speelpark, wintermiddag
die middag het leeg geloop
en anderkant die meer
steek ʼn uitgewaste reënboog
sy tone in die see
en ʼn ouman gaan gedweë
op die park se grasperk staan
en por die kind met die vlegsels
wat huiwer by die raam:
sy klim teen die klimraam op
en hang halfhartig, selfbewus
voor die ánder kind wat lank reeds
tuis in die speelpark is,
voor die vrou in oefenbroek en die hond
met buik en spene vol geswel,
swaai die vlegselkind verleë
en die man op die rand van die spel.
© Ilse van Staden, 2026
