Posts Tagged ‘Gustav Mahler’

Desmond Painter. Freud en Mahler in Leiden

Tuesday, November 23rd, 2010
Gustav Mahler

Gustav Mahler

‘n Honderd jaar gelede, op 26 Augustus 1910 om presies te wees, het die komponis Gustav Mahler en die psigoanalis Sigmund Freud mekaar in Leiden ontmoet. Dit was ‘n professionele afspraak: Mahler het huweliksprobleme ondervind (sy vrou het ‘n buite-egtelike verhouding gehad) en hy wou hieroor, en oor sy emosionele toestand oor die algemeen, by Freud om raad aanklop. Freud was op daardie stadium op vakansie in die omgewing, en hulle het gerieflikheidshalwe afgespreek om in Leiden ontmoet — eerder as in Wene, beide mans se tuisstad. Vir vier uur lank daardie herfsoggend in 1910 het hulle dus deur Leiden se strate gewandel en intens gesels — of, meer waarskynlik dalk, Mahler het gepraat en Freud het geluister… 

Sigmund Freud

Sigmund Freud

Om hierdie historiese ontmoeting te herdenk het die komponis David Matthews en psigoanalis Anthony Cantle mekaar onlangs ook in Leiden ontmoet. Hulle het vir ‘n paar uur lank in Freud en Mahler se voetspore geloop en gereflekteer oor musiek, psigoanalise, en wat die ontmoeting ‘n honderd jaar gelede vir Mahler en Freud onderskeidelik beteken het.

Die resultaat van Matthews en Cantle se ontmoeting is ‘n fassinerende radiodokumentêr, en jy kan dit tans nog op BBC Radio 3 se webblad hoor — maar nog net tot Sondag, so moenie te veel huiwer nie! In die agtergrond hoor jy grepe uit Mahler se onvoltooide tiende simfonie, die werk waarmee hy ten tye van die ontmoeting besig was.

Desmond Painter. Mahler se jare

Tuesday, May 4th, 2010
Gustav Mahler

Gustav Mahler

Die komponis Gustav Mahler is in 1860 gebore en in 1911 oorlede. Hierdie jaar is dit dus die 150ste herdenking van sy geboorte, en volgende jaar die 100ste herdenking van sy dood. Daar wag dus ‘n fees van Mahler opvoerings, opnames en heruitreikings vir diegene wat in sy musiek belangstel!

Ek moet bieg (bieg ‘n mens nog oor sulke goed?) dat ek nog nooit regtig werk gemaak het van Mahler nie. Daar is geen noemenswaardige rede hiervoor nie: die tyd en die geld het tot nou maar net ontbreek, of ander dinge het op my aandag aanspraak gemaak. Verder het ook nooit regtig geweet waar om te begin nie: watter simfonie eerste, en wie se opname?

Die tyd vir my konfrontasie met Mahler het egter nou uiteindelik aangebreek. Ek het ‘n spesiale aanbod op Mahler-produkte op die internet raakgeloop, en beluit om ‘n boksie met al sy simfonieë (insluitende die 10de, voltooi deur Deryck Cooke) aan te skaf. Die pragtige stel is pas vanmiddag by my kantoor afgelewer, en teen ongeveer R320 vir 12 CD’s en dus amper 13 uur se musiek (as julle nie sal omgee dat ek nou banksake praat nie) het ek van oor tot oor geglimlag.

Ek moes natuurlik kies tussen die ouer, bekende stelle soos die van George Solti, Leonard Bernstein en Simon Rattle, en ‘n paar van die meer onlangses. Na lang oorweging het ek besluit om Riccardo Chailly en die Royal Concertgebouw Orchestra se DECCA stel te koop. Dit het oor die algemeen uitstekende resensies gekry, en dit klink asof dit ‘n baie goeie basis is om van te werk. Chailly is ‘n gerekende en vurige Italiaanse dirigent, en die manne en vroue van die Concertgebouw is een van die beste orkeste ter wêreld. ‘n Mens kan later alternatiewe opnames van individuele werke deur verskillende dirigente en orkeste kry om Chailly se interpretasies aan te vul.

  •