
Wolfgang Borchert
1
Die brood
Sy het skielik wakker geword. Dit was halfdrie. Sy het probeer onthou waarom sy wakker geword het. O ja! Iemand het teen ’n stoel in die kombuis gestamp. Sy het dit uit die slaapkamer gehoor. Dit was stil. Te stil; en toe sy met haar hand na die ander kant van die bed reik, was dit leeg. Dít was wat die stilte so vreemd gemaak het: sy asemhaling was weg. Sy het opgestaan en deur die donker huis na die kombuis getas. Daar het hulle mekaar raakgeloop. Halfdrie, het die horlosie gewys. Sy het iets wits by die kombuiskas gewaar. Die lig aangeskakel. Hulle het teenoor mekaar gestaan, albei in hulle nagjurke. Halfdrie in die oggend, in die kombuis.
Op die kombuistafel was die broodbord. Sy het gemerk dat hy van die brood afgesny het. Die mes het langs die bord gelê en daar was broodkrummels oor die tafeldoek gestrooi. Elke aand voor hulle gaan slaap, maak sy die tafeldoek skoon. Elke aand. Maar nou was daar krummels op die doek. En die mes het daar gelê. Sy het gevoel hoe die koue uit die teëls stadig teen haar lyf opsypel. En sy het weggekyk van die bord.
“Ek het gedink hier is iets,” het hy gesê en rondgekyk in die kombuis.
“Ek het ook iets gehoor,” het sy geantwoord en gemerk dat hy nogal oud lyk in sy nagjurk, so oud soos hy werklik is. Drie-en-sestig. Bedags lyk hy jonger. Sy lyk oud, het hy by homself gedink, in daardie nagjurk lyk sy heelwat ouer. Maar miskien is dit haar hare. Vroue se hare maak soms dat hulle oud lyk.
“Jy moes skoene aangetrek het. So kaalvoet op die teëls. Jy gaan nog verkoue kry.”
Sy het haar kop weggedraai want sy kon dit nie verduur dat hy jok nie. Dat hy vir haar jok ná nege-en-dertig jaar se getroude lewe.
“Ek het gedink hier is iets”, het hy weer gesê terwyl sy oë doelloos van die een hoek na die ander in die kombuis dwaal, “ek het in die slaapkamer dit hier gehoor. Toe dag ek dis iets.”
“Ek het ook iets gehoor. Maar dit is seker niks.” Sy het die bord van die tafel gelig en die krummels van die tafeldoek weggevee.
“Nee, dit is seker niks,” het hy onseker beaam.
Sy het vir hom in die bresse getree. “Kom. Dit was seker buite. Kom ons gaan slaap. Jy sal verkoue kry so van die koue vloer.”
Hy het na die venster gekyk. “Ja, dit moes buite gewees het. Ek het gedag dit is hier.”
Sy het na die ligskakelaar gereik. Ek moet nou die lig afsit, anders sal ek na die bord moet kyk, het sy gedink. Ek kan nie nou na die bord kyk nie. “Kom,” het sy gesê en die lig afgeskakel, “dit is seker buite. Die geut kap altyd teen die muur as die wind waai. Miskien is dit die geluid van geut wat deur die wind gewaai word.”
Hulle het saam deur die donker gang slaapkamer toe geloop. Hulle kaal voete het sag op oor die vloer geskuifel.
“Die wind waai nogal erg,” het hy gemerk. “Dit wind waai al die hele nag.”
Toe hulle in die bed lê, het sy gesê:
“Ja, dit waai al die hele nag. Dit was seker die geut.”
“Ja, ek het gedink die geluid kom uit die kombuis. Dit was seker die geut.”
Hy het dit gesê asof hy half aan die slaap is.
Maar sy kon hoor hoe onnatuurlik sy stem klink wanneer hy ’n leuen vertel.
“Dis koud,” het sy gesê en saggies gegaap. “Ek kruip onder die kombers in. Goeie nag.”
“Nag,” het hy geantwoord. “Ja, dis nogal koud.”
