I
Op 19 Maart 1993 – ‘n dag voor sy 77ste verjaarsdag – het die Universiteit van Pretoria se Sportburo die digter Ernst van Heerden vereer met ‘n spesiale toekenning vir al sy sportgedigte. ‘n Eenmalige oplaag van hierdie bundel is deur Tafelberg uitgegee. 350 genommerde eksemplare met gedigte in hand geskryf.
Ek besit nommer 332.
In 1948 ontvang hy ‘n Silwermedalje by die Internasionale poësiekompetisie van die Olimpiese Spele vir Ses gedigte / Six poems.
Ek kyk graag sport op televisie. Sokker, rugby, atletiek en boks. Soms tennis. Die hele lewe kan ‘n mens sien afspeel in die stadion of bokskryt. Wen of verloor. Nydigheid. Onvermoë om ‘n uitslag te aanvaar. Beskuldigings dat die skeidsregter verkeerd was. Vuilspel.
Verdagmakery.
Ek het as jong kind Paul Nash en Claudie van Straaten gesien hardloop. Ek het in Buenos Aires na die sokkerstadion gegaan. Diego Maradona se beeldjie gesien. En oor hom gedig:
La mano de Dios
Diego Maradona
speel vir Los Cebollitas
dribbel die aarde
soos ‘n groot-groot ui
met fyn voetwerk
tot binne-in die Coppa Italia.
En die aarde draai,
en die aarde draai…
Van Argentinië
tot Italië klink sy naam
op sport se dobbeltafel:
M-a-r-a-d-o-n-a,
M-a-r-a-d-o-n-a…
Fidel Castro se tattoe
op sy linkerbeen,
die regterarm dra
‘n jong Che Guevara.
Voor die Azteca-stadion
word hy verewig:
‘n goue, gemeste kalf.
En die aarde draai,
ja die aarde draai…
Gekus deur die gode,
hierdie Diego. ’n Demi-god.
‘n Doel word die hand
van God, ‘n ander een
uitgewys as die grootste
en beste oorwinning nóg.
En hul buig daar in aanbidding.
En die aarde bly draai,
o die aarde bly draai…
Hy was ‘n Dawid,
wat opponente kon uit-Goliat.
Voete van klei?
Roem uitgesnuif?
Dalk teen te veel gode opgestel?
Daar is geen beseringstyd
vir moderne godjies:
Yo Soy El Diego
(al speel jy afrigter
óf opsteller van jou span)
Ja die aarde draai,
ja die aarde draai…
‘n Eindfluitjie blaas
verdoemend: uit!
En ook Johann Lodewyk Marais se skittervers oor Maradona:
Diego Maradona
Die vlugvoetigste is Maradona
met ’n durende veggees in sy bloed.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.
Kleintyd het hy ’n sokkerbal geja
en teenstanders gesystap met sy spoed.
Die vlugvoetigste is Maradona.
Gou het hy met sy flinke rabona
die klubs ’n prys laat betaal vir sy voet.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.
Oral in Napoli en Sevilla,
op én af van die veld, was hy verwoed.
Die vlugvoetigste is Maradona.
Sy aangee na Jorge Burruchaga
het die hele Buenos Aires laat toet.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.
In ’n stampvol en luide Azteca
erwe hy die Wêreldbeker se soet.
Die vlugvoetigste is Maradona.
Hy wat met grasie die nr. 10 dra.
https://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/johann-lodewyk-marais-diorama-2010.html Besoek 16 Junie 2026
II
‘n Absolute klassieke vers van Ernst van Heerden is “Die gewigopteller”:
Die gewigopteller
Die taai klou van die grond
vermenigvuldig elke pond,
die ruie vlegsel van die spier
is – triomfantelik ! – ‘n dier
wat met één kap blitssnel
die swaartepunt verstel.
Ook “Die bokser” is treffend:
Die bokser
Die grense van die klein kryt
is hellende onvastigheid.
waar wit bors fier teen wit bors staan
en skim teen skim die skynhou slaan;
vier donker oë blits fel en woes,
wyl twee gedaantes mik en koes;
maar elk groteske vuis se smak
laat lis en weerstand verder knak . . .
die liggaam is so rank gebou
en weerloos teen dié man se hou;
tog sal my mokerslag hom tref
waar hy hom vaag en grysend hef,
sy beeld versplinter in die glas
waar netnou my gestalte was;
‘n flikker-weerskyn word verskerf,
‘n lyf stort soos ‘n koring-gerf . . .
Wie is die man wat roerloos lê,
wie’t ‘n bekende naam gesê?
