Stilleven met Nautilusschelp
Victor Muller
vir Aletta
langs die sipres se lipgroen
val die skietlood
trapsgewys
gee die tafellaken
sy stroomversnelling
oor die tafelrand
die snyblom ontrooi
in ’n embouchure kelkblare
verstilde rooswater
gaaf die spoelklip
(ge)wigstoot uit skaduwee
wang gedraai
vlesige dimpel
’n plukmerk waar
die perske van haar twyg ontheg
uit die gewrig
arpeggiando vryval
op die klawerbord
kantelende pinkie geligte duim
’n vaasmond
op die trommelvlies
van die skroeflynskulp
skuif die was
© Jacobus Swart, 2026

Elegant, noukeurig en met sorg geskryf. Fyn porselein.