en as ek doodgaan
en as ek doodgaan, sal alles nog dieselfde bly?
die bloekoms onopsigtelik oorleun na die pad
soos perde langs ʼn heining wat op aanraking
en handoplegging wag
en sal die reën soos pêrels aan die naalde hang
van kasuarisbome as die oggendson die bos
se asem in sy vingers vang?
of sal die paddas aanhou kriek en krink
en nie meer asem ophou totdat ek verby is nie,
sal die son die vorm van my skaduwee vergeet
en die modder die inval van my voete?
sal ver vriende wonder hoekom ek nie meer
op videos of teksboodskappe reageer nie?
sal die boeke ongeblaai bly op die rak
die blomme ongepluk
die visdam se water onaangeraak
die klere winters en somers ongedra
die hekkie onoopgemaak?
sal die kat uit wanhoop elders blyplek soek?
sal die bure wonder of ek met vakansie is?
sal die hele huis stilweg tot rus kom
rondom wat van my oor is
en daarná – sal alles nog dieselfde wees?
© Ilse van Staden, 2026

Treffend.