Nuus / Briewe

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Julie 2021

Wednesday, July 14th, 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

 

Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA)

Soos wyd berig is die afgelope tyd, het die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting se regulasies op 1 Julie in werking getree. Hierdie wet bepaal die wyses waarop inligting oor individue bewaar en beskerm moet word deur organisasies wat daarmee werk.

Van die verpligtinge van organisasies sluit in dat persoonlike inligting slegs vir ’n spesifieke doel ingesamel en gehou word.

Die spesifieke doel waarvoor PEN Afrikaans persoonlike inligting van ons lede en belangstellendes bekom, is die versending van ons maandelikse nuusbrief en, in uitsonderlike gevalle, ook tussentydse korrespondensie oor ons werksaamhede. Diegene op ons verspreidingslys teken vrywillig in om ons korrespondensie te ontvang. Lede ontvang ook een keer per jaar ’n faktuur vir ledegeld. Versending vind slegs per e-pos plaas.

Dit staan julle vry om te besluit om nie langer ons e-posse te ontvang nie. Teken enige tyd uit deur onderaan enige van ons nuusbriewe te klik op daardie opsie.

Ons hoop natuurlik dat julle sal besluit om dit nie te doen nie en dat ons kan aanhou kommunikeer. Ons hanteer julle persoonlike inligting met omsigtigheid en vir ’n spesifieke, beperkte doel en sal graag julle vrae daaroor beantwoord.

 

Voorleggings ingewag: Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Die Portefeuljekomitee vir Handel en Nywerheid ontvang tans voorleggings oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Die sperdatum vir voorleggings oor die wetsontwerp, spesifiek oor die voorbehoude wat president Cyril Ramaphosa daaroor geformuleer het, is op versoek van belanghebbendes uitgestel vanaf 9 Julie na 16 Julie (maar slegs vir dié wat uitstel gevra het).

Selfs met hierdie uitstel is die tyd om voorleggings voor te berei uiters beperk in die lig daarvan dat daar oor regstegniese vrae oor grondwetlikheid en (nie-)nakoming van internasionale verdrae insette gevra word.

Nietemin sal PEN Afrikaans ’n volledige voorlegging voorberei en teen die aangepaste sperdatum indien. Ons sal dit ook op ons webwerf beskikbaar maak en in ’n volgende nuusbrief deel. Die wetsontwerp bly ’n belangrike fokuspunt vir ons en ons lede, aangesien dit skrywers en die groter boekbedryf direk raak en, indien daar nie wysigings gemaak word nie, ingrypend sal benadeel.

 

Insette gevra: hersiening van taalbeleid by die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch werk tans aan die hersiene beleid wat die hantering van taal by hierdie instansie sal uiteensit. Die tweede konsepweergawe van die hersiene taalbeleid behoort hierdie maand gepubliseer te word vir openbare raadpleging.

Soos reeds vermeld, beoog PEN Afrikaans om ‘n voorlegging oor die konseptaalbeleid voor te berei. In stede daarvan om in die breë te praat oor die voordele van moedertaalonderrig en ‘n meertalige leeraanbod en die verskraling wat met ‘n gedwonge verengelsing saamgaan, wil ons graag helderheid vra oor wat die taalbeleid in praktyk sal beteken. Ons wil die US vra om besonderhede te verskaf oor hoe die taalbeleid toegepas gaan word. Watter kursusse en aspekte van leer sal in Afrikaans en isiXhosa ook beskikbaar wees? Waarop kan die voornemende student reken?

Ons vra ons lede om teen die einde van Julie enige spesifieke vrae waaroor julle verheldering sal waardeer na ons te stuur by penafrikaans@gmail.com vir moontlike insluiting by ons voorlegging.

 

Skrywersonderhoude: Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021 is tans aan die gang. Hierdie maandlange skrywersverblyf bied aan skrywers die geleentheid om in die Paulethuis op Somerset-Oos tuis te gaan om aan skryfprojekte te werk wat in hul aansoeke uiteengesit is.

LitNet het onderhoude met die suksesvolle aansoekers vir die residensie gedoen. Lees hier meer oor die skrywers en hul skryfwerk:

 Ons wens hierdie groep ’n prettige en produktiewe verblyf toe.

 

Inskrywings ingewag: Aanlyn skryfkursus met Marita van der Vyver en Jolyn Phillips

Ná die groot sukses van die aanlyn kursusse wat PEN Afrikaans in 2020 met PEN International se ondersteuning aangebied het, is dit ’n plesier om te kan aankondig dat Marita van der Vyver weer vanjaar vir ons ’n aanlyn kursus oor die skryf van verhale aanbied, met Jolyn Phillips, bekroonde digter, skrywer, dosent en bestuurslid van PEN Afrikaans, wat hierdie keer as gasspreker sal optree.

Ons bied slegs een kursus vanjaar aan en daar is slegs 20 plekke beskikbaar. Die kursusfooi is R750 per persoon vir die kursus wat oor drie Saterdae strek. Daar is 5 beurse beskikbaar vir gratis bywoning. Kontak ons by penafrikaans@gmail.com om kortliks te motiveer indien jy in aanmerking vir ’n beurs wil kom. Aansoeke sluit 31 Augustus.

 

Podsending: Aanlyn resensiekursus 2020

Diegene wat nie vanjaar die skryfkursus kan bywoon nie, kan steeds uitsien na ’n reeks podsendings wat uit dele van verlede jaar se aanlyn kursusse bestaan. Ons deel graag hier die eerste podsending oor die beoordeling van jeugliteratuur, ’n aanlyn resensiekursus wat deur Kerneels Breytenbach en Charles Siboto aangebied is.

Lekker luister.

 

Algemene jaarvergadering 2021: verkiesing van nuwe bestuur

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering sal weer vanjaar aanlyn plaasvind en wel op 19 Oktober om 18:00. Teken dit asseblief solank in julle dagboeke aan. Daar sal onder meer ‘n nuwe bestuur verkies word aangesien die huidige bestuur se tweejaar-termyn tot ‘n einde kom.

Maak asseblief so gou as moontlik kontak by penafrikaans@gmail.com indien jy jouself of iemand anders wil benoem om as bestuurslid te dien. Die bestuur speel ‘n belangrike rol wat die identifisering van projekte betref en werk as ‘n groep saam om PEN Afrikaans se impak en bydrae sinvol te probeer uitbrei, ter wille van die Afrikaanse woordkuns. Daar is tipies vier bestuursvergaderings per jaar (deesdae meestal aanlyn). Kom dink en praat saam oor inisiatiewe wat PEN Afrikaans kan dryf of ondersteun.