Toe was dit stil. Na ’n paar minute het sy gehoor hoe hy saggies en versigtig kou. Sy het doelbewus diep en reëlmatig asemgehaal sodat hy nie moet agterkom sy is nog wakker nie. Maar sy kouery was so reëlmatig dat sy geleidelik van die klank aan die slaap geraak het.
Toe hy die volgende aand by die huis kom, het sy vier snye brood vir hom aangegee. Gewoonlik het hy net drie geëet.
“Jy kan gerus vier eet,” het sy gesê en wegbeweeg van die lamp. “Ek is moeg vir hierdie brood. Jy kan nog een eet. Die brood keil my op.”
Dit het haar opgeval hoe laag hy oor sy bord buk. Hy het nie opgekyk nie. Op daardie oomblik het sy hom innig jammer gekry.
“Jy kan tog nie net twee snye eet nie,” het hy gesê, sy oë steeds op sy bord gerig.
“Ek kan. Saans keil die brood my op. Eet gerus. Eet gerus.”
Eers ná ‘n ruk het sy onder die lamp by die tafel gaan sit.
*
“Das Brot” deur Wolfgang Borchert, soos uit die Duits vertaal deur Nini Bennett-Moll.
Nou kan lesers seker wonder: Waarom sou ek ’n kort-kortverhaal vertaal en op ’n poësiewebwerf soos Versindaba plaas? Oor die intrinsieke ooreenkomste tussen die kort-kortverhaal en poësie.
In ’n onlangse blog beweer Joan Hambidge tereg, met verwysing na Hennie Aucamp se werk: “As die kwatryn die kleinboet van die sonnet is, is die kort-kortverhaal verbind aan die digkuns.
Hennie Aucamp was sowel digter as kortverhaalskrywer. Sy besinnings oor die kortverhaal maak die leser bewus van hoe ’n kortverhaal, in die besonder die kort-kortverhaal, soos ’n gedig funksioneer. Kort voor lank.
Hy wys op die affiniteit tussen die poësie en die kortverhaal. Die vanselfsprekende is klank- en beeldsuggestie en woordpresisie. Hy gaan verder oor die hele kwessie van tydshantering in navolging van Frank Maatje. En by die kortverhaal wat soms sterk neig na liriese tyd; soms aantoonbaar in die kombinasie van liriese en epiese tyd. Met ’n konsentrasie op scenes, eerder as panoramas (Kort voor lank, 140 – 141).”
Ook kort-kortverhaalbundels soos Kort-kort (1990), met Tom Gouws en P.H. Roodt as samestellers, word gereken as genietlike, maar kwaliteitkortkuns. Oor die ooreenkoms tussen kort-kortverhale en poësie sê Toms Gouws die volgende: “Omdat die kort-kortverhaal, komposisioneel gesproke, intens ekonomies te werk gaan, is die styl gestroop en het dit ’n duidelike poëtiese aard. Prosarym en -ritme dra veral hiertoe by.” (1990:240)
Op die kantlyn van Marnus Kok (Naledi, 2024) is ’n onlangse voorbeeld hiervan; ’n bundel kort-kortverhale wat letterlik tot op die been gestroop is en 82 flitsverhale bevat, waarvan sommige net 18 woorde lank is. Waar die tradisionele kortverhaal ’n lengte van 1 000 tot 7 500 woorde oorspan en ruimte laat vir meer karakters en gepaardgaande karakterontwikkeling, intrige en ontknoping, fokus die kort-kortverhaal – as verhaalgreep of -vinjet – op slegs ’n enkel-idee of -oomblik. En dit vereis presisie aan die kant van die skrywer. Die bekendste kort-kortverhaal beslaan slegs ses woorde: “For Sale: Baby shoes, never worn.” Dit is ’n verhaal (ja, inderdaad!) deur Ernest Hemingway wat eers in 1991 werklik deur kritici gekanoniseer is.
Vanweë die gedronge en minimalistiese aard van dié verhale beweeg dit inderdaad, soos kritici bevestig het, baie na aan poësie.
