by die roggeveldberge
by die voet van die berg lê
wat daar nêrens op ‘n kaart verskyn nie
ongedokumenteer, deur son
en wind verweer:
‘n geroeste blik op ‘n klip,
die wit geraamte van ‘n voël, gedeeltelik,
‘n skoensool wat sy menswees verloor het
lankal terug
die dag begin daar bo
op die kruin, die jakkalse weet dit
en koggel mekaar;
‘n hadida trek hier
‘n skeur deur die stilte, steierend
vlerkklappend laag oor ‘n droë rivierloop,
kry hoogte uiteindelik en verdwyn in die verte
se stomheid ‘n stofspikkel
deur ou boomwortels dryf die muf van swam
uit die ondergrond, gras en soetdoring
wat onuitwisbaar in die geheue vassteek
kyk mens wyd hoe die wolke saam
en afsonderlik hul skaduwees voortsleep,
lyk dit kompleet of hulle hul swaar gewig
plegtig op die vlakte gaan neerlê
die berg skryf teen sy hange
met die wind vergange elke seisoen
oor ‘n vorige een — alles in ‘n sirkelgang
ad infinitum
niks word ooit volbring nie
selfs lig kom in fragmente aan:
kwarts se glans,
sprinkaan se persgroen vlerk,
buitelyn van die berg en ‘n swewende voël
in die oog van ‘n akkedis
© ND Cronjé, 2026
