I
In Die skyn van tuiskoms – ‘n Keur (2010) verskyn hierdie vers van Lina Spies:
Naderende winter
Die herfs kon ek nooit rym
met treurigheid en dood nie:
daarvoor het die kleuregloed in die bome
en die oorstelpende blou van die lug
my nog altyd te veel verruk.
En die strakheid van die winterbome
laat my sien wat deur digte loof onsigbaar is:
die sierlike skadu’s van hul takke
op gewels wat wit glinster in die son.
Waarom sal ek dan krampagtig vasklou
aan my somerblare
en nie die wisseling vertrou
van die seisoene in ‘n menselewe,
my oorgee aan die eb en vloed
wat stu in elke gety
waarvoor net een ding nodig is: die liefde?
Sopas word hierdie digter gehuldig in ‘n bloemlesing Onthou is die dag wat breek – ’n Digterlike huldigingsbundel ter ere van Lina Spies met Alwyn Roux en Neil Cochrane as die samestellers en redakteurs. Dit verskyn by Naledi en word soos volg bemark:
Lina Spies is een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse digters met ’n goue oes van ikoniese gedigte soos “Op die dood van Riëtte”, “’n Paternoster vir Suid-Afrika”, “Lied van die kinders” en “Rembrandt”.
Ons is oortuig dat die eerbaarste eerbetoning betuig word deur die poësie van mededigters.
Die bundeltitel is ontleen aan ’n versreël uit een van Spies se verse, naamlik “Kringloop” (opgeneem in Sulamiet, 2016) en dui op die samevoeging tussen herinnering en voortsetting. In elkeen van die vier en vyftig opgenome gedigte is sprake van aanknopingspunte.
Sommige verse tree op ’n duidelik aantoonbare wyse in gesprek met spesifieke gedigte van Spies. Benewens direkte ruggespraak sluit sommige verse ook op ’n subtieler en wyer omskrewe wyse aan by tematiese kodes in Spies se repertoire soos kinders, katte, kunstenaarskap en die dood.
Ons hoop dat hierdie huldigingsbundel poësielesers sal aanmoedig om met hernude belangstelling die digkuns van Lina Spies te verken en haar blywende impak op die Afrikaanse digkuns in oënskou te neem.
*
Daar was die afgelope tyd belangrike vererings van digters vir gesiene digters: een oor Wilma Stockenström en ‘n ander een vir wyle Johann de Lange.
Hierdie bloemlesings bly altyd belangrike bakens in ‘n digkuns: die woord en wederwoord. Hieruit kan die ingeligte leser dan tendense raaksien.
Spies het belangrike werk gelewer, onder andere, soos die studie oor Elisabeth Eybers en Emily Dickinson wat heet Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson.
Lina Spies is ‘n portret- én landskapdigter. Sy dig oor die onsienlike (hiermaals) en die soeke na sin en samehang. Daar is briewe aan kunstenaars en geliefdes.
Vir en oor. Oor die hier-en-nou van haar land én verre landskappe. Daar is gedigte oor die dood waarvan “Op die dood van Riëtte” ‘n kragtoer in understatement is.
II
In hierdie rubriek gaan ons eers fokus op ‘n palinode op Lina Spies se werk:
Ihette Senekal
om vir Aria te sing
jy het my stem leer ken
saam met die klop van my hart
binne, waar net jy weet hoe dit klink
ek het vir jou ’n wiegelied gesing
I am a child in a faraway land
sometimes I’m scared
won’t you please take my hand
en gehoop
dat wanneer jy hierdie wêreld ontmoet
ek weer vir jou kan sing
give us your cool waters
your tidings of joy
en dat jy sal onthou
ek sing steeds elke aand vir jou
totdat die slaap jou wegdra
en van kleins af luister jy fyn
“sing vir my die een van
go from one kiss to getting married”
en ek wonder waarom jy juis dié woorde onthou
jy lê doodstil en luister
ek sing teen die donkerte in
jou wang gloei teen my skouer
“wie praat hier mamma, ’n seuntjie of ’n dogtertjie”
“’n dogtertjie,” sê ek
“hoekom is sy so hartseer”
here kind, hoe verduidelik ’n mens in swart en wit
onbeantwoorde liefde
vir ’n sesjarige
“want sy is lief vir iemand, maar hy is nie meer lief vir haar nie”
jy sê niks
ek wonder oor my woorde
“hoekom kies sy dan nie net iemand anders nie”
my hele moer gryp na jou
starry-eyed Aria, jou splinternuwe hart
vat my vanaand na vuurvliegies
en nuwe Septembers
(50, 51)
Hierdie aangrypende gedig aktiveer Spies se antwoord op Eybers. Die jong dogtertjie teenoor Eybers se “Jong seun”.
En Amanda Strydom se bekende lied klink so:
I am a child in a faraway land
Sometimes I’m scared, won’t you please take my hand
There’s rumors of peace and there’s rumors of war
But I’ll keep on knocking till you open the door
Your tidings of joy
Your cool waters
Your tidings of joy
Let everything beautiful
And everything right
Pour down from your heaven
On our land tonight
Source: https://muzikum.eu/en/amanda-strydom/a-child-in-a-faraway-land-lyrics Besoek 8 Julie 2026
Van Amanda Strydom na Taylor Swift …
Die Taylor Swift-song kom uit The tortured poets department (2024):
“If you know it in one glimpse, it’s legendary / You and I go from one kiss to getting married.”
Tussen die twee liedere ‘n aanhaling uit Luke 2: 10 – 11 in die King James Bible …
10 And the angel said unto them, Fear not: for, behold, I bring you good tidings of great joy, which shall be to all people.
Die wiegelied en die moederstem betrek ook Julia Kristeva se Desire in language in Engels gepubliseer in 1980.
Vir hierdie leser aktiveer hierdie gedig ook die film Paris, je t’aime (2006) waar die vrou wat haar babatjie los by die creche en vir hom ‘n wiegeliedjie sing wanneer hy begin huil. Later word dieselfde lied herhaal vir die babatjie by die ryk vrou se huis …
‘n Pynlike film: die vrou wat met ‘n trein en bus ry na die ryk Madam. Ons sien haar nie. Ons hoor net haar stem:
”Sal jy vanaand my kind oppas?”
En die internet verduidelik:
The woman singing a lullaby in the anthology film Paris, je t’aime is in the segment titled “Loin du 16e”. She sings a traditional Spanish lullaby titled “Qué Linda Manita” to her own baby before work, and later sings the exact same song to the baby she nannies.
The scene features actress Catalina Sandino Moreno, who plays a young immigrant mother and nanny living and working in Paris. The song translates to “What sweet little hands I have… what sweet little eyes I have,” celebrating the baby’s features as a gift from God.
Walter Salles en Daniela Thomas, twee Brasiliaanse filmmakers.
In Ihette Senekal se gedig is die kind, ‘n sesjarige se gevoel: kies net ‘n ander een …
Die moeder sing teen die donkerte in …
Sy is ook lid van die “tortured poets department.”
Joan Hambidge
Kaapstad
9 Julie 2026
(word vervolg)
Bronne:
Kristeva, Julia. 1980. Desire in language. a semiotic approach to literature and art. Oxford: Blackwell.
Spies, Lina. 1995. Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Kaapstad: Queillerie.

Kat op ‘n warm plaat.