Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
13 July 2026

Joan Hambidge. Lina Spies vervolg: Daniel Hugo en Meyer van Rensburg

 

I

Ironie  is een van die belangrikste merkers van ‘n gedig. Maar waar presies vind die leser dit in die gedig? Hoe weet ons die digter is ironies? Of sarkasties? Linda Hutcheon in Irony’s Edge: The Theory of Politics of Irony het in 1994 verskyn. Met ‘n dogtertjie wie se voete oor ‘n afgrond hang op die voorblad.

 

 

Twee uitstekende gedigte in die Lina Spies-huldigingsbundel, Onthou is die dag wat breek – ’n Digterlike huldigingsbundel (saamgestel deur Alwyn Roux en Neil Cochrane) wat hierdie problematiek aanspreek, is verse van twee manlike digters: Daniel Hugo en Meyer van Rensburg. Spies se gesprek met Opperman as mentor, Stellenbosch, Amsterdam én taal word deur hierdie gedigte na vore gebring.

 

 

Daniel Hugo

Stellenbosch

 

Daar is geen ander dorp soos Stellenbosch! – D.J. Opperman

Sal ons selfs swymel oor die kosmopolitiese tortel? – Lina Spies

 

A, die ewige gesanik oor

die Eerste Rivier wat so sprankel

sy ronde, musikale klippe

die gepieker oor die Pieke

die tydloos koerende eike

die gegrens oor die kalkwit gewels

die taal wat galm uit ’n slaweklok!

Wanneer kry dit end? Wanneer

stop dié koloniale nostalgie?

 

Sodra die laaste wingerd uitgekap

is vir hoëdigtheidsbehuising

die laaste uitheemse eik omgeval het

weens binnevrot, die yl eggo

van die laaste Afrikaanse woord

weggesterf het teen Simonsberg

die helder leivore verloeder

en die kroptrillers van die tortels

verdof het – dan, dan nie?

 

Hugo se gedig wys dat ironie bepaald ‘n skerpkant het. Hy ontmasker die idille van Stellenbosch soos Opperman en Spies dit beleef het. Hy maak hiervan ‘n politieke vers met verwysing na wingerde wat uitgekap word vir hoëdigtheidsbehuising. Die leser weet ook hoeveel aanvalle daar al op mense was in Stellenbosch die afgelope tyd. Eike val om weens binnevrot en hy neem ook stelling in teen die verengelsing van die dorp. Die helder leivore het verloeder. In die sterk slot word die gedig ‘n aanklag:

en die kroptrillers van die tortels

verdof het – dan, dan nie?

Die koloniale nostalgie is verby. Dit moet end kry. Die “geswymel” deug nie meer. So beweeg die gedig wég van die idille en die kalkwit gewels. Dit word ‘n aanklag (A!) en die ironie beweeg na sarkasme.

Meyer van Rensburg se “Kringloop” is meer ‘n huldigingsvers. Opperman en Jesus Christus. Tot by haar gedigte oor Amsterdam en kunsverse.

Tot die besef hoe broos die digkuns vir sowel Lina Spies, die aangesprokene, as vir die spreker Van Rensburg is.

 

Meyer van Rensburg

Kringloop

Vir Lina Spies

 

Jy het by hulle voete stil kom sit

om te leer, saam gewandel

met Jorik en sy joernaal

en die besonge kruishout van die Nasarener

tot by die bodemlose waterput vol helder stiltes

en komme gevul met woorde,

maar ’n eie skepding het jou toe ontbreek.

 

Later, toe jy sien hoe skyn Stellenbosch jerepikogeel

en Van Rijn se wynrooi doek in Amsterdam,

het jy jou eie waterkom

saam met die brood en beker versamel

sonder om die twee tienwoordtafels om te smyt,

so het jou oeuvre sterk gegroei

met die besef dat ons

alles wat onuitspreeklik is

met woorde bly verknoei –

as jy dit tik, verlep dit net.

 

II

Ironie is spotspraak, skryf Henning Snyman in Mirakel en muse (1983: 152). Hy wys eweneens op die kontras tussen skyn en werklikheid. Droom en realiteit.

‘n Disjunksie tussen hierdie twee pole wat altyd neerkom op ontmaskering.

Dit wys altyd innerlike konflik uit. Snyman som dit ten beste op wanneer hy skryf op bladsy 157: ”Die ironie maak nie allereers staat op sigbare taalvorm nie, maar wel op die situasionele bedoelingsmoontlikhede”.

En dit is presies wat Daniel Hugo se gedig doen. Dit ontmasker die vervloë siening van Stellenbosch, maar sy vers het ook ‘n sarkastiese ondertoon. Nie ten opsigte van die twee digters in die aangehaalde motto’s nie, maar eerder op ‘n werklikheid wat bedreigend geword het.

Daar is ironiese afstand te bespeur tussen werklikheid, ‘n digtradisie, taalpolitiek en kanonisering.

Inderdaad: Daar is geen ander dorp soos Stellenbosch! , meen D.J. Opperman. Spies en Daniel Hugo was ‘n Opperman-laboriet. Soos die uwe.

En hoe heerlik maal die musikale klippe nie in hierdie twee gedigte nie. Met Muecke se kompas van ironie in gedagte.

 

Joan Hambidge

Kaapstad

13 Julie 2026

 

Bronne:

Muecke, D.C.         1970. Irony. Londen: Methuen.

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

Hutcheon, Linda.   1985. A Theory of Parody. Londen: Methuen.

  1. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag
Joan Hambidge. Gedig nommer XXIX →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. XXXIX
  • AVBOB Persverklaring
  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig

Nuutste kommentaar

  1. Cobus van den Berg on Krige Visser. parodie en ironie20 July 2026

    Dankie Krige. Ek lees dit oor en oor….sodat dit kan insink.

  2. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  3. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  4. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d