I
Ironie is een van die belangrikste merkers van ‘n gedig. Maar waar presies vind die leser dit in die gedig? Hoe weet ons die digter is ironies? Of sarkasties? Linda Hutcheon in Irony’s Edge: The Theory of Politics of Irony het in 1994 verskyn. Met ‘n dogtertjie wie se voete oor ‘n afgrond hang op die voorblad.

Twee uitstekende gedigte in die Lina Spies-huldigingsbundel, Onthou is die dag wat breek – ’n Digterlike huldigingsbundel (saamgestel deur Alwyn Roux en Neil Cochrane) wat hierdie problematiek aanspreek, is verse van twee manlike digters: Daniel Hugo en Meyer van Rensburg. Spies se gesprek met Opperman as mentor, Stellenbosch, Amsterdam én taal word deur hierdie gedigte na vore gebring.
Daniel Hugo
Stellenbosch
Daar is geen ander dorp soos Stellenbosch! – D.J. Opperman
Sal ons selfs swymel oor die kosmopolitiese tortel? – Lina Spies
A, die ewige gesanik oor
die Eerste Rivier wat so sprankel
sy ronde, musikale klippe
die gepieker oor die Pieke
die tydloos koerende eike
die gegrens oor die kalkwit gewels
die taal wat galm uit ’n slaweklok!
Wanneer kry dit end? Wanneer
stop dié koloniale nostalgie?
Sodra die laaste wingerd uitgekap
is vir hoëdigtheidsbehuising
die laaste uitheemse eik omgeval het
weens binnevrot, die yl eggo
van die laaste Afrikaanse woord
weggesterf het teen Simonsberg
die helder leivore verloeder
en die kroptrillers van die tortels
verdof het – dan, dan nie?
Hugo se gedig wys dat ironie bepaald ‘n skerpkant het. Hy ontmasker die idille van Stellenbosch soos Opperman en Spies dit beleef het. Hy maak hiervan ‘n politieke vers met verwysing na wingerde wat uitgekap word vir hoëdigtheidsbehuising. Die leser weet ook hoeveel aanvalle daar al op mense was in Stellenbosch die afgelope tyd. Eike val om weens binnevrot en hy neem ook stelling in teen die verengelsing van die dorp. Die helder leivore het verloeder. In die sterk slot word die gedig ‘n aanklag:
en die kroptrillers van die tortels
verdof het – dan, dan nie?
Die koloniale nostalgie is verby. Dit moet end kry. Die “geswymel” deug nie meer. So beweeg die gedig wég van die idille en die kalkwit gewels. Dit word ‘n aanklag (A!) en die ironie beweeg na sarkasme.
Meyer van Rensburg se “Kringloop” is meer ‘n huldigingsvers. Opperman en Jesus Christus. Tot by haar gedigte oor Amsterdam en kunsverse.
Tot die besef hoe broos die digkuns vir sowel Lina Spies, die aangesprokene, as vir die spreker Van Rensburg is.
Meyer van Rensburg
Kringloop
Vir Lina Spies
Jy het by hulle voete stil kom sit
om te leer, saam gewandel
met Jorik en sy joernaal
en die besonge kruishout van die Nasarener
tot by die bodemlose waterput vol helder stiltes
en komme gevul met woorde,
maar ’n eie skepding het jou toe ontbreek.
Later, toe jy sien hoe skyn Stellenbosch jerepikogeel
en Van Rijn se wynrooi doek in Amsterdam,
het jy jou eie waterkom
saam met die brood en beker versamel
sonder om die twee tienwoordtafels om te smyt,
so het jou oeuvre sterk gegroei
met die besef dat ons
alles wat onuitspreeklik is
met woorde bly verknoei –
as jy dit tik, verlep dit net.
II
Ironie is spotspraak, skryf Henning Snyman in Mirakel en muse (1983: 152). Hy wys eweneens op die kontras tussen skyn en werklikheid. Droom en realiteit.
‘n Disjunksie tussen hierdie twee pole wat altyd neerkom op ontmaskering.
Dit wys altyd innerlike konflik uit. Snyman som dit ten beste op wanneer hy skryf op bladsy 157: ”Die ironie maak nie allereers staat op sigbare taalvorm nie, maar wel op die situasionele bedoelingsmoontlikhede”.
En dit is presies wat Daniel Hugo se gedig doen. Dit ontmasker die vervloë siening van Stellenbosch, maar sy vers het ook ‘n sarkastiese ondertoon. Nie ten opsigte van die twee digters in die aangehaalde motto’s nie, maar eerder op ‘n werklikheid wat bedreigend geword het.
Daar is ironiese afstand te bespeur tussen werklikheid, ‘n digtradisie, taalpolitiek en kanonisering.
Inderdaad: Daar is geen ander dorp soos Stellenbosch! , meen D.J. Opperman. Spies en Daniel Hugo was ‘n Opperman-laboriet. Soos die uwe.
En hoe heerlik maal die musikale klippe nie in hierdie twee gedigte nie. Met Muecke se kompas van ironie in gedagte.
Joan Hambidge
Kaapstad
13 Julie 2026
Bronne:
Muecke, D.C. 1970. Irony. Londen: Methuen.
Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. Londen: Methuen.
- Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.