Met die vertaling van Borchert se verhaal (732 woorde in die Duitse bronteks) het dit my opgeval dat elke woord tel, soos met ’n gedig die geval is; minder is meer. Die simboliek van die brood is deurslaggewend, ook in ’n post-WOII-klimaat, en die hele verhaal spil rondom die understatement van die karakters wat inderwaarheid oorsensitief is vir mekaar se behoeftes: die vrou met die wete dat haar man honger is, en die man, op sy beurt, se wete dat sy vrou bewus is van laasgenoemde. Dit is ’n sensitiwiteit wat tot op ’n punt haas ondraaglik word; ’n medemenslikheid wat met die krag van suggestie en gewaande misverstande (die geluid in die kombuis; die geklap van die geut in die wind) vertel word. Binne die bestek ongeveer 700 woorde is dit merkwaardig hoe Borchert daarin slaag om relatief gesproke die aspekte van ruimte, tyd, handeling, dialoog en karakterontwikkeling in ewewig te laat verkeer en maksimaal as verhaalgegewens te benut. Dit is paradoksaal juis die afstandelike styl wat ’n lens van intimiteit tussen die karakters skep; en die rantsoenbrood in die naoorlogse hongersnood wat die spanning, skaamte en stilte in die huwelik van ’n egpaar belig. Ek verwys verder in die stuk na die ryk simboliek van brood in letterkunde.
Wolfgang Borchert (1921–1947) was een van die mees ikoniese figure van die sogenaamde Trümmerliteratur (rommel- of puinliteratuur) tydens die jare net ná die Tweede Wêreldoorlog. As hy ’n Afrikaanse skrywer was, sou die slagsin “ons is nie almal so nie” waarskynlik van toepassing gewees het.
Hy is gebore in Hamburg in ’n liberale, kunssinnige gesin. Sy pa was ’n onderwyser en sy ma ’n skrywer en radio-omroeper. Borchert het vroeg reeds die Hitlerjugend gehaat en anti-Nazi-gedigte en tekste geskryf.
In 1941 is hy opgeroep vir diens in die Wehrmacht. Hy het aan die Oosfront geveg waar hy ernstige beserings opgedoen het (onder meer vriesbrand, hepatitis en ’n geamputeerde vinger). Hy is herhaaldelik gearresteer vir anti-Nazi-uitsprake en selfs gevangenisstraf opgelê.
Na die oorlog het hy teruggekeer na ’n verwoeste Hamburg; baie siek, met ernstige lewerprobleme. Hy het toneel gespeel en begin skryf, maar sy gesondheid het vinnig agteruitgegaan. Hy is op 26-jarige ouderdom in Basel, Switserland, oorlede aan lewerversaking – ’n dag voor sy beroemdste werk, Draußen vor der Tür, op die verhoog gebring is.
Hierdie ikoniese drama handel oor ’n soldaat wat na die oorlog terugkeer – net om te vind daar is geen plek vir hom in die samelewing nie. Dit is ’n kragtige, nihilistiese uitbeelding van die skuld, wanhoop en die sinneloosheid van oorlog. Dit is eers as radiohoorspel uitgesaai en was dadelik ’n groot sukses.
Borchert se styl is kort, fragmentaries en direk – hy gebruik eenvoudige taal om die pyn en trauma van gewone mense uit te beeld sonder om dit te verromantiseer. Sy werk is humanisties met ’n diepgewortelde pasifisme.
Trümmerliteratur is ’n Duitse literêre beweging wat kort ná die Tweede Wêreldoorlog (1945–1950) ontstaan het. Dit fokus op die onmiddellike nagevolge van die oorlog in Duitsland.
Dié letterkunde handel oor die lot van terugkerende soldate en krygsgevangenes wat voor die puin van hul tuisland, besittings en ideale te staan kom. Skrywers beskryf die vernietiging, honger, trauma, skuld, verantwoordelikheid en die “Stunde Null” (uur nul) – die poging om ’n nuwe begin te maak ná die Nazi-tydperk en die Holocaust. Stilisties word dié werk gekenmerk deur skoon, eenvoudige en realistiese skrywes, sonder die bombastiese styl van voorheen; en gestroopte, direkte en nie-pretensieuse taal – ’n doelbewuste breuk met die Nazi-era se grandiose retoriek. Geen oordadige beskrywings of ideologie nie – die nederige en minimalistiese aanslag was ’n bewuste reaksie teen die misbruik van die Duitse taal deur die Nazi’s.