Waarom die skaar aan’t roep en fluit,
en waarom flakker ligte uit . . . ?
En hierdie gedig aktiveer vir hierdie leser (en filmkyker) Martin Scorcese se film uit 1980 Raging Bull met Robert de Niro as Jake LaMotta. De Niro het 27 kg opgetel om hierdie bokser se agteruitgang voor te stel.

Die Amerikaanse filminstituut beskou dit as een van die grootste films nóg met De Niro, voordat hy in swak films begin speel het.
LaMotta verloor sy titel in 1951 aan Sugar Ray Robinson.
Spanninge en drama met sy vrou wat hy verdink van ‘n verhouding en natuurlik die mafia wat wil help met sy gevegte.
LaMotta begin in 1941 as ‘n middelgewig bokser. Jake se broer Joey wil Salvy Bates inspan om te help. In die Bronx sien hy vir Vickie, ‘n vyftienjarige en begin ‘n verhouding met haar. In 1943 die ellende wanneer hy Sugar Ray Robinson verslaan, maar volgens die skeidsregters het hy nie gewen nie. Waarskynlik het die feit dat Sugar Ray moes weermag toe gaan alles bepaal. Wanneer hy in 1945 met Vickie trou, begin ‘n verdere ellende. Tony Janiro (wat Vickie as aantreklik sien) word verslaan en verniel in ‘n geveg. Van New York na Copacabana met ‘n mob-baas Tommy Como wat inmeng. Gevegbedrog teen Billy Fox en in 1949 verloor hy teen Billy Fox. In 1949 wen hy teen Marcel Cerdan.
Die “raging bull” word hy ook in die werklike lewe wanneer sy paranoia hand uit ruk met beskuldigings en Vickie wat bely sy had seks met Joey, Salvy en Tommy. In ‘n woedebui rand hy Joey aan voor sy kinders en slaan Vickie bewusteloos. In ‘n vyftien ronde geveg teen Laurent Dauthille wen hy en probeer opmaak met sy broer. Hierna is Jake se boksloopbaan uiteindelik verby en hy verloor teen Sugar Ray Robinson in 1951. Hy vertrek in 1956 na Miami, begin ‘n nagklub en word in hegtenis geneem weens minderjariges wat hy hier toelaat. Sy vrou kry ‘n interdik teen hom. Oud en oorgewig en teen die planke.
Tronk toe en ná ses maande in die tjoekie is hy terug in New York. Hier sien hy weer vir Joey.
Dan raak dit werklik pynlik om hierdie film te kyk, want hy word ‘n komediant wat voor elke optrede skynbokse uitvoer.
“I’m the boss”, roep hy uit daardie bekende mantra uit Elia Kazan se On the Waterfront.
En dáárdie film uit 1954 met Marlon Brando in die hoofrol, neem alles na ‘n vérdere dimensie. Aftakeling én hoe akteurs aangetas word deur hul films.
Joe Pesci is eweneens briljant in hierdie film wat ons ook terugneem na The Godfather.
(Die opsomming van die film op wikipedia is gevolg, maar ek het veral staatgemaak op my geheue.)
En Ernst van Heerden se slotwoorde word nou dubbel-ironies:
Wie is die man wat roerloos lê,
wie’t ‘n bekende naam gesê?
Waarom die skaar aan’t roep en fluit,
en waarom flakker ligte uit . . . ?
Hierdie film het ek indertyd gekyk met Van Heerden se gedig wat in my gemoed bly draal het.
Die gedig “Die hardloper” word meer as ‘n sportgedig. Die slot impliseer dat die dood uiteindelik die wenner is in die wedren genaamd die lewe.
Die hardloper
Met wilde maar met suiwer hart
het hy die woeste wedren fel begin,
en elke myl met rappe voet getart,
hy sou die vlugste lopers nog oorwin.
Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,
die winde het sy haregolf gelig;
met snelle draf het hy die baan gemeet,
die vreug van spierkrag was op sy gesig.
Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,
sy ademstoot ’n hete windgejaag,
die see se branding in sy strenge moed,
toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:
Wie is die ongesiene makker in die loop,
van wie die voet langs syne en die wind
van asem agter hom, van wie die hoop
dat nog ’n bors die dun wit lint mag vind?
Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,
nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;
hy weet al het hy nou die loop gewen,
die ander man sal eendag eerste wees.
III
Die digkuns is eweneens ‘n sportsoort. Met wenners én verloorders.
Net bedoel vir diegene met uithouvermoë. En tegniese beheer om uitklophoue te troef.
Joan Hambidge
Kaapstad
16 Junie 2026
