Marlise Joubert
![]() Marlise Joubert Marlise Joubert is op Elim naby Levubu in Limpopo gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan later op Warmbad (nou Bela Bela) in die Waterberge en verwerf ’n B.A. (Bibl.)- en Honneursgraad in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Sy word bibliotekaresse by verskeie instansies. Na 16 jaar by die Departement Beeldende Kunste se biblioteek van die Universteit van Stellenbosch, werk sy vir vyf jaar in Protea Boekwinkel op Stellenbosch. In 1971 debuteer Joubert met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Daarna volg nog nege digbundels. bladspieël (2015) word in 2016 genomineer vir die Elisabeth Eybers Poësieprys, asook die ATKV Woordveertjie vir poësie. Haar negende bundel grondwater (2019) word bekroon met die ATKV Woordveertjie vir Poësie in 2020, sowel as die SALA Poësieprys vir ’n Afrikaanse digbundel. Haar jongste bundel Disteltyd verskyn in 2021 by Protea Boekhuis. Joubert het ook drie romans gepubliseer. Sy skryf ook verskeie radiodramas en is reeds vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisies. Van haar kortverhale het in verskeie tydskrifte verskyn. Sy is ook die samesteller van In a burning sea, ‘n uitgebreide bloemlesing met 30 Afrikaanse digters se verse wat in Engels vertaal is. Sy skryf, skilder en vertaal kinderboeke tans voltyds. Lees meer oor Marlise Joubert se skilderkuns, asook skryfwerk op haar webtuiste. |
Eikendal-blues
i
die herfsoggend is opgevang
soos koel glas teen die wang
my beminde trek sy grys baadjie aan
my beminde bedek sy bors
met ‘n swart hemp
kristalblou is die lug die berge
roerlose versamelings van klip
en gister se fynbos vernis
ons koers na die wynplaas toe
om ‘n middagmaal te geniet
in die Bayede-restaurant –
Heil die Koning aan die rand
van ‘n neergevelde seisoen
ligte skadu’s beweeg deur die dal
en wingerde trek groen mantels
om die appelgeel skouers weg
op ‘n ander kontinent word die blare
deursigtig lemmetjiegroen
met weerlose naels krap hulle
teen die opmars van nog ‘n lente in
hier sit my lief en ek by ‘n wankeltafel aan
vlak by die gladde skild van ‘n dam
ons eet mossels en kabeljou
terwyl die grond iewers in die land
plek-plek versuip in bloed
Heil die Koning en die vyand
kan kom ons wag hom in
ii
die dam maak plotseling ‘n oog
in die middel oop gestippel
met spierwit eende hulle vere
saamgebondelde kussinkies van vrede
op ‘n ander kontinent
word die eerste voëls nou wakker
ek kyk na die eende op die swart dam
ek probeer om wys te word –
hulle dink nie aan die dood
of die dag van môre nie
hulle dink gewoon aan niks
my lief en ek praat oor dominante kulture
en die swig voor die swaard
terwyl hy kyk na ‘n jong paar wat lag
na toeriste of kelners met borde
die spel van kinders onvermoeibaar
tussen knoetserige eike deur
iii
ek sou die gedagtes oor ons droewige
verganklikheid wil uitwis ek sou wil
wys word en vry soos die drywende
eende met asems wat sáám kan swem
oor die donker koue van water
hoe sag my beminde in sy vel
hoe beeldryk die lyn van sy nek
hoe innig en verleë die boog van sy lip
op ‘n ander reis begin die blare uitglip
terwyl die berge blou vaandels rangskik
vlak bokant die vergeelde wingerd en niks
niks treur ooglopend
op hierdie dag nie –
neste roer in die wind
die wit refleksies in die dam
sleur ongesiens onder
‘n wilgerboom in
my beminde het ‘n swart hemp aan
só moet ek dit onthou –
agter hom die bleek rug
van ‘n wynkelder en die kleur
van herfs wat sandsuiker
die ylerwordende hare deur
op ‘n ander kontinent verblind
die blare die horison
Heil die Koning
en die vyand kan kom –
ons wag hom in
© Marlise Joubert. April 2011
(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011).
[in memoriam: lisbé]
“That’s when she stopped, she turned her face to the wind, shut her eyes -“
Jorie Graham
dit was nie nodig dat staal haar skraal lyf moes verskeur
dit was nie nodig dat soveel geweld herhaaldelik
moes inhamer nie –
sy het reeds gegroet voordat sy die inferno van bloed betree
voordat die geskroefde hand van ‘n moordenaar
haar in water gooi en vlug
sy het reeds afskeid geneem vóór die aankoms by haar huis
sy het reeds haar kinders voor skool gegroet
die kleur van die seun se hemp en die kleur
van sy wakende oog
reeds die skooljurk van haar dogter in dun
skouertjies teen verweer gestreel
reeds ‘n tree agteruit in haarself beweeg
terug in die breekskelet van ‘n droom
‘n stem wat sou roep
duskant die aardse kleed van die oggenson
sy het reeds gesterf
in die oomblik toe sy haar man op ‘n stasie groet
wat hom verder neem met niks behalwe
die gewig van herinnering
aan hulle
en háár veral
die geluk so naaldpunt dun gebalanseer
op elke horison wat teen die treinvenster glim
die berg wat nader groter word en met haar hart
in sy geheue so onverklaarbaar lig
soos asem op die tong kom lê
reeds was die afskeid daar
toe sy omdraai en huiswaarts keer
verdonker in die laaste magiese stilte van rus
wat sonder woorde sonder tyding sonder enige vermoede
vóórtydig
die klein avondmaal
van haar liggaam
skrikwekkend deurboor
(Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)
melkbosstrand
duine sit borselkoppe bymekaar.
luister, luister hoe raas hoe sloep
die branders lang stremsels melk aaneen.
die watervoëls swenk uit die wind
klap vlerke teen die somerskuim.
ongemerk skuif die duine hulle heupe weg.
veraf uit die mis wasem en breek
eers die drawwers dan die perde met ruiters.
en alles begin galop oor die strand teen ‘n son
wat sy brandende skip dieper laat sink.
goud kleur grys na rooskwarts jogurtwolk.
‘n hond sleep ‘n seewierarm op die sand.
links rys tafelberg op soos ‘n kasteel
uit die sirkelgragte vol dralende rook.
regs staan koeberg stil op kernkrag
sing atome onhoorbaar deur die lug.
uit die lappie uitgeduinde sand
voor ‘n wye huis stoot mielies orent.
word blare bokkomdroog gebroei.
‘n vrou pluk lang vingers groenboontjies af
braai die sondag-geelstert in suurlemoen
lag en drink vonkelwyn met ‘n perskegeur.
ek kyk na dowwe figure met kinders al slenterend
en honde in die louwarm skemer emmersvol
verspil teen huise reeds verlig. nog ‘n hings
breek ritmies deur en verdwyn opeens in room.
vensters en skuifdeure staar met vaal
glasoë terug. die dreuning van ‘n boot
versink. twee stoeltjies word opgevou.
koeberg splits donker af teen die maan.
minnaars omhels en kloof uiteen.
in tafelberg se kasteel blaas
iemand kerse dood.
(Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)
waarskuwings
ek moet jou waarsku teen die wind wat roer
die wind wat die hare van gordyne roer
ek moet jou waarsku teen die strooisel vere
wat die tarentale op ons werf kom los
ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels
kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer
in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku
teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang
want hulle blink verniet
ek moet jou waarsku
teen die maan se mistige oog
die son se roomwang teen jou gesig
ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer
met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai
ek moet jou waarsku
teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug
teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos
teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad
ek moet jou waarsku
teen my kissie van roospapier
waarin al my juwele is die krabbers die hangers
en die ringe van topaas
ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie
minder as woorde minder as water minder as brood
want die liefde het net oë vir mekaar
liefde is sonder bril in mekaar
liefde is oë vasgewaai inmekaar
liefde is sonder alles omheen
liefde is ‘n dennewoud
liefde is ‘n beurende dennewoud
waar die boskapper
onverpoos kap
ek moet jou waarsku
Uit: passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007