Om die verlede te verwerk, moes die werklikheid gekonfronteer word om ’n nuwe toekoms te help bou. Trümmerliteratuur het ook die politieke en sosiale herstel in die naoorlogse Duitsland gekritiseer en gehelp om die gruwels en alledaagse lyding van die naoorlogse jare uit te beeld. Eksponente van die Trümmerliteratuur was onder meer Günter Eich, Wolfdietrich Schnurre, Wolfgang Weyrauch, Heinz Rein, en figure soos Heinrich Böll (wat later meer bekend geword het). Die beweging was van korte duur en het oorgegaan in meer komplekse naoorlogse literatuur (soos die Gruppe 47), wat as deel van die groter Nachkriegsliteratur beskou word.
Hoewel Borchert nooit self by die vergaderings van die invloedryke Gruppe 47 kon aansluit nie – hy is in November 1947 oorlede kort voordat hy genooi is – het sy styl ’n groot invloed op dié groep uitgeoefen. Alfred Andersch het selfs die vroeë fase van die Gruppe 47 as “Borchertismus” beskryf, omdat sy radikale eenvoud en eerlikheid ’n model geword het vir skrywers soos Heinrich Böll en Günter Eich wat ’n nuwe, waaragtige Duitse literatuur wou skep. Borchert bly dus ’n simbool van hierdie generasie se poging om ná die ineenstorting weer sin te maak van die werklikheid.
Wolfgang Borchert word vandag nog wyd in skole gelees en oorskry die tydperk van die Trümmerliteratur.
Heeltemal onverwant tot die tematiek van hierdie blog (brood), maar wel met betrekking tot Borchert se kortverhale: In “Op hierdie Dinsdag” het ek Borchert se “An diesem Dienstag” geneem en die verhaalgegewens volledig getransporteer na ’n Suid-Afrikaanse konteks. Al wat ek gebruik het, was die templaat van die verhaal met die herhaling: “Op hierdie Dinsdag”. Die verhaal is geskryf tydens groot sosiale en politieke protes teen oudpresident Jacob Zuma se presidensie in 2016. https://www.litnet.co.za/op-hierdie-dinsdag/
2
In die letterkunde en poësie is brood ’n ryk en veelsydige simbool van lewe, oorlewing, gemeenskap, arbeid en geestelike voeding. Van die Bybelse wonderwerke (die vermeerdering van die brood), die Nagmaal (“Neem, eet, dit is my liggaam”) tot die alledaagse sweet van die aangesig in Genesis, verteenwoordig brood die siklus van saad, oes, honger en vervulling.
Digters soos Emily Dickinson, Pablo Neruda of Afrikaanse skrywers gebruik dit dikwels om armoede, oorvloed, deling en transfigurasie uit te beeld – brood as eenvoudige daaglikse brood wat die heilige binne die alledaagse openbaar, of as herinnering aan gebrokenheid en genade in ’n gevalle wêreld. Dit bly ’n kragtige motief wat die materiële na die metafisiese oorbrug.
DIE WOEDENDE BROOD
Hulle wat brood eet, nie brood metafories
nie, maar brood met olie en sout op,
is nooit soos dan so heel nie, volkome,
soos die vingers wat die brok hou,
die kundige edel vingers van die hand
wat die sweet van die aanskyn wegvee –
Jesus en sy twaalf eet brood,
brood met olie en sout op; Jesus met net
so ʼn mond, sulke hande, geneem uit Maria,
en al wat Hom van hulle onderskei, is in
sy Hart en sy Hart in die Vader, die Gloed
waarin alles ontstaan het: die korrel
koring, die aarde, die brood, die honger
eens heerlik, tot verhongering vermink,
en die Furie en die oorvloedige Bloed.
Sheila Cussons. Die woedende brood, 1981, p. 19, wat bekroon is met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys.
Dié gedig is ’n intense religieuse refleksie oor brood as werklike en sakramentele voedsel – die gewone souterige en olierige brood van die laaste maaltyd word verbind met Jesus se menslikheid, die skepping, honger, lyding en verlossing.
