enigste buitelandse reis het De Lange Gunn ontmoet en hom bewonder.
Die tweede aanhaling kom uit die Evangelie van Thomas, ‘n ongekanoniseerde teks.
Lift the stone and you shall find me;
cleave the wood and there am I.
‘n Spirituele siening dat God orals aanwesig is.
Die gedig het vele toespelings op Van Heerden se werk. Die gedig is ambivalent, selfs bitsig, soos die vers van Opperman.
III
In Die algebra van nood (2009) staan hierdie vers opgeteken:
Ernst van Heerden (1916 – 1997)
voorlaaste besoek
Selfs net gaan
sit word
’n kragtoer:
om die bo-
lyf te hys
van rol-
na leun-
stoel,
te laat
sak, & weer
te lig
om die kussing
reg te skuif.
Ek kyk sy-
delings na
die ver-
kapte onder-
lyf rou
teen die growwe
tyk (geluk-
kig is daar-
die wond
ten minste
al geyk.)
Hy vou
’n sagte
trypkombers
oor gapende
broekspype,
die been-
stompies
& geslag.
Sy oë lag
na my op,
twee fel
regters
wat nog
so vriendelik
gesel.
Ek dink aan jou
dood, Ernst:
Gaan ons
jou eendag
drywend
in die swembad
kry, gewig-
loos in die dood
se greep?
Of dalk oop-
oog op jou
bed waar jy
vir oulaas
in verbeelde
spel
met bene
wyd-
geplant
jou swaarte-
punt
vir goed
verstel?
Hier is daar bepaald meer deernis vir Ernst van Heerden se kondisie en die anatomie van verlies. Die ouer digter De Lange besef dat inperking nie net fisies is nie, maar ook geestelik. Die skerp blik het versag.
Oor hierdie digter sal daar volgende keer verder geskryf word.
Joan Hambidge
Kaapstad
14 – 15 Junie 2026
Poësie Ernst van Heerden
- 1942: Weerlose uur
- 1946: Verklaarde nag
- 1951: Die sewe vrese
- 1952: Die bevryding (epiese vers in drie dele)
- 1953/1977: Reisiger
- 1956: Koraal van die dood
- 1961: Die klop
- 1963: Op die mespunt (1982: nuwe uitgawe van hersiene gedigte, saamgestel deur A.P. Grové)
- 1966: Anderkant besit
- 1972: Teenstrydige liedere
- 1975: Tyd van verhuising
- 1976: Die ysterwoud (faksimilee-uitgawe ter herdenking van sy 60ste verjaarsdag, later opgeneem in Kanse op ‘n wrak, 1982)
- 1981: Kleur van donkerte: Verse 1942–1956 (Versameling van eerste 6 bundels gepubliseer ter herdenking van sy 65ste verjaarsdag)
- 1982: Kanse op ‘n wrak
- 1985: Die swart skip
- 1986: The runner and the shadow (’n seleksie van verse vertaal deur Jean Branford et al)
- 1987: Amulet teen die vuur
- 1990: Kwadratuur van die sirkel
- 1993: Najaarswys
- 1996: Die herfstelike lig
Belangrike tekste oor Van Heerden:
- Hulsels van kristal: bundel aangebied aan Ernst van Heerden by geleentheid van sy vyf-en-sestigste verjaardag op 20 Maart 1981. Kaapstad: Tafelberg. Saamgestel deur Lucas Malan en Gerrit Olivier.
- Verse vir Ernst 20 Maart 1991. Kaapstad, Tafelberg.
- Aucamp, Hennie 1959. Die poësie van Ernst van Heerden. Universiteit van Stellenbosch.
- Malan, Lucas 1992. Paradoks en parabool. Pretoria: HAUM-Literêr.

Altyd die sagte sletterige verwysings na geslag, asof dit saak maak. Dit doen nie. Hoe sterk sou hiedie gedigte wees daarsonder? Retoriese vraag.