Ons hoop om van julle te hoor en sal voor die tyd besonderhede van die verkiesbare kandidate met almal deel.

 

Welkom aan nuwe lede

Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende mense wat sedert ons vorige nuusbrief as lede by ons aangesluit het:

Japie Gouws
Lynette de Coning
Rentia Weber

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Dit weer is ‘n stewige oes. Tydskrif vir Letterkunde se eerste uitgawe van 2021 bevat byvoorbeeld heelwat Afrikaanse resensies wat gratis afgelaai en gelees kan word.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2021

Laastens deel ons oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het! Dit sluit in: Husse met lang ore deur Elsa Winckler, Vampierhokkie deur Fanie Viljoen en Simoelégri deur Jaco Fouché, die wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021. Lees terloops ook Jaco se antwoorde op ons vrae in die nuwe uitgawe van Taalgenoot. Die tydskrif is hier gratis digitaal beskikbaar.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Junie 2021

Wednesday, June 9th, 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

 

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertaling van Ons wag op die kaptein deur Elsa Joubert

Kort voor die eenjaar-herdenking van die afsterwe van Elsa Joubert, een van Afrikaans se grootste skrywers, kondig PEN Afrikaans met trots aan dat ’n Nederlandse vertaling van Ons wag op die kaptein deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds sal word.

Dit volg na deeglike oorweging van aansoeke wat teen die Mei 2021-sperdatum ontvang is.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bevorder die Afrikaanse letterkunde in die buiteland deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Ons wag op die kaptein is die debuutroman van Joubert, wat op 14 Junie 2020 aan Covid-verwante oorsake oorlede is. Dit sal deur Rob van der Veer vertaal word en na verwagting in November 2021 by Uitgeverij Aldo Manuzio verskyn.

Dié klassieke roman is oorspronklik in 1963 gepubliseer en is in 1964 met die Eugène Marais-prys bekroon. Sedertdien is dit in Engels vertaal, vir die verhoog verwerk en in 2005 heruitgegee as deel van Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, se Klassiek-reeks.

Pieter Rouwendal, uitgewer by Aldo Manuzio, meld in sy aansoek die hoë literêre gehalte van die roman. Wat tema betref, sê Rouwendal dat rassediskriminasie steeds in byna elke moderne samelewing ’n realiteit is, en dat Elsa Joubert se kragtige roman daarom ook in die Nederlandse media aandag behoort te kry.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/

 

Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

Ons deel graag die volgende artikel in ons kwartaallikse reeks wat skryfverwante onderwerpe belig. Chase Rhys, bekroonde skrywer, dramaturg en uitvoerende kunstenaar, skryf in hierdie aflewering oor perspektief en dialoog. Die artikel is hier beskikbaar.

Baie dankie aan Chase vir die waardevolle bydrae.

 

Jongste verwikkelinge: Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Ten spyte daarvan dat president Cyril Ramaphosa in 2020 besluit het om nie die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te onderteken nie, maar dit terug te stuur na die parlement vir heroorweging, was daar nie deurgaans tekens dat sy besware ter harte geneem sou word nie.

Daarom was die gebeure by ’n onlangse vergadering van die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ’n welkome en verrassende wending vir onder andere skrywers en uitgewers. Die komitee het aanbeveel dat die Nasionale Vergadering sy vorige aanvaarding van die wetsontwerp as ’n artikel 75-wetsontwerp heroorweeg, en die wetsontwerp na die komitee terugverwys om prosedurele en substantiewe probleme reg te stel. Hierdie aanbevelings is eenparig by ’n parlementsitting op 1 Junie aanvaar.

Hierdie verwikkelinge skep weer ruimte vir openbare konsultasie oor die aspekte van die wetsontwerp wat as problematies en ongrondwetlik beskou word. Hopelik sal dit hierdie keer betekenisvolle raadpleging wees wat tot ’n billike en werkbare hersiene Wet op Outeursreg lei.

’n Langer proses is nie vir almal blye nuus nie. ’n Kopiereguitsondering vir blinde en siggestremde lesers se toegang tot boeke sal byvoorbeeld nou langer neem om deel van ons kopieregwetgewing te word. Die bestuur van PEN Afrikaans is dit eens dat hierdie kategorie lesers toegang tot boeke behoort te hê onder ’n kopiereguitsondering wat in lyn is met die Marrakesj-verdrag. Dit is ons oortuiging dat daar geen noemenswaardige teenkanting uit skrywers- en uitgewersgeledere hierteen bestaan nie en dat dit uiters jammer is dat visueelgestremde lesers se toegang tot boeke langer belemmer word omdat dit in die moeras van werklik problematiese bepalings verstrengel geraak het. Ons doen ’n beroep op die wetgewer om werk hiervan te maak.

 

PEN Afrikaans en LitNet Gespreksreeks: Max du Preez

PEN Afrikaans en LitNet bied vanjaar ’n reeks gesprekke aan oor die integriteit van inligting, akkurate beriggewing, asook uitdrukkings- en persvryheid.

Die veteraanjoernalis Max du Preez beantwoord hierdie keer ‘n aantal vrae. Lees hier wat hy oor vrye spraak geloofwaardige joernalistiek sê.

 

Welkom aan nuwe lede

Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende mense wat sedert ons vorige nuusbrief as lede by ons aangesluit het:

Erla-Mari Diedericks
Lamé Ebersöhn

 

Maandelikse resensie-oorsig


Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2021

Laastens deel ons oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het!

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Mei 2021

Thursday, May 13th, 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Bydraes oor taal en taalbeleid by die Universiteit Stellenbosch

Sedert ons vorige nuusbrief waarin ons onder meer kommentaar gelewer het oor taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch, het ons met groot waardering prof. Yves T’Sjoen se bydrae oor Afrikaans ontvang en op ons webwerf gepubliseer. Teen die agtergrond van die verwikkelinge by die US, skryf hy sy liefdesverklaring vir Afrikaans, ’n inheemse taal met internasionale aansien. Lees sy stuk hier.

Die taakspan wat met die hersiening van die US se taalbeleid gemoeid is, oorweeg tans die insette op die eerste konsep van die hersiene beleid nadat die tydperk vir openbare deelname op 12 April 2021 verstryk het. Die tweede konseptaalbeleid sal in Julie 2021 beskikbaar wees vir openbare insette. In die tussentyd nooi ons steeds ons lede om tersaaklike kommentaar te stuur na penafrikaans@gmail.com.

’n Verdere belangrike bydrae wat ons graag hier deel, is deur Jana Luther oor die verskynsel van luistertaal, wat sy beskryf as “’n vorm van asimmetriese, meertalige kommunikasie wat luister sowel as lees omvat” en wat “behels dat mense met verskillende taalagtergronde hulle eie taal praat en skryf en mekaar verstaan terwyl hulle reseptiewe taalvaardighede ontwikkel en strategieë oefen om die ander taal volledig(er) baas te raak.”

Dit is duidelik uit die navorsing wat die artikel onderlê dat luistertaal ook in ’n akademiese konteks ’n beduidende en verruimende rol kan speel. Die artikel is hier in die oorspronklike Afrikaans beskikbaar, en hier in Engelse vertaling.

 

Wêreldboeke- en kopieregdag en onregmatige verspreiding van e-boeke

Op 23 April is Wêreldboeke- en kopieregdag herdenk. Lees gerus hier ons voorsitter, Marga Stoffer, se bydrae oor die belang van kopiereg vir skrywers, met verwysing na hoe PEN International (die wêreld se grootste en oudste skrywersvereniging) die saak sien.

Outeursreg bly ’n relevante onderwerp vir skrywers en boeke, met die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg wat steeds dreig om groot skade aan die boekbedryf te berokken sou dit wet word, en rooflesers wat steeds kopiereg minag.

Veral die onverpoosde onregmatige verspreiding van e-boeke is tans weer in die kollig nadat groepe op Telegram en Facebook geïdentifiseer is wat e-boeke na hartelus versprei, klaarblyklik sonder gewetenswroeging.

In ’n rubriek oor die onderwerp verduidelik Jo Prins aan die groepslede hoedat die aanstuur van ’n e-boek nie met die uitleen van ’n papierboek vergelyk kan word nie:

“Nee, ’n e-boek word ’n veldbrand. En hierdie brand verhoed dat skrywers […] kos op die tafel kan sit. Die skepper van die werk (en die uitgewer) verdien nie ’n sent uit roof-eksemplare nie.

Op ’n virtuele manier is julle gewoon besig om die biblioteek af te brand. En julle bewys die taal geen guns nie.”

 
In haar bydrae tot ons veldtog teen die onregmatige verspreiding van e-boeke tydens die streng inperkingstyd verlede jaar, het Chanette Paul dit so gestel:

Klik hier vir die video waarin skrywers verlede jaar ’n beroep op lesers gedoen het om nie e-boeke onwettig te versprei nie en om kopiereg te respekteer. Die boodskap geld steeds, en die beroep is dringend.

Dit raak al hoe moeiliker vir oortreders om onkunde te pleit soos wat kritiek daarteen luid opklink en skrywers, uitgewers en ook ander lesers op hierdie flagrante kopieregoortredings reageer.

 

Suksesvolle aansoekers: Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het sedert ons vorige nuusbrief met trots die suksesvolle aansoekers aan vir ons maandlange skrywersresidensie aangekondig.

Die volgende ses skrywers is vir vanjaar se skrywersresidensie gekies:

  • Andries Bezuidenhout
  • Lydia Gittens
  • Mercy Kannemeyer
  • Salvia Ockhuis
  • Sarie Nell
  • Valda Jansen

Die goedgekeurde skryfprojekte sluit ’n opwindende verskeidenheid romans, vir volwasse én jonger lesers, kortverhale, en gedigte in.

“Baie geluk aan die suksesvolle aansoekers. Ons het volle vertroue dat die skryftyd in Paulet-huis op Somerset-Oos vir julle waardevol sal wees om daardie boeiende skryfprojekte waarmee jul besig is, te kan voltooi,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

“Die skrywersresidensie bly ’n hoogtepunt op PEN Afrikaans se jaarkalender,” sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans. “Die groep suksesvolle aansoekers bestaan vanjaar uit gevestigde én opkomende skrywers, onder andere twee wat verlede jaar aan PEN Afrikaans se aanlyn skryfkursusse deelgeneem het en nou verder aan hulle skryfprojekte gaan skaaf. Ons is werklik trots op die kaliber aansoeke en dankbaar dat die Jakes Gerwel Stigting hierdie wonderlike geleentheid moontlik maak.”

Lees gerus hier LitNet se onderhoude met die suksesvolle aansoekers. Dankie aan LitNet vir die inisiatief.

 

Aansoeke ingewag: PEN Afrikaans Vertaalfonds

Hierdie ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds sluit 15 Mei. Buitelandse uitgewers kan tot dan aansoek doen om ’n Afrikaanse boek in vertaling uit te gee. Die volledige inligting met aansoekvorm is hier beskikbaar.

Verblydende nuus uit België is dat die Nederlandse vertaling van ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs, wat deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds is en by Uitgeverij Ploegsma verskyn het, benoem is vir die Kinder- en Jeugdjury Vlaanderen se jaarlikse toekennings. Die afgelope jaar het meer as 11 000 kinders gestem om die wenboeke aan te wys. Baie geluk aan Jaco Jacobs.

 

Welkom aan nuwe lede

Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan Francois Lion-Cachet, redakteur van Klyntji.com, wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het.

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2021

Laastens deel ons oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.

Dit sluit in Ingrid Winterbach se roman Voorouer. Pelgrim. Berg, Ebbe Dommisse se boek oor Afrikaner-magnate, wat in Afrikaans en Engels op die rakke is, twee boeke uit Fanie Viljoen se pen, en Wendy Maartens se reeks oor vrouehelde van Suid-Afrika.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: April 2021

Wednesday, April 14th, 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans besorgd oor taalbeleid en -praktyk aan die Universiteit Stellenbosch

’n Aantal gebeure het die afgelope weke saamgeval om die kwessie van taal by die Universiteit Stellenbosch opnuut op die spits te dryf. Die universiteit se hersiene konseptaalbeleid is vir kommentaar gepubliseer en die amptelike konsultasieproses is onderweg. Daar was ook ’n senaatsbesluit dat, met inagneming van die impak van die Covid-19-pandemie en die groter werkslas op personeellede, alle kursusse aan die universiteit slegs in Engels aangebied word vir die eerste semester van 2021. Verder was daar gerugte oor gevalle van taaldiskriminasie in koshuise, waar Afrikaanssprekende studente na bewering belet is om in hul moedertaal met mekaar te kommunikeer.

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers, vertalers en ander belanghebbendes wat in die Afrikaanse taal werk. Alhoewel ons as vereniging nie primêr in die onderrigsfeer werksaam is nie, sou dit kortsigtig wees om te dink dat taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch ons en die Afrikaanse skryf- en leserspubliek nie raak nie. Inteendeel, die versterking en uitbou van Afrikaans, ook as onderrigtaal, is uiteraard van groot belang vir ons en ons lede.

Deur lidmaatskap van PEN International, die wêreld se voorste skrywersvereniging, verteenwoordig ons ons lede in die internasionale konteks en onderskryf ons die organisasie se doelstellings. PEN International is gerig op die bevordering van letterkunde, die beskerming van uitdrukkingsvryheid en die handhawing en uitbou van taalregte regoor die wêreld.

Teen hierdie agtergrond lewer ons oorhoofs kommentaar oor bogenoemde verwikkelinge wat taal by die Universiteit Stellenbosch betref en waarvan ons met kommer kennis neem.

Die bestuur van PEN Afrikaans se uitgangspunt is dat die Afrikaanse taal ’n nasionale bate is en ’n waardevolle hulpbron wat ingespan kan en, veral in die Wes-Kaap, móét word ter wille van toegang tot kennis en daarmee saam ekonomiese bemagtiging. Dit is tot voordeel van alle sprekers van Afrikaans en daarmee saam tot voordeel van Suid-Afrika.

Die universiteit se konseptaalbeleid is op die oog af ten gunste van meertaligheid, en spesifiek die aanwend van Afrikaans, Engels en isiXhosa as onderrigtale van die universiteit. Die gebruik van Afrikaans en isiXhosa is egter onderworpe aan soveel voorwaardes en kwalifikasies, en die klem op inklusiwiteit deur middel van Engels as verstektaal is so sterk, dat dit aanleiding gee tot ’n diskrepansie tussen die ideaal van meertaligheid en die praktyk van eentaligheid wat na bewering toenemend op die US-kampus toegepas word.

Om eentaligheid en ’n gedwonge verengelsing as primêre taaloplossing te sien om integrasie en transformasie na te streef, is nie net verbeeldingloos nie, dit is ’n verskraling wat skade aanrig. Dit is skadelik vir die tale wat uitgesluit word en vir die mense wat in daardie tale leef, werk en, seker die belangrikste in die konteks van die universiteit as instansie: leer. Die bewese waarde van moedertaalonderrig moet nie uit die oog verloor word nie.

PEN International se Girona Manifes oor Taalregte, wat PEN Afrikaans ten volle steun, meld onder meer: “Elke taalgemeenskap het die reg dat sy taal as ’n amptelike taal in sy gebied gebruik word” en “Alle mense leer om te praat in die hart van ’n gemeenskap wat aan hulle lewe, taal, kultuur en identiteit skenk.”

In die Wes-Kaap praat bykans die helfte van die bevolking Afrikaans.

As die universiteit die plaaslike gemeenskap wil dien en meertaligheid wil bevorder, moet die uitsonderlike reëling ten opsigte van Engels as enigste onderrigtaal in die eerste semester van 2021 ’n uitsondering bly. Dit is reeds ’n verreikende inkrimping van taalregte. Die instansie moet hom verder daadwerklik daartoe verbind om Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale te ontwikkel en te versterk sonder al die voorwaardes wat in die konseptaalbeleid raakgelees word.

Die konseptaalbeleid se nie-erkenning van Afrikaans as inheemse taal is, soos verskeie kommentators al uitgewys het, problematies en ook foutief. Die Departement Afrikaans en Nederlands verwoord dit as volg in ’n ope brief aan die rektor:

“Die uitsluiting van Afrikaans uit hierdie groep tale is eerstens wetenskaplik foutief en tweedens ideologies gekleur. Die verklaring is dalk dat hierdie bewoording gewoon oorgeneem is om met die oorhoofse beleidsdokument te strook, maar dan moet hierdie feit eksplisiet gestel en gekontekstualiseer word deur ook ondubbelsinnig te sê dat die universiteit beslis die taal Afrikaans as die inheemse taal beskou wat dit is. Dit is immers ook hoe taalkenners dit beskou.”

PEN Afrikaans skaar ons sonder voorbehoud by die brief van die Departement Afrikaans en Nederlands en moedig die universiteisbestuur aan om ernstige oorweging te skenk aan die inhoud daarvan.

Klik op die skakel vir die volledige brief.

Ons neem verder met kommer kennis van gerugte dat studente in informele kontekste verbied word om Afrikaans te praat. Indien dit die geval is, veroordeel PEN Afrikaans hierdie optrede as outoritêr en diskriminerend.

Ons doen ’n beroep op die Universiteit Stellenbosch om sterk standpunt in te neem teen antagonisme jeens sprekers van Afrikaans op kampus of in koshuise, en om daadwerklik ’n kultuur te kweek van nie net verdraagsaamheid nie maar wel ’n viering en bevordering van meertaligheid ter wille van inklusiwiteit en akademiese uitnemendheid.

Dit behoort duidelik genoeg die universiteit se beleid te wees – in woord en in daad – dat daar weinig ruimte is vir misverstande in koshuise, lesinglokale, raadsale en elders.

 

Lede uitgenooi om insette te lewer: taal by die Universiteit Stellenbosch

PEN Afrikaans nooi ons lede uit om insette te lewer oor taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch. Hier is Breyten Breytenbach se kommentaar, wat hy op ons versoek gestuur het en wat ons met groot waardering deel. Ons hoop om ‘n verskeidenheid skrywers se stemme te laat hoor. Ons hoor graag van julle by penafrikaans@gmail.com of op ons Facebook-bladsy.

Oral in die wêreld kom universiteite tans te staan voor oorlewingsprobleme en ’n bevraagtekening van hulle funksie in die oorgang van gemeenskapsgebaseerde hoër-onderwysinstellings grotendeels befonds en bemagtig deur openbare owerhede na navorsingsinstitute gefinansier deur en in diens van die plaaslike en internasionale privaatsektor. In hierdie aftakeling van wat die instansies vroeër beliggaam het en die “evolusie” na ’n nuwe paradigma word die geesteswetenskappe en lettere duidelik nie meer gesien as bindende faktore in die maak van ’n gedeelde grond vir veral gefragmenteerde gemeenskappe nie. Die geleentheid om volwaardig te ontwikkel tot ’n vrydenkende en eties-gefundeerde mens tussen haar of sy medemense is klaarblyklik nie meer die norm of selfs die bestaansrede van wat ons nog oudergewoonte “universiteite” noem nie. Daarby saam het institusionele onverdraagsaamheid en benepenheid in die boelie-gedaante van rassialisme, wokeness en ‘n cancel culture Kultur nie net die leer-instellings maar ook die groter gemeenskap soos ’n virus getref.

Ek het nooit enige formele verbintenis met Stellenbosch Universiteit gehad nie (and my other habits are clean too). Soos die meeste Afrikaanstalige skrywers was en bly ek egter trots op die gehalte onderrig en die kritiese omgang met kernkonsepte van die Departement Afrikaans aldaar – van hoe die nodige wordwoord in diepte bestudeer en krities aangegee kon word. Hulle kon kers vashou by enige soortgelyke instansie, ook internasionaal. Wanneer so ’n leerskool – as eerste en laaste skans teen verdomming en verontmensliking, téén die barbarisme van die buk-gedienstiges – oplaas kapsie maak teen die doodskrif aan die muur, spreek dit boekdele. Dat hulle, al is dit per implikasie en ook al kom dit seker te laat, die reaksionêre Bestuur in die glibberige bek ruk, strek tot hulle gesamentlike eer.

Die denkfout soos verteenwoordig deur dié wat eng en bekrompe is, is dat die wegdoen met die gegewe en die gawe van ons diversiteit sal lei tot ’n meer homogene en effektiewe eenheid terwyl presies die tenoorgestelde waar is – soos enige omgewingskenner en bioloog vir ons kan bewys. Selfs in ’n byna volledig gesentraliseerde Jakobynse staat soos Frankryk word die jongste amptelike vrystellings en voorskrifte betreffende die hantering van die wêreldwye pandemie nou reeds, behalwe vir die amptelike standaard Frans, in vier streekstale beskikbaar gemaak en gebruik. Mens lééf van tekstuur! Indien die huidige veronderstelde laissez-faire taalbeleid so moet voortgaan om soos te veel agteruitgang in Suid-Afrika ‘n fait accompli te word is ons aandadig aan ’n misdaad teenoor die toekoms. Maak dit dan nie saak dat Afrikaans en haar lewende variante, almal inheems ontstaan uit die vermenging van hoop en van ontbering, veel oper staan en baie meer kennis dra van die sogenaamd dominante Globish as wat andersom die geval is nie?

Ek is bewus daarvan dat die Afrikaanse Departement soos ook van die ander wat weerstand bied teen die kultuurmoord (maak nie saak hoe daar gelieg word om die meelopers en kollaborateurs se onaanvaarbare en dodelike beleid te bewimpel nie) nie iemand soos ek se steun nodig het om te weet wat reg en wat onverhaalbaar verkeerd is nie – en dat my ontsteltenis hulle saak miskien selfs skade kan berokken. En tog is ek bly dat hierdie geleentheid my gegun word om via ’n internasionaal erkende groepering van plaaslike betrokkenes by die literatuur – al die literature – PEN Afrikaans, vir wie die moedertaal ook die hartstaal is, sterkte en volharding en moed vir die stryd toe te wens aan die Department Afrikaans van daardie beskamende “universiteit”.

Jonathan Ball (1951 – 2021)

PEN Afrikaans het met leedwese verneem van die gevierde uitgewer Jonathan Ball se afsterwe op 3 April, nadat longkanker drie maande vantevore by hom gediagnoseer is.

“Hy het geglo in die mag van tale en boeke en die plek wat dit inhou in die samelewing, ’n formidabele uitgewer wat geweet het wat gepubliseer moet word,” sê Eugene Ashton, uitvoerende hoof van Jonathan Ball-uitgewers.

Ball het Jonathan Ball-uitgewers in 1976 gestig en dit word vandag as die voorste verspreider en uitgewer van algemene Engelse literatuur in Suid-Afrika beskou. Ashton vertel dat Ball die Afrikaanse boekemark ook baie hoog geag het en gereeld boeke in Afrikaanse vertaling wou publiseer. Lees gerus hier meer.

Hy word onthou vir sy belesenheid, sy humorsin, sy passie en fyn aanvoeling vir boeke, sy belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek, en die diep spore wat hy in die plaaslike uitgewersbedryf getrap het. Mag hy in vrede rus. Ons meegevoel aan sy naasbestaandes.

Wenners aangekondig: die UJ-pryse 2021 en NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd

Die wenners van die 2021-UJ-pryse asook die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is sedert ons vorige nuusbrief aangekondig.

Ryan Pedro ontvang die 2021 UJ-debuutprys vir sy digbundel Pienk ceramic-hondjies en die 2021 UJ-prys word toegeken aan ’n vorige wenner van sowel die UJ-debuutprys as die UJ-prys, Willem Anker, vir sy roman Skepsel.

[Lees die volledige persverklaring hier.]


NB-Uitgewers het ook die wenners van hulle Groot Afrikaanse Romanwedstryd bekend gemaak.

Die wenners in die kategorie vir gepubliseerde skrywers is:

Derde prys: Eugene X deur Kirby van der Merwe
Tweede prys: Die getuienis deur Francois Smith
Eerste prys:  Simoelégri deur Jaco Fouché

Sien hier vir meer inligting.

Hartlik geluk aan al die wenners!

 

Welkom aan nuwe lede

Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:

Jana Luther
Adele Vorster

Ons is bly om julle in ons midde te hê.

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Daar is hierdie keer ’n nuwe toevoeging: die Boeken uit het Huis-aanbieding oor Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls. Boeken uit het Huis is ’n reeks gesprekke oor Afrikaanse letterkunde wat deur die Week van de Afrikaanse Roman in samewerking met die Taalunie en die ZuidAfrika-huis aangebied word. Kyk ook na die besondere gesprek tussen Jolyn Phillips en Yves T’Sjoen wat op 25 Februarie uitgesaai is en waarmee hierdie reeks gesprekke afgeskop het: https://youtu.be/oH6llBWz4wU


Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in April 2021

Laastens deel ons oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. ’n Spesiale geluk aan Bernard Odendaal, een van ons gewaardeerde bestuurslede, met die verskyning van Nootvat. Kwashaal. Stapel.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Documentatiecentrum voor poëzie, Gent

Saturday, March 20th, 2021

 

 

 

 

 

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Maart 2021

Wednesday, March 17th, 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Aansoeke ingewag: skrywersresidensie


Aansoeke vir die skrywersresidensie wat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans vanjaar weer aanbied, sluit 19 Maart. Ons herinner alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans dat julle kan aansoek doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Die doel met hierdie projek is om aan skrywers die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 28 Junie tot 23 Julie 2021, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

Alle genres sal oorweeg word.

Kontak Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za om aansoek te doen. Volledige inligting is hier beskikbaar.

 

PEN Afrikaans vier Internasionale Moedertaaldag 2021


Sedert ons vorige nuusbrief het PEN Afrikaans saam met die res van die wêreld Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gevier. Klik hier vir gedigvoorlesings en meer inligting oor Moedertaaldag.

Jolyn Phillips, bekroonde digter, dosent en bestuurslid van PEN Afrikaans, het ’n oorspronklike gedig vir die geleentheid geskryf met die titel “Prometheus is my pa se naam”.

Breyten Breytenbach, internasionaal gevierde digter, skrywer en visuele kunstenaar, lees ’n aangrypende gedig oor moedertaal voor. Dit is “wanneer jy die moedertong”, gedig 6.9 in sy bundel Op weg na kû. Die opname is gemaak by die bekendstelling van die bundel by The Book Lounge en word gedeel met die vriendelike vergunning van die digter, en met dank aan Albert du Plessis.

 

Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede

Fakture vir 2021 se ledegeld is aan alle lede gestuur. Laat weet gerus by penafrikaans@gmail.com indien jy nie ’n faktuur ontvang het nie en wel vanjaar ’n lid van PEN Afrikaans wil wees.

Dit is ’n plesier om hier hartlik welkom te sê aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:

Salvia Ockhuis
Madelein Rust

 

Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

Die jongste artikel in ons artikelreeks fokus op skryf vir die skolemark, by verre die grootste en ook andersins ’n besonder belangrike deel van die boekemark. Ons het die veelbekroonde skrywer Jaco Jacobs gevra om sy gedagtes neer te pen oor hoe ’n skrywer te werk kan gaan om iets vir die skolemark te skep. Is daar spesifieke moets en moenies? Wie hou ’n mens in gedagte terwyl jy skryf? Lees die artikel hier. Baie dankie aan Jaco vir die bydrae.

 

Klimaatdichters: ’n Internasionale poësieprojek

Klimaatdichters, ’n inisiatief wat geloods is deur Vlaamse en Nederlandse digters wat besorgd is oor die mens se impak op die aarde en hierdie tema in poësie ontgin, nooi Afrikaanse digters om by hulle betrokke te raak.

Lees gerus hier meer oor die insiatief, wat in die Lae Lande begin het, maar wat stelselmatig uitbrei om digters uit ander lande en tale in te sluit: https://www.klimaatdichters.org/wie

Els de Groen van die Klimaatdichters sê:
[Het] lijkt ons interessant nieuwe Klimaatdichters uit landen als Zuid-Afrika d.m.v. een interview op de site nader te introduceren. Zo leren we collega’s kennen maar horen we ook iets meer over de situatie terplekke. Die kan immers sterk verschillen. Nederland heeft nauwelijks nog echte natuur en behalve van stikstof en CO2 heeft het vooral te duchten van de zeespiegelstijging. Elders is extreme droogte en weer elders dreigen houtkap en erosie. En overal gaat de roofbouw ten koste van de biodiversiteit.

Het is een grote uitdaging de complexe en urgente problemen literair te verwoorden, maar juist uit de hoek van de kunst is de aandacht belangrijk, nu de aarde is verworden tot een provisiekast die in hoog tempo wordt leeggegeten.

Indien van ons lede van hierdie geleentheid gebruik wil maak, kan julle ons laat weet by penafrikaans@gmail.com.

 

Maandelikse resensie-oorsig


Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2021

Die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn, bly ’n lekker manier om die nuusbrief mee af te sluit. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Onthou ook dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans nog tot einde van die maand vir 15%-afslag op ’n jaarsubskripsie by PharosAanlyn kwalifiseer. Die inligting is hier beskikbaar.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Februarie 2021

Friday, February 19th, 2021

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

In hierdie eerste nuusbrief van 2021 wens ek julle graag namens die bestuur van PEN Afrikaans ’n voorspoedige jaar toe. Mag dit met julle goed gaan ten spyte van die moeilike omstandighede waarin ons ons steeds bevind.

Lees verder vir, onder meer, ’n uitnodiging om aansoek te doen vir ’n skrywersresidensie,’n spesiale PharosAanlyn-aanbod vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans, ’n huldiging van Margot Luyt, die eerste in ’n nuwe reeks onderhoude in samewerking met LitNet, die aankondiging van ons nuwe tesourier, inligting oor fakture vir ledegeld 2021 en ’n hartlike welkom aan die nuwe lede wat onlangs by ons aangesluit het.

 

Afrikaanse skrywers uitgenooi vir maand se skrywersverblyf

DIe Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans nooi vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uit om aansoek te doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Die doel met hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk.  Die fokus van die residensieprogram is veral gemik op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

De historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers met die nodige dissipline en motivering om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 28 Junie tot 23 Julie 2021, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

Alle genres sal oorweeg word.

Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 19 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet bestaan uit:

  • ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak
  • ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
  • ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
  • ’n Brief van ’n uitgewery wat daarin belangstel om die aansoeker se werk uit te gee of vir publikasie te oorweeg, sal sterk in die kandidaat se guns tel.

Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude met kortlyskandidate sal plaasvind op 16 April. Die suksesvolle aansoeke sal in die week van Wêreldboekedag (23 April) aangekondig word.

Die inligting is hier op ons webwerf beskikbaar.

In memoriam: Margot Luyt 

PEN Afrikaans betreur die afsterwe van Margot Luyt, een van ons erelede sedert 2016. Erelidmaatskap is aan haar toegeken vir haar uitsonderlike bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse woordkuns. Deur haar werk by RSG het sy talent geslyp, geleenthede geskep en gedigte en kortverhale landswyd in mense se huise laat weerklink. Ons bring aan haar hulde deur Frieda van den Heever se afskeidswoorde aan Margot Luyt te deel. Baie dankie aan Frieda. Luister hier na die huldigingsprgram op RSG se Vers en klank.

Ek groet jou, Meluytjie

Toe Margot my in 2018 gevra het of ek haar programme sal oorneem omdat Parkinson se siekte vinnig haar hande en haar geheue aangetas het, wou ek nie. Ek was tussen ’n rots en ’n harde plek. Dis Margot, so sy is onvervangbaar. Dis Margot, so ek moet. Dit is wat Margot met soveel jong en nou al ouer stemme gedoen het. Behalwe vir die feit dat sy baie mense se “uikykantie” was en die meeste van ons ’n staanplek gegee het toe ons nog op ons melkbene geloop het, was die woord “mentor” lanklaas so baie gebruik soos in al die huldeblyke na haar afsterwe. Margot het mense deurgaans opgelei. “Ontgin elke woord. Elke lettergreep is belangrik. Glo wat jy sê. Bedoel, bedoel, bedoel…” Elke oomblik was ’n geleentheid vir opleiding. Selfs as ons in die kar was en my kop net effe weggedraai was terwyl ek praat, sou sy haar stem verhef en sê: “Skat, ek kan jou nie hoor nie. Projekteer. Onthou jy’s in ’n voertuig.” Nes in die ateljee.

Ek onthou een van my eerste radiodramas met ’n emosionele toneel. Die trane loop oor my wange terwyl ek die toneel doen en sy stop my en sê: “Skat, dis baie mooi om na te kyk, maar jou gehoor is blind.” Sy kon sê “Skat, sotto voce”, met ‘n glimlag en ‘n soet stem net nadat sy haar humeur verloor het. En so het ons almal ander dinge van Margot wat ons gaan mis. Ek is aan die een kant verlig dat sy nie nou die era van maskers in die radio-ateljee hoef mee te maak nie. Margot en maskers sou nie saamwerk nie. ’n Eerlike vertolking was heeltemal te hoog op haar lys.

Ek het by Margot se roudiens gesê dat ek dink sy het dikwels agter woorde geskuil. Dit het nie eintlik gegaan oor woorde nie, maar oor mense. Woorde was ’n brug na mense en soms ’n muur om haarself te beskerm. Ek het haar Meluyt genoem en as sy hardkoppig was, Meluytjie. Die kind in haar was altyd teenwoordig – al beskryf meeste mense haar as “lewensgroot” of “larger than life”, selfs as ma, as ouma, veral saam met Graham en ook as regisseur. Sy het ’n paar maande gelede vir my gevra om ’n kennisgewing te maak en te gaan hang bo die ingang van P2 (waar sy Vers en Klank en Kortom opgeneem het) en P4 (die drama-ateljee by die SAUK). Dit moes lees: “Margot is vir julle baie lief.” Gerig aan al die akteurs en stemkunstenaars wat op die beste van dae maar skrikkerig vir haar was. So skrikkerig dat hulle nie wou foute maak nie en óf ’n mini-ineenstorting sou kry óf die beste werk van hulle lewe doen.

Sy is dikwels beskryf as ’n perfeksionis, maar dit was nie omdat sy gedink het sy is perfek nie. Sy was deeglik bewus van haar eie tekortkominge en sy het aanhou stoei met die engel. Haar mank heup het haar egter nie verhoed om die trappe aan te hou klim nie. En ons moes saamklim!

Dis nie net Margot se “sterkvrou-geit” nie, maar ook haar weerloosheid, wat ons almal beter gemaak het as wat ons was … haar gees leef voort in die ateljee. En dan bly daar seker niks anders oor om te sê nie as: “Mag dit met ons almal goed gaan.”

PEN Afrikaans en LitNet loods reeks onderhoude

PEN Afrikaans en LitNet gaan ’n reeks gesprekke aanbied oor die integriteit van inligting, akkurate beriggewing, en uitdrukkings- en persvryheid.

Lees die eerste gesprek hier. Herman Wasserman, professor van mediastudies aan die Universiteit Kaapstad, is aan die woord oor disinformasie. Hy brei uit oor die impak daarvan, faktore wat daartoe bydra en praktiese maniere om dit teë te werk.

 

Spesiale aanbod: PharosAanlyn

Lede van PEN Afrikaans is by uitstek woord- en taalmense en hoef dus nie oortuig te word van die waarde van woordeboeke nie. Baie dankie aan Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, wat ’n spesiale aanbod aan opbetaalde lede van PEN Afrikaans beskikbaar maak.

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kan tot 31 Maart 2021 vir PharosAanlyn via e-pos kontak by sales@pharosonline.co.za om ’n 15%-afslag koepon te kry. Dit sal geldig wees vir enige PharosAanlyn-subskripsie vir die jaar. Navrae kan aan dieselfde e-posadres gerig word.

Kyk by hierdie skakel na die verskillende aanbiedings waaruit lede kan kies: Enkelgebuiker – PharosAanlyn

 

Voorleggings ingewag: Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie 2021

Digters of hul uitgewers word uitgenooi om in te skryf vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie 2021.

Die prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die prys word slegs vir ’n werk met ’n ISBN toegeken wat gedurende die twee jaar voor die jaar van beoordeling verskyn het. Dit wil sê, vir die 2021 Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie kom bundels in aanmerking wat in 2019 en 2020 gepubliseer is.

Die sluitingsdatum vir voorleggings is 1 Maart. Die kortlys sal teen 15 Junie bekend gemaak word en die wenner sal op 1 Julie aangekondig word.

Navrae kan gerig word aan Ronel de Goede (Foster), sameroeper van die pryskomitee, by rf@sun.ac.za.

Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede

Fakture vir 2021 se ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word.

Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:

  • Anthony Penderis
  • Dianne Du Toit Albertze
  • Elmarie Viljoen-Massyn
  • Hannes Visser
  • Heléne van der Westhuizen
  • Henning Janse van Vuuren
  • Lydia Gittens
  • Zelda Mans

 

Nuwe tesourier

Ná ses jaar as PEN Afrikaans se tesourier het Naomi Bruwer aan die einde van 2020 die tuig neergelê, maar bly aan as ’n lid van die bestuur. Namens die res van die bestuur: baie dankie aan Naomi vir die groot werk wat sy deurgaans so goed verrig het. Die oudit verlede jaar was veral ’n buitengewone werkslas, met die impak van Covid-19 wat tot ellelange vraelyste en bykomende stappe gelei het. Dankie vir jou tyd, deeglikheid en integriteit, Naomi.

Izak de Vries is deur Marga Stoffer benoem om as tesourier oor te neem, ’n voorstel wat tydens ’n bestuursvergadering op 21 November 2020 deur die bestuur gesteun is. Izak het die aanstelling aanvaar en is met ingang 2021 ons nuwe tesourier. Baie dankie vir die bereidwilligheid, Izak, en by voorbaat dankie vir die samewerking.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Kyk gerus ook hier na ons oorsig van Desember 2020 se boekstories.

Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2021

Die stewige lys van nuwe Afrikaanse boeke wat in Januarie en Februarie verskyn het, voorspel goeie dinge vir ’n jaar vol boeke. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Ingrid Jonkerprys: Oproep vir inskrywings

Wednesday, February 3rd, 2021

 

 

 

DIE INGRID JONKER-PRYS VIR AFRIKAANSE POËSIE 2021

(DIGDEBUTE MET ISBN)

Digters of hul uitgewers word uitgenooi om in te skryf vir die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie van 2021.

Voltooi asb die aangehegte inskrywingsvorm en besorg dit saam met drie eksemplare van die digdebuut wat in die jare 2019 of 2020 verskyn het en volgens die reglement (hierby aangeheg) vir die Ingrid Jonker-prys in aanmerking kom, aan:

 

Die Ingrid Jonker-pryskomitee

P/a Protea Boekwinkel

Bergzicht Plaza

Andringastraat

Stellenbosch

7600

Stuur dit asseblief per koerier, nie gewone pos nie; of lewer die pakkie af.

E-pos asseblief ook die inskrywingsvorm aan die sameroeper van die komitee, Ronel de Goede (Foster), by: rf@sun.ac.za

Let asb op dat die Protea Boekwinkel slegs as ontvangspunt van die bundels dien. Navrae moet nie aan Protea gerig word nie, maar aan Ronel de Goede. Die komitee is groot dank verskuldig aan die Protea Boekwinkel.

Die sluitingsdatum vir voorleggings is 1 Maart. Die kortlys sal teen 15 Junie bekend gemaak word en die wenner sal op 1 Julie aangekondig word. Inligting oor die prysoorhandiging sal later beskikbaar gestel word.

 

 

 

 

Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie

Inskrywingsvorm 2021

(vir Afrikaanse debuut-digbundels met ’n ISBN wat in 2019 of 2020 gepubliseer is)

 

Lees asb die reglement* deur om seker te maak dat u bundel kwalifiseer.

Digter: Van en naam: ………………………………………………………………………………………………..

Bundeltitel: ……………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………….

ISBN: ………………………………………………………………………………………………………………………….

Uitgewer: …………………………………………………………………………………………………………………..

Kontakbesonderhede:

E-posadres van uitgewer: ………………………………………………………………………………..

Telefoon-/selnommer van uitgewer: ……………………………………………………………….

E-posadres van digter: ……………………………………………………………………………………..

Telefoon-/selnommer van digter: ………………………..…………………………………………..

Hierdie inskrywingsvorm moet saam met drie eksemplare van u bundel besorg word aan:

Die Ingrid Jonker-Pryskomitee

P/a Protea Boekwinkel

Bergzicht Plaza

Andringastraat

Stellenbosch

7600

Stuur dit asseblief per koerier, nie gewone pos nie; of lewer die pakkie af.

Stuur asseblief ook die inskrywingsvorm aan die sameroeper van die komitee, Ronel de Goede, by: rf@sun.ac.za

Let asseblief op dat die Protea Boekwinkel slegs as ontvangspunt van die bundels dien. Navrae moet nie aan Protea gerig word nie, maar aan Ronel de Goede. Die komitee is groot dank verskuldig aan die personeel van Protea.

Die sluitingsdatum vir inskrywings en vir die ontvangs van die bundels is Maandag 1 Maart 2021.

*Die Reglement is hierby aangeheg.

 

 

 

 

Ingrid Jonker-prys

Reglement

Tydens haar “tweede begrafnis” in Julie 1965 het vriende van die jong en geliefde digteres Ingrid Jonker besluit om ʼn prys met haar naam vir debuutdigters uit te loof. Skrywers en vriende het geld bygedra, en die uitgewers en skrywers het alle inkomste uit die boeke In memoriam, Ingrid Jonker en Die Sestigers geskenk. So is die Ingrid Jonker-prysfonds gestig.

Die prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die prys word slegs vir ʼn werk met ʼn ISBN toegeken wat gedurende die twee jaar voor die jaar van beoordeling verskyn het. Dit wil sê, vir die 2021 Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie kom bundels in aanmerking wat in 2019 en 2020 gepubliseer is.

  1. Geen gesamentlike toekenning mag gemaak word nie (met ander woorde: die prys kan nie gedeel word nie) en ʼn digter kan slegs een maal vir die prys in aanmerking kom.
  2. Debuutbundels wat deur Suid-Afrikaanse uitgewers gepubliseer word, kom in aanmerking vir die Ingrid Jonker-prys.
  3. Slegs digters met Suid-Afrikaanse burgerskap, of digters met óf permanente verblyfreg óf vlugtelingstatus wat in Suid-Afrika woon en werk, sal vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.
  4. ʼn Digter wat reeds ʼn bundel in Afrikaans gepubliseer het, kan nie daarna ʼn Engelse bundel voorlê nie, en omgekeerd. Vertalings sal ook nie vir die prys in aanmerking kom nie. Indien ʼn skrywer egter reeds boeke in ander genres (prosa of drama) gepubliseer het en dan ʼn eerste Afrikaanse of Engelse digbundel die lig laat sien, kan hy/sy wel vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.
  5. ʼn Bundel wat gedigte/tekste in Engels en Afrikaans bevat, mag wel voorgelê word. Die uitgewer sal egter in so ʼn geval moet besluit of die bundel vir die Afrikaanse of Engelse prys voorgelê word – ʼn bundel kan net een keer voorgelê word.
  6. ʼn Tweetalige komitee van vyf lede (bestaande uit sowel gepubliseerde Afrikaans- as Engelssprekende digters) vergader wanneer nodig. Ten minste twee van die vyf lede moet Engelse of Afrikaanse digters wees.
  7. Indien ʼn komiteelid bedank, wys die komitee ʼn ander lid aan. Die komiteelede moet almal gepubliseerde digters wees.
  8. Die komitee wys drie beoordelaars aan. Die beoordelaars moet ook almal gepubliseerde digters wees – die Ingrid Jonker-prys is ʼn  prys van digters aan digters.
  9. Alle meedingende bundels word deur die betrokke uitgewers/digters goedgunstiglik aan die drie beoordelaars geskenk, een eksemplaar vir elkeen.
  10. Die beoordeling vind so spoedig moontlik ná ontvangs van die bundels plaas.
  11. Elke beoordelaar kies drie topbundels. Die bundel wat eerste geplaas word, kry 5 punte, die tweede plek 3 punte, en die derde plek 1 punt.
  12. Elke beoordelaar skryf ʼn kort verslag oor die bundel wat hy of sy eerste geplaas het.
  13. Die bundel wat altesaam die meeste punte van die drie beoordelaars ontvang het, wen.
  14. Tot en met die puntetoekenning, sal die beoordeling vertroulik en individueel geskied. Voor die puntetoekenning mag geen gesprek tussen die beoordelaars gevoer word nie.
  15. In die onwaarskynlike geval van ʼn gelykop-uitslag kies die beoordelaars tussen die twee bundels wat ewe veel punte ontvang het.
  16. Indien die werke volgens die meerderheid van die beoordelaars (dit wil sê twee uit drie) nie op peil is nie, word geen prys toegeken nie.
  17. Indien slegs een bundel in ʼn gegewe jaar ter beoordeling voorgelê word, sal daar steeds drie beoordelaars aangewys word. Sou die meerderheid van die drie beoordelaars meen dié bundel is bekroningswaardig, sal die prys toegeken word.
  18. Die prys behels die rente van die Ingrid Jonker-prysfonds. Die belegging kan te enige tyd deur skenkings aangevul word, maar die prys is ʼn onafhanklike een. Borgskappe deur instansies wat kommersiële belange deur hul borgskap wil bevorder, is dus nie wenslik nie.
  19. Die prys word by ʼn gepaste publieke geleentheid oorhandig.