Die brood met olie en sout is nie ’n metaforiese of abstrakte brood nie, maar ’n konkrete, aardse een – die brood van die Laaste Avondmaal (Eucharistie). Dit simboliseer Jesus se liggaam (soos in die instelling van die Nagmaal: “Neem, eet, dit is my liggaam”). Die olie en sout maak dit “werklik” en sensories: die olie dui op salwing/oorvloed/ die Heilige Gees, en sout op bewaring, smaak en die Verbond. Dit is die brood wat mense heel en volkome maak in hul gemeenskap met God.
Die menslike Jesus – met ’n mond, hande “geneem uit Maria” – word beklemtoon. Hy is volledig mens (uit die maagdelike moeder gebore) én volledig God. Sy hande vee sweet af (’n verwysing na arbeid: Genesis 3:19, en Getsemane). Die maaltyd is ’n oomblik van heelheid en intimiteit voor Sy verraad en kruisiging.
Jesus se “Hart” (met ’n hoofletter) is die brug na die Vader. Die “Gloed” is die goddelike kreatiewe vuur/lig/energie waaruit die heelal ontstaan het – die oerkrag van die skepping. Dit verbind die alledaagse (die korrel koring, aarde, brood) met die goddelike oorsprong.
Die siklus van die skepping word geïmpliseer deur die saad → groei → brood → voeding. Die “honger”: “eens heerlik” (’n natuurlike, lewensbevestigende behoefte), word “tot verhongering vermink” deur die sondeval, lyding en gebrokenheid. Dit simboliseer insgelyks ’n geestelike honger na God.
Die betekenis van “die Furie en die oorvloedige Bloed”: Hier lê die “woedende” kern. “Furie” dui op God se heilige toorn oor die mens se val. Die “oorvloedige Bloed” is Jesus se uitgestorte bloed aan die kruis – en die verlossing, die offer en genade. Dit is paradoksaal: oordeel en redding in een.
Die titel is dualisties (’n kenmerk van Cussons se werk): die brood is “woedend” omdat dit die spanning belig van ’n gevalle wêreld van menslike gebrokenheid. Die alledaagse, lewegewende simbool van die brood herinner aan die skepping se goedheid, maar ook aan honger, sweet, verraad en die kruis. Dit is woedend in die sin van intense, vurige energie — die Gloed self, wat skep én oordeel, voed én vernietig. Die gedig kulmineer in hierdie paradoks: die brood bring as sakrament heelheid, maar binne ’n werklikheid van Furie en Bloed.
Sheila Cussons was ’n Rooms-Katoliek met mistieke inklinasies en haar poësie word gekenmerk deur die paradokse van lig/duisternis, vuur/water en skepping/lyding. Die titelgedig is ’n hoogtepunt wat die alledaagse (die eet van brood) transfigureer na die heilige.
*
Brood van die engele*
blou dag, die hawe vaar
die ewigheid in, en hoër as
die stilte
panis angelicus
oor die speler
jy sê daar is brood van die engele
rookmis slier in die rante, die Jaguar
blindvlug deur die passe, die wind
die vlegsels vlamme en brandsiek fynbos
se bitter turf
lammers raak weg
skilpaaie gaan dood
ek huil in jou hand oor die stadige reis
van bloed in jou hart
en sê nee, ons is sterk, ons hang
ons gode uit in bome –
berg, krimp; word weer fossiel
uit vulkaanwinters is ons
gevuur
*Panis angelicus
© Nini Bennett-Moll
Die gedig het voorheen op die AVBOB-Poësiewebwerf verskyn.
Die biografiese agtergrond vir bogenoemde gedig: In Julie 2018 het my eggenoot, Mellet Moll, ’n hartaanval gehad wat hy wonderbaarlik oorleef het. Ek het hierdie gedig geskryf ná sy besoek aan ’n kardioloog kort na die insident. Op 28 Oktober 2024 het hy ’n tweede, massiewe hartaanval gehad en is hy in my arms oorlede.
Julie 2018 is ook gekenmerk deur verwoestende bergbrande in die Weskaap.
Die gedigtitel is ontleen aan “Panis angelicus fit panis hominum”, oftewel “die brood van die engele word brood vir die mens”. Die frase verwys na Psalm 78:25: “Mense het die brood van engele geëet”, en Thomas Aquinas verbind dit met die idee dat die Eucharistie ’n voorsmakie van die hemelse genieting is wat engele reeds ken. In die Katolieke teologie word die brood en wyn volgens die leer van transsubstansiasie die liggaam en bloed van Christus.
As skrywer van die oorspronklike teks het sint Thomas Aquinas (1225–1274) die himne geskryf op versoek van Pous Urbanus IV vir die nuwe fees van die Corpus Christi, wat die Eucharistie, of Heilige Nagmaal, vier. Dit maak deel uit van ’n volledige liturgie wat hy saamgestel het. Die teks is oorspronklik bedoel vir gebruik in die Mis en Ure-gebed.
“en hoër as / die stilte / panis angelicus / oor die speler”
Hier word verwys na César Franck se toonsetting van Panis angelicus. Dit vorm deel van sy Messe à trois voix (Op. 12 / M. 61). https://www.youtube.com/watch?v=GoHEs3y4bVM
Die spreker se geliefde sê daar is brood van die engele, na analogie van Franck se Panis angelicus wat die egpaar oor die motor se speler luister, maar in teenstelling tot dié eteriese siening beroep die spreker haar op ’n meer robuuste beskouing.
Sy kyk na die verwoesting van die bergbrande om haar:
“ek huil in jou hand oor die stadige reis
van bloed in jou hart”
Kennelik huil sy oor haar geliefde se verswakte hartspier.
Dan die robuuste stellingname:
“en sê nee, ons is sterk, ons hang
ons gode uit in bome –“ (my kursiversing)
Hier verwys die spreker na die god, Odin. In die Noorse mitologie is een van die bekendste verhale Odin se gewillige self-opoffering deur homself aan die Wêreldboom op te hang. Dit word beskryf in die Poetic Edda, spesifiek in die gedig “Hávamál”.
Odin hang vir nege dae en nege nagte aan die boom, deurboor deur sy eie spies. Hy hang daar sonder kos of water, blootgestel aan die elemente in ’n toestand van dood-agtige lyding. Hierdie daad is ’n offer aan homself – “myself aan myself”, soos hy dit self beskryf.
Die doel was om die geheime van die Runes te ontdek, sowel as ’n diepe wysheid en kennis van die heelal.
“I know that I hung on a windy tree
nine long nights,
wounded with a spear, dedicated to Odin,
myself to myself,
on that tree of which no man knows
from where its roots run.
No bread did they give me nor a drink from a horn,
downwards I peered;
I took up the runes, screaming I took them,
then I fell back from there.”
Bogenoemde fragment verwys Odin se eindelose soeke na wysheid, selfs teen ’n verskriklike persoonlike prys.
In al drie voorbeeldstudies het brood, as simbool, die volgende in gemeen: dit is eerstens konkrete, materiële brood waartydens ’n vorm van katarsis dit veredel deur ’n transfigurasie tot ’n simboliese, metafisiese brood, soos byvoorbeeld liefde.
Bronnelys:
https://www.avbobpoetry.co.za/ (20 Julie 2026 besoek)
Borchert, W. 1949/2009. Das Gesamtwerk. Hamburg: Rowohlt. pp. 320-322.
Cussons, S. 1981. Die woedende brood. Kaapstad: Tafelberg.
https://www.litnet.co.za/heil-die-leser-oor-kortkuns-briewe-en-toesprake/ (20 Julie 2026 besoek)
Gouws, T. en P.H. Roodt (samest.) 1990. Kort-kort. Pretoria: J.P. van der Walt en Seun (Edms.) Bpk.
Kok, M. 2024. Op die kantlyn. Gansbaai: Naledi.
https://versindaba.co.za/2026/06/30/joan-hambidge-die-kort-kortverhaal-en-die-digkuns/ (21 Julie 2026 besoek)
https://de.wikipedia.org/wiki/Tr%C3%BCmmerliteratur (21 Julie 2026 besoek)

Aangrypend, uitstekende analise en toepassing, Nini! Jou eie gedig staan bo alles uit. Welgedaan!