
Herinnering: Wat soek die uitgewer?
Die eerste van ons reeks aanlyn sessies met plaaslike uitgewers vind vanaand plaas en ons sien uit daarna om heelwat van ons lede daar te sien. Bywoning is gratis vir lede, maar dit is belangrik om by penafrikaans@gmail.com te RSVP om deelname te bevestig en die skakel te ontvang.
Vanaand se sessie fokus op die voorlegging van fiksiemanuskripte en die faktore wat ’n rol speel in die betrokke uitgewers se publikasiebesluite. Dit skop om 18:00 af.

Die ander twee sessies in hierdie reeks sal ook van 18:00 – 19:00 plaasvind, op die volgende datums: 9 Julie (Niefiksie) en 6 Augustus (Kinder- en jeugboeke).
Die wêreld van die skrywer: artikelreeks

Substack, die aanlyn platform waarop skrywers hul werk kan publiseer, het deur die jare meer en meer gewild geraak. Dit is ’n opwindende toevoeging tot “die wêreld van die skrywer” en ’n aantreklike opsie vir skrywers omdat hul daardeur ’n direkte verhouding met hul lesers kan bou, ’n ekstra inkomstestroom kan skep, en volledige kreatiewe beheer het oor wat hul daar plaas. Dit werk veral goed vir rubrieke en persoonlike essays, politieke en sosiale kommentaar, en fiksie in vervolgformaat.
In die jongste artikel in ons artikelreeks, skryf die geliefde, bekroonde en veelsydige skrywer Marita van der Vyver oor haar keuse en ervaring van op Substack skryf.
Lees die stuk hier.
Vrystaat Kunstefees se Literatuurfees
Feesgangers kan uitsien na die Vrystaat Kunstefees se Literatuurfees wat van 7 – 11 Julie plaasvind.
“Van ware misdaad en politieke insigte tot fassinerende lewensverhale en onvergeetlike karakters, hierdie is van die boekgesprekke wat jy nie wil misloop nie. Ontmoet die skrywers, hoor die stories agter die boeke en word deel van die gesprek.
Kom deel in die storie: https://vrystaatkunstefees.co.za/produksies/?kategoriee=literatuurfees”
Die volledige feesprogram is hier beskikbaar.
Voorlopige program van die 2026 Etienne van Heerden Veldsoirée

LitNet en LitNet Akademies bied met trots die 7de Etienne van Heerden Veldsoirée van 24 tot 26 Julie 2026 in Nxuba/Cradock aan. Die voorlopige program is nou op LitNet beskikbaar en sluit deelname van ’n wye verskeidenheid skrywers in. Die skrywersgesprekke en lesings is gratis. Die ATKV-Skryfskool vind weer vanjaar daar plaas.
Izak de Vries skryf oor die Veldsoirée:
“Die gesprekke is interessant en dikwels uitdagend, maar die omgewing maak dit moontlik om te vra, te verskil en te gesels.
Wat meer is, doodgewone mense sit met elke sessie langs geleerdes en bekendes. Almal luister saam, almal gesels saam. Ons eet saam en les bes vind baie interessante diskoerse (groot woord) ook ná die amptelike verrigtinge in die kroeg plaas.
Aan die einde van die fees klim ’n paar dapper mense agterop bakkies en ry teen Buffelskop op vir ’n besoek aan Olive Schreiner se graf. Van daar is die uitsig asemrowend.
Maak ’n plan. Sit julle musse op en trek warm klere aan. Die winterluggie kan snerpend wees, maar julle harte sal warm klop!”
Die voorlopige program is hier beskikbaar.
Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Daar is ’n wye verskeidenheid resensies en boekstories, onder andere ’n stewige oes op Versindaba, ’n eksklusiewe onderhoud met die Britse megaverkoper Matt Haig op Sarie.com en ’n blik op die rol van die leksikograaf op Klyntji.com. Lekker lees!
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2026
Baie geluk aan ons lede wat in Junie nuwe boeke op die rakke het! Dit sluit in: nuwe werke deur Johan Myburg, Rudie van Rensburg, Annemarié van Niekerk, Elsabe Welman, sowel as ’n digbundel waarvan Alwyn Roux en Neil Cochrane mede-samestellers is.
Ook is daar, in Jeugmaand, ’n heruitgawe van die klassieke en klankryke kinderverhale, Huppelkind deur W.O. Kühne.
Zirk van den Berg skryf só oor Huppelkind in sy bydrae tot ons destydse Taalgenoot-boekrubriek, “Boeke wat skrywers laat skryf”:
“Bowenal is daar die ongelooflike, poëtiese taal wat borrel en rol, tier en tol; die herhalende beskrywings, ritmies en vol rymwoorde, wat soos inkantasies raak; toorwoorde wat ’n wêreld oproep: ‘Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies. Hy peil diekant toe en die wolke seil daardie kant toe, en die vleiwind pluk aan sy kuif.’
Miskien is dit hier waar ek die eerste keer bewus geraak het van die wonderwerk wat gebeur wanneer ’n onderhoudende storie en geïnspireerde prosa bymekaarkom. Huppelkind is meesterlik. Soek dit as jy dit nie ken nie. Lees dit hardop, vir jouself en vir kinders.”
(Uit: https://penafrikaans.org.za/wp-content/uploads/2020/07/TG_Lente2019.pdf)
Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans
