
Resensie: Atrium deur Marlise Joubert, Protea Boekhuis, 2025.
Resensent: Janien Linde, NWU, janien.linde@nwu.ac.za
Om ʼn versamelbundel te resenseer is vir verskillende redes ’n uitdagende projek. In die eerste plek bevat ʼn versamelbundel gedigte uit bundels wat reeds by publikasie geresenseer is. Dit beteken dat die verse in die versamelbundel nie “vars” en ongeresenseer is nie. Die risiko bestaan dus dat ʼn mens bloot bestaande resensies napraat. Tweedens word versamelbundels as ʼn reël vergesel van ʼn voorwoord deur die samesteller waarin moeite gedoen word om die werkwyse wat met die saamstelproses gevolg is, te verantwoord. Daar is dus reeds deeglik besin oor die keuse van verse wat ingesluit is en die bundelstruktuur waarop besluit is. Resenseer ʼn mens dus die digter en haar werk, of eerder die samesteller se versamelkeuses? Moet ʼn mens die digter se hele oeuvre gaan herlees om te bepaal of die samesteller goeie en sinvolle keuses gemaak het, en die resensie dan baseer op hoe geslaagd die poging was, vanuit die resensent se oë? Of probeer ʼn mens eerder om die versamelbundel as losstaande, outonome versameling gedigte te benader en dit te resenseer vir wat die bedoeling daarmee is?
In hierdie resensie poog ek om, in die lig van bogstaande, die volgende twee sake aan te roer: die samesteller se samestellingstrategie en -keuses; en die bundel as unieke publikasie, binne die konteks van die digter se hele oeuvre, maar veral as outonome teks met eie oogmerke. Alhoewel die bundel ʼn samestelling is van ʼn spesifieke digter se gedigte, en dus ʼn weerspieëling is van die digter se unieke poëtika, vertel die samestelling ook ʼn verhaal wat los van die digter staan aangesien sy nie die een was wat die seleksies gemaak het en die struktuur bepaal het nie. Daar is ander “akteurs” betrokke by die ontstaan van ʼn versamelbundel as by ʼn eenheidsbundel. In laasgenoemde geval werk die digter, haar redakteur en uitgewer nou saam om eerste weergawes van gedigte te verfyn en dan op gestruktureerde manier byeen te bring. In die geval van ʼn versamelbundel staan die digter effens op die agtergrond, en die meer objektiewe oog van die samesteller en uitgewer is bepalend. Die gedigte wat geselekteer word, word ook gewoonlik in die vorm ingesluit waarin dit eerder gepubliseer is. Daar vind dus geen verfyning of herskrywing van die gedigte self plaas nie.
Met Atrium was De Wet se oogmerk om lesers bekend te stel aan Joubert se poësie soos ʼn mens ʼn gas in ʼn huis verwelkom en op ʼn klein toer deur die vertrekke begelei. Die titel, Atrium, so verduidelik De Wet in die voorwoord, kan immers verstaan word as voorportaal, binneruim, voorkamer, binnekamer en/of uitstalruimte. Die titel, deur Joubert self gekies, belig die hele verskeidenheid verwysingsvelde rondom die woord ‘huis’ (of “domus”) wat in Joubert se oeuvre nagespeur kan word. De Wet dokumenteer en beskryf die omvang van hierdie verwysingsvelde deeglik in haar voorwoord. Die woord, ‘atrium’, verwys natuurlik ook na die boonste twee kamers van die menslike hart. Hiermee word ʼn verdere relevante verwysingsveld geopper, naamlik liefde en al die metaforiese konnotasies wat met die woord ‘hart’ gepaard gaan. Die struktuur van die versameling vind sterk aansluiting by die metaforiese ruimtes van huis en hart: die bundel bevat naamlik seleksies uit al elf Joubert se gepubliseerde bundels, chronologies uitgepak. De Wet verduidelik dat Joubert se oeuvre in geheel gelees kan word as ʼn poëtiese narratief van die digter se persoonlike lewensverloop met verwysings na verhoudings, reise, kinders, ouderdom, aftakeling, versorging en kennismaking met die dood.
De Wet gaan distillerend met Joubert se oeuvre te werk: sy bied vir die leser ʼn versnit van gedigte uit ʼn omvangryke oeuvre. ’n Mens sou kon argumenteer dat dit ʼn subjektiewe proses is, dat De Wet se seleksie spreek van wat sý raaksien, en dat ander tematiese en verstegniese aspekte moontlik agterweë kan bly. Die punt van ʼn versamelbundel is egter nie volledigheid nie, maar eerder kondensering: om ʼn verskerpte blik te bied op die sterkste verse, die belangrikste temas en motiewe, en die noemenswaardigste poëtiese insigte uit ʼn digter se oeuvre.
De Wet se samestelling is in hierdie opsig uiters geslaagd. Die leser wat onbekend is met Joubert se oeuvre sal ʼn stewige en weloorwoë oorsig kan kry oor die werk van ʼn uiters produktiewe digter, van haar debuut en jeugwerk, regdeur die reeks bundels uit verskillende lewensfases, tot by haar sterk laatwerk, waarvoor sy waarskynlik die bekendste is. Nege nuwe gedigte wat nog nie voorheen gepubliseer is nie, word as laaste afdeling ingesluit. Daarmee saam gee die inleiding, met die veelbetekenende titel, “Die bladspieël van bestaan” uit die gedig “Ontmoetings” (bl.183-185), vir die leser al die gereedskap wat hulle nodig sou hê om die bundel ten volle te kan ervaar en geniet. Die inleiding begin met relevante, dog bondige biografiese inligting oor die digter, en beweeg dan vinnig aan inligting wat meer relevant is vir die leser van poësie, naamlik die literêre konteks waarbinne Joubert se oeuvre verstaan behoort te word. Joubert debuteer op die jeugdige ouderdom van 24 (in dieselfde jaar as Antjie Krog, Sheila Cussons en Wilma Stöckenstrom), en is uiteindelik verantwoordelik vir ʼn oeuvre wat oor vyf dekades strek. Sy word genoem saam met die belangrikste, baanbrekende Afrikaanse vrouedigters van haar generasie: Cussons, Stöckenstrom, Krog, Jeanne Goosen, Lina Spies, Rika Cilliers, Marlene van Niekerk, Petra Müller en Eveleen Castelyn. Haar poësie lewer ʼn noemenswaardige bydrae wat die vroulike perspektief in die Afrikaans poësie betref.
Daarna gee De Wet ʼn volledige bespreking van die bundel in geheel. Hiermee doen sy inderwaarheid reeds die werk wat ʼn resensent sou doen: kontekstualiseer die bundeltitel en lig die betekenismoontlikhede daarvan uit; bespreek die struktuur van die bundel; bring die versameling in verband met die verskillende bundels in die digter se oeuvre, sowel as met die verskillende fases van die digter se lewe wat in die gedigte weerspieël word; bespreek die belangrikste temas en onderwerpe (liefde, tuishoort, reis, die natuur, die liggaam, liefde en erotiek, verganklikheid en ouderdom, versorging, verhoudings, vroulikheid en moederskap); gee inligting oor stilistiese en poëtikale aspekte soos die invloed van die beeldende kuns op hoe Joubert digterlik te werk gaan; en wys die intertekstuele gesprekke met ander digters uit wat in haar poësie geaktiveer word.
Atrium is ʼn belangrike versamelbundel wat in sommige opsigte ook as ʼn tipe huldigingsbundel beskou kan word. Soos die huldigingsbundels oor Hertzogpryswenners wat deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee word, is ʼn versamelbundel van een digter se werk ʼn manier om die belang en invloed van daardie digter uit te lig en te vier. Die Akademie se huldigingsbundels het hoofsaaklik ten doel om navorsing oor ʼn gevierde digter, skrywer en of dramaturg se werk byeen te bring. ʼn Versamelbundel soos Atrium kan eweneens beskou word as ʼn tipe navorsingsprojek. Die papie roer en ek word digter (2023), ʼn versamelwerk van die werk van Ingrid Jonker, bevat ook as inleiding ʼn deeglike stuk kontekstualiserende navorsing oor die digter en haar werk, geskryf deur die akademikus Louise Viljoen. Atrium, met sy inleiding deur gesoute navorser, Karen de Wet, is ʼn soortgelyke publikasie. Behalwe dat beide hierdie tekste vir die leser ʼn gekondenseerde, toeganklike eerste toetrede tot die digters se onderskeie oeuvres bied, gee dit ook telkens ʼn padkaart vir daardie oeuvres, gebaseer op deeglike navorsing en beleë leeservaring. Só gesien, word Atrium dus ʼn tipe naslaanwerk waarheen navorsers kan (terug)keer wanneer Joubert se oeuvre bestudeer word, terwyl dit ook gewoon ʼn heerlike leeservaring verskaf.
ʼn Versamelbundel dra verder by tot die proses van kanonisering van ʼn digter en haar werk binne ʼn bepaalde literêre tradisie. Atrium wys naamlik dat Joubert as produktiewe digter noemenswaardig is binne die Afrikaanse poësiekonteks, en dat daar waarskynlik meer kennis van haar geneem behoort te word. Haar oeuvre beslaan immers 11 bundels vandat die eerste, ʼn Boot in die woestyn, in 1970 gepubliseer is. Haar mees onlangse bundel, Laatnageilande (2023), is 53 jaar ná haar debuut gepubliseer, wat haar in dieselfde kategorie as Antjie Krog plaas wat produktiwiteit en poëtiese volharding betref. Met hierdie versameling word haar bydrae tot die Afrikaanse poësie bevestig en bestendig.
As boek is Atrium uiters aantreklik en netjies deur Protea Boekhuis uitgegee. Die kleurskema van die buiteblad, die foto’s wat ingesluit is, die setwerk, en die teksversorging is van hoogstaande gehalte en getuig van sorg en deeglike oorweging. Dit is ʼn bundel wat nie net goed sal lyk op ʼn liefhebber van die Afrikaanse poësie se rak nie; dit sal ook ʼn beduidende literêre bydrae daartoe maak.
Atrium verskyn in 2025, die jaar waarin Marlise Joubert 80 jaar oud word. ʼn Week na haar verjaarsdag sê sy in ʼn onderhoud met AJ Opperman (2025) dat die bundel vir haar “soos ʼn geskenk vir haar 80ste” is. Vir Opperman sê sy dat sy nie nog ʼn bundel wil uitgee nie, en dat Atrium vir haar voldoende is. ʼn Mens kan dus die afleiding maak dat dié versamelbundel vir haar ʼn tipe sluitstuk is, ʼn mooi voltooiing vir haar digterlike loopbaan.
As samevatting van die “bladspieël van (Joubert se) bestaan”, haal ek die aangrypende slotgedig van die bundel, “Leefboek” (p.246), aan:
soggens tot saans skryf ek my boek
op die vlerkspan van ʼn reiswit geheue
skryf ek my boek
en die vlerke is wyd soos vergeetlikheid
wyer as verlede, wyer as die stille oseaan
geheue dra klipswaar
aan die boek wat ek skryf
swaarder as goud in argiewe
swaarder as al die berge saam
alles drup soos bloedblou ink
uit die dekades van geskiedenis, sypel
weg in die grond waarop ek staan
soggens tot saans skryf ek my boek
op die windbeweging van ʼn arend
so wyd soos die namib-woestyn
wyer as die rugkant van die kalahari –
ek skryf en skryf aan die boek wat miskien
met die dood van my hand sal skyn
soggens en saans skryf ek my boek
al ritsel die bladsye reeds met die vleuels
van ʼn uitgedoofde voël wat nooit ʼn enkele
lied in enige nes sal publiseer nie
want die boek wat ek skryf
is net ʼn ontruiming vir asemhaling
verskans in ʼn woord
en ek die laaste leser
Bronnelys:
Opperman, AJ. 2025. Marlise Joubert se bloemlesing soos ’n present vir haar 80ste. https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/marlise-joubert-se-bloemlesing-soos-n-present-vir-haar-80ste-20251219-1155#google_vignette Datum van gebruik: 12 Jan. 